Die ACVV, 'n welsynsorganisasie wat in 1904 met Afrikanergeld begin is, word daarvan beskuldig dat sy kleuterskool op Kimberley spesifiek blanke kinders afskeep. Babas by die kleuterskool se doeke word slegs een keer per dag omgeruil.
Volgens een ouer, is "kruisinfeksies aan die orde van die dag en ouers bestee baie geld aan medikasie om hulle kinders op 'n manier gesond te hou. As die organisasie op so iets sou afkom, sou hulle met 'n helse bohaai so 'n kind uit sy/haar ouers se sorg verwyder, maar dit floreer reg onder hulle neuse."
Die ouer meen dat donasies aan die ACVV deesdae hoofsaaklik op gekleurdes uitgegee word en dat Afrikanerkinders daarom "die spit moet afbyt".
Daar word voorts beweer dat toesighouers nooit gedurende die dag hul hande was nie, wat verdere besmetting van kinders veroorsaak.
'n Enkelouer wat haar baba in die ACVV-kleuterskool op Kimberley se sorg gelaat het, se kind was in twee maande "nooit gesond nie". Volgens die moeder, wat anoniem wil bly, "was my kind se boutjies so erg verbrand omdat haar doek nie geruil is nie dat ek haar by 'n dokter moes kry. Alstesaam het ek oor slegs twee maande R3700 aan mediese kostes moes betaal omdat my kind so verwaarloos is. Ek kan u van die datums, tye en mediese rekords voorsien, indien nodig."
Sy het reeds by die hoof van die babakamer gekla, dog sonder gevolge. Ook klagtes by die bestuur van die ACVV in Kimberley het geen positiewe gevolge gehad nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





