'n Tweede ontgroeningsvideo het aan die Universiteit van die Vrystaat opgeduik, hierdie keer met wit studente as die "slagoffers".
Dit toon vier wit studente by die oorwegend swart Villa Bravado-manskoshuis op wie water gegooi word. Hulle word aangesê om op een been te staan en later as vloerlappe deur swart studente op die vloer rondgetrek.
Studente het vroeër vanjaar die video onder die universiteitsbestuur se aandag gebring, en hulle het "met ontsteltenis" kennis geneem van die ontgroening, het die universiteit gister in 'n verklaring gesê. Die video is in Oktober 2009 gemaak.
Die dekaan van studentesake, Rudi Buys, het die primarius van die koshuis, Chris Nthakeni, geskors. Dissiplinêre maatreëls is ook teen die koshuishoof vir sy beweerde betrokkenheid ingestel.
Die UV het gesê hy glo dat dit nie 'n geval was van swart studente wat teen die wit studente opgetree het nie, aangesien swart lede van die huiskomitee dieselfde inisiasie ondergaan.
Die Vryheidsfront Plus Jeug aan die UV veroordeel die universiteit se hantering van die saak, gegewe sy "ekstreme" reaksies in die verlede jeens sulke gevalle.
"[Dit] toon dubbele standaarde," het die woordvoerder van die VF + Jeug, Wouter Wessels, in 'n verklaring gesê.
Hy sê die UV-rektor Jonathan Jansen het gewaarsku dat hy sal optree teen studente wat deelneem aan ontgroeningsaksies, en wou weet hoekom stappe "in die geheim" teen Nthakeni geneem is.
Nthakeni is nie, soos in ander gevalle, uit die universiteit of die koshuis geskors nie.
"Dit toon nie deursigtigheid nie," sê Wessels.
In die geval van die Reitz-video, is die studente onmiddellik geskors en die koshuis gesluit verklaar. Die vier voormalige UV-studente, wat 'n vernederende video met vier swart universiteitswerknemers by die Reitz-koshuis gemaak het, is verlede week met R20 000 beboet nadat hulle skuldig bevind is aan crimen injuria in die Bloemfonteinse landdroshof.
Wessels het gesê dat die hele koshuiskomitee van Armentum in 2009 geskors is ná ontgroenings. In dieselfde jaar is 'n student in die Karee-koshuis ook geskors.
In die verklaring het Jansen gesê hy hoop die Villa Bravado-geval was die laaste van ontgroenings.
"Die UV kommunikeer duidelik en gereeld aan studente dat ontgroenings streng verbode is."
| < Vorige | Volgende > |
|---|





