praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Afrikaanse nuus Verbod op Tshwane geld steeds

Verbod op Tshwane geld steeds

E-pos Afdruk PDF

Die Tshwane Metroraad het misluk met pogings om die Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde (ASA) se bevinding in AfriForum se guns, naamlik dat dit misleidend is om in advertensies na die stad Pretoria as “Tshwane” te verwys, ter syde te laat stel. 

Die Metroraad het op 1 Februarie 2010 sy hofaansoek in hierdie verband teruggetrek.  Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het daarna ʼn verswarende kostebevel teen die Metroraad gegee weens die raad se “miskenning van hofprosedures”, en verder beveel dat die raad weens die laat terugtrekking ook die kostes moet betaal van die regspanne wat 2 Februarie vir die aanhoor van die saak oopgehou het. 

Gevolglik geld die verbod op die plasing van die Metroraad se nie-statutêre advertensies, wat deur die ASA ingestel is weens die Metroraad se weiering om die uitspraak te aanvaar, steeds.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wat die klag teen die Metroraad by die ASA ingedien het, het sy tevredenheid uitgespreek dat die verbod op “Tshwane”-advertensies steeds geld.  “Ons is reeds sedert 3 Mei 2005 gewikkel in hierdie dispuut voor die ASA en uiteindelik is die punt nou bereik waar die Metroraad noodgedwonge moes aanvaar dat die ASA se beslissing nie omvergewerp kan word nie. 

Dit is net jammer dat die Metroraad in die proses honderde duisende rande van die belastingbetalers se geld op regskostes gemors het,” het Kriel gesê.

Die ASA het die verbod teen die Metroraad se advertensie ingestel nadat onder meer bevind is dat die raad “ʼn geskiedenis het van oortredings van die advertensiekode” en dat hulle ASA-uitsprake “flagrant” misken het.

Volgens Kriel is dit onverskillig dat die Tshwane Metroraad ter wille van ideologies- en polities-gedrewe pogings om van Pretoria se naam ontslae te raak, die geleentheid om advertensies te plaas, opgeoffer het.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: