Afrikaanse skole in Johannesburg, wat hoofsaaklike deur blanke Afrikanerkinders bygewoon word, is gister en vandag deur stakende swart onderwysers geïntimideer om nie langer met klasse voort te gaan nie. Vir die eerste keer in die geskiedenis is Afrikaanse skole gesluit verklaar, met onderwysers wat meesal nog op die terrein was maar kinders wat huis toe gestuur is.
Gister is die Laerskool Fairland, Hoërskool Linden, asook Unika-laerskool om veiligheidsredes gesluit verklaar. Vandag is die meeste skole steeds gesluit, met Bryanston Parallelmedium (die vorige Laerskool Bryanston) wat 'n omsendbrief aan ouers uitgestuur het dat die skool vandag "om veiligheidsredes... voorlopig gesluit word". Die skool vra dat alle kinders by die huis gehou word en alternatiewe reëlings getref word.
Werkende ouers wie se kinders van die nasorgsentrum gebruik maak, is besonder verontrief en daar was verskeie klagtes.
By die Hoërskool Randburg het klasse gister normaalweg voort, maar hekke is gesluit en alle motors, ook van leerlinge, is binne die skoolterrein geparkeer en die hele skool was op 'n gereedheidsgrondslag om te reageer in die geval van probleme. Vandag gaan die skoolprogram ook normaalweg voort en die hoof , mnr. Booysen, het geweier dat leerlinge uit vrees eenvoudig "uitteken".
Radio Sonder Grense berig dat matrieks binnekort hul rekordeksamen skryf. Blykbaar gaan die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, met belanghebbendes vergader om moontlik die skoolrooster te hersien.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





