Hy beskou die optrede van die doeanebeamptes as 'n "bietjie van 'n grap".
Hoewel die voorval toe die beamptes hom met die £600?000 (sowat R7 miljoen) in banknote voorgekeer het al 'n jaar gelede gebeur het, het dit nou eers aan die lig gekom.
Wiese se reaksie volg op 'n berig in die internetkoerant MoneyWebdat Britse beamptes dié bedrag in April 2009 by Wiese gekonfiskeer het.
Britse regulasies bepaal 'n mens moet kontant van meer as €10 000 aan doeanebeamptes verklaar indien jy daar aankom van 'n land buite die Europese Unie (EU), of as jy Brittanje verlaat en direk na 'n land buite die EU reis.
Wiese het egter aan Sapa gesê hy was besig om die geld van sy veiligheidsdepositokas in Londen na een in Luxemburg te neem en dat albei EU-lidlande is.
"As ek die geld in 'n bank gehad het, kon dit oorgedra word."
Hy het gesê die saak is in die hande van sy Britse prokureurs en dat 'n verhoor oor die terugbetaling van die geld in November gehou sal word.
"Ek het die geld Luxemburg toe geneem, aangesien ek weer wou begin handel dryf ná die bankkrisis," het Wiese gesê.
Hy het gesê die saak was 'n burokratiese brouspul en dat doeanebeamptes hom geen rede gegee het vir hul beslaglegging van die geld nie.
"Maar my prokureurs wil nie hê ek moet 'n verhoor in die media laat afspeel nie."
Gevra of dit verstandig is om sulke groot bedrae geld rond te dra, het Wiese gesê hy is gewoond daaraan, aangesien hy 30 jaar gelede in die diamantbedryf was.
"Ek is positief ek sal die geld terugkry. Ek is nooit in hegtenis geneem nie. Hulle het gesê ek kan maar gaan, solank ek die geld daar los."– Sapa
| < Vorige | Volgende > |
|---|





