Mbalula het in Johannesburg gepraat, tydens 'n inligtingsessie vir die media oor die Imvuselelo, die hernuwingsveldtog wat die ANC wil inspan om tot 'n miljoen geregistreerde lede in 2012 te vorder.
Mbalula het gesê: "Die ANC is onvernietigbaar ... Dit is veral Afrikaners wat by die ANC aansluit".
Hy kon nie presies sê hoe baie Afrikaners by die ANC aangesluit het sedert President Jacob Zuma die veldtog in Mei geloods het nie.
"Hoeveel Afrikaners ... ons nie dink ons beskik tans oor die inligting nie," het Mbalula geantwoord, maar het onderneem om die inligting beskikbaar te stel by die party se nasionale algemene raadsvergadering volgende maand.
Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, het gesê dit is belangrik vir die ANC om lede te werf wat alle rasse en taalgroepe insluit.
"Een van die waardes van die ANC is om 'n nie-rassige samelewing te bou ... hoe bou ons 'n Suid-Afrika wat vir almal is, as ons kan nie saamleef [met alle rasse] nie?"
Mbalula het gesê die ANC is besig om sy lidmaatskapdatabasis op te knap, waaruit dit blyk hulle het 1 800 000 lede, maar hierdie inligting is onbetroubaar en verouderd.
"Sommige van hulle het gesterf, sommige het oorgeloop na COPE ... ons is basies besig om die stelsel skoon te maak. Ons wil nie die dooies en diegene wat weg is, tel nie."
| < Vorige | Volgende > |
|---|





