Die VF Plus is moeg vir die UV se eensydige hantering van rassekwessies en eis daadwerklike optrede. Die VF Plus eis dat:
* Dringende en konsekwente optrede teen die studente geneem sal word;
* Dat die UV sal verskoning vra en erken dat 'n sekere groep aan die UV bevoordeel word;
* Dat 'n ondersoek na Villa Bravado geloods word en dat drastiese dissiplinêre optrede sal volg;
* Dat die Primarius en die Koshuishoof van Villa Bravado uit die UV geskors word;
* Dat 'n taakspan aangestel word om te ondersoek waarom die UV-bestuur, nou en in die verlede, onkonsekwent teenoor wit en swart studente opgetree het en dit reggestel word.
Die misnoeë spruit voort uit die hantering van die volgende voorvalle:
* In 2009 het die VF Plus-Kovsies 'n klagte by die UV gelê oor swart studente wat wit dames met klippe gegooi het en met verkragting gedreig het - die UV het niks daadwerkliks hieraan gedoen nie;
* Die UV het gedurende 2009 Armentum-manskoshuis se hele huiskomitee oor ontgroeningspraktyke geskors waarna die HK met regsaksie die UV se besluite moes laat herroep;
* In soortgelyke voorvalle is senior studente uit Karee-manskoshuis geskors;
* Die VF Plus-Kovsies het 'n klagte teen die SR-visepresident, Thabiso Letsoara, ingedien na beweerde rassistiese optrede onder die invloed van alkohol in die Kovsie-kerk, wat bitter swak deur die UV hanteer is. Letsoara het skotvry hiervan afgekom;
* Die Reitz-manskoshuis is na die Reitz-video gesluit en die belofte is gemaak om 'n diversiteitsentrum daar te vestig. Intussen is slegs 50 swart studente met Letuka-beurse vir rekeningkunde daar gevestig.
Die VF Plus is van oordeel dat hierdie video met verswarende omstandighede behandel behoort te word, aangesien die Reitz-video as 'n satire vervaardig was, maar hierdie video 'n ware ontgroening praktyk is waarin wit studente duidelik deur swart studente uitgesonder is. Wat egter onaanvaarbaar is, is die feit dat die UV-bestuur volgens Volksblad reeds in 2009 van hierdie video bewus was, maar nie daadwerklik opgetree het nie. Indien prof. Jansen sy geloofwaardigheid wil behou, behoort hy deursigtig en drasties op te tree, soos hy beloof het om in sulke gevalle te doen.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





