Dr. Pieter Mulder, leie van die Vryheidsfront Plus, het in 'n verklaring gesê: "Die dood van weerlose siekes en onskuldige babas as gevolg van die staatsdiensstaking, is die ergste vorm van selfsugtigheid. Dit getuig van uiters onprofessionele gedrag van Suid-Afrikaanse gesondheidswerkers. ’n Suid-Afrikaanse samelewing wat hierdie tipe voorvalle duld, is ’n samelewing in krisis met baie ernstige morele- en dissiplinêre probleme.
Wat ’n doodgewone staking oor salarisse behoort te wees, is besig om in ’n skande vir alle Suid-Afrikaners te ontwikkel. Geen salarisdispuut regverdig die dood van mense en die vernietiging van jong matrikulante se loopbane nie.
Uit die radikalisme van Cosatu-leiers wil dit al hoe meer voorkom of daar ’n verskuilde agenda agter die staking is. Cosatu-leiers het reeds hulle frustrasies met president Zuma uitgespreek omdat hy nie hulle beleidsrigtings wil volg nie. Na sy verkiesing as president met Cosatu se hulp, het hulle geglo dat hy dit aan hulle verskuldig is. Tot watter mate word onskuldige staatsdienswerkers nou ingespan om die magstryd tussen Cosatu- en ANC-leiers op hierdie wyse te probeer besleg?
Dit is tragies dat die slagoffers van hierdie stryd tans onskuldige babas, weerlose siekes en jeugdige skoolleerlinge is. Die Vryheidsfront Plus eis dat verskuilde agendas opsy geskuif word en dat ’n werkbare oplossing so vinnig as moontlik gevind sal word in belang van almal in Suid-Afrika."
| < Vorige | Volgende > |
|---|





