Roodt, wat as reisende ambassadeur vir Afrikanerbelange tans in Israel verkeer, het gesê: "Tutu is skynheilig, want terwyl hy Palestynse selfbeskikking ondersteun, word Afrikanerselfbeskikking en Afrikanerregte in Suid-Afrika vertrap en daaroor swyg hy in alle tale."
Volgens PRAAG was "ekonomiese sanksies teen die vorige Afrikanerregering wat deur Tutu en die Statebondsleiers bepleit is, slegs die voorspel tot die stukturele volksmoord wat daar tans teen die Afrikanervolk gepleeg word". Roodt het Tutu getipeer as "'n pro-Arabiese, anti-Semitiese propagandis wat die vernietiging van Israel en die Joodse volk in die oog het".
Roodt meen dat sowel Tutu as die Anglikaanse kerk 'n sleutelrol gespeel het in die proses om die Afrikanervolk van sy soewereiniteit en vryheid te ontneem en hy wil dieselfde strategie nou teen Israel herhaal.
Hy het 'n beroep op Afrikaners gedoen om Israel sigbaar in sy huidige oorlewingstryd te onderskraag, terwyl hy insgelyks die Joodse gemeenskap in Johannesburg gevra het om die Afrikaner se stryd om die herstel van sy regte en soewereiniteit in Suid-Afrika op tasbare wyse te ondersteun.
"Sedert die tyd van Paul Kruger, het die Afrikanervolk nog altyd in harmonie en broederskap met Jode saamgeleef en gedurende die twintigste eeu was Israel een van ons getrouste bondgenote. Ons wil ons solidariteit en vriendskap met Israel bevestig, asook die reg van Jode op hul voortreflike en vooruitstrewende volkstaat."
Roodt het gister 'n besoek aan die oustad van Jerusalem, waaronder die Tuingraf en die Klaagmuur, gebring. Sy besoek geniet wye mediadekking in die Heilige Land en benewens 'n onderhoud met die Israelse staatsradio in spitstyd en 'n Russiestalige TV-kanaal wat in die land en in Europa uitsaai, is personderhoude steeds aan die gang. Hy sal vandag in Tel Aviv verdere TV-onderhoude voer.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





