praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Afrikaanse nuus VF+ verwelkom Grootfontein se taalbeleid

VF+ verwelkom Grootfontein se taalbeleid

E-pos Afdruk PDF
Na die voorneme om hoofsaaklik Engels die onderrigtaal aan die Grootfontein Landboukollege te maak, verwelkom die Vryheidsfront Plus die skikking wat bereik is om Afrikaans en Engels gelyke status aan die kollege te gee.

Dit volg na die VF Plus en dr. Pieter Mulder, as leier van die VF Plus en adjunkminister van Landbou, aan die begin van Mei 2010 hewig beswaar gemaak het teen die voorgenome verandering van die huidige Afrikaanse taalbeleid na Engels as die primêre taal. "Die VF Plus is dankbaar vir die volwasse wyse waarop die studente en die bestuur aan die Grootfontein Landboukollege die situasie hanteer het en in die beste belang van beide die kollege en die studente opgetree het," het Jan van Niekerk, VF Plus-jeugleier gesê.

Die VF Plus is ten gunste daarvan dat alle amptelike tale gelyke status moet geniet, veral op 'n kampus soos Grootfontein, waar 75% van die studente Afrikaans as moedertaal verkies. Die VF Plus is steeds van oordeel dat moedertaalonderrig, soos wêreldwyd reeds bewys is, leerlinge en studente baie beter laat presteer en dit kwaliteit-onderrig moontlik maak. Die ontwikkeling van alle amptelike landstale is vir die VF Plus belangrik, terwyl die uitfasering of die ondermyning van Afrikaans of enige ander amptelike landstaal onaanvaarbaar is.

Die VF Plus beskou hierdie as 'n oorwinning vir Afrikaans en die gemeenskap van Grootfontein Landboukollege.

"Hierdie is weereens 'n bewys dat die publiek hande moet vat met die VF Plus om hulself te bemagtig wanneer aanvalle van hierdie aard op gemeenskappe geloods word," het Van Niekerk bygevoeg.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: