praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Afrikaanse nuus VF Plus vra noodtoestand oor Pretoria-vullis

VF Plus vra noodtoestand oor Pretoria-vullis

E-pos Afdruk PDF
Conrad Beyers

Die Vryheidsfront Plus het ‘n beroep op die Tshwane-metroraad gedoen om 'n munisipale noodtoestand in terme van die Noodtoestand Bestuurswet no. 57 van 2002 uit te roep ten einde 'n vullis-ramp in Pretoria te vermy.  Die VF Plus het gesê dat 'n ernstige gesondheidskrisis in Pretoria begin dreig en dat dit 'n dringende munisipale noodtoestand regverdig.

Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid, het die plaaslike ANC inwoners mislei deur met groot fanfare aan te kondig dat die staking van vulliswerkers die afgelope Maandag verby sou wees en dat normaliteit hierdie week sou terugkeer.

Die VF Plus ontvang egter berigte dat vullis regoor die stad verder ophoop. Hierdie gebiede sluit in: Lynnwood, Pretoria Tuine, Valhalla, Pierre van Ryneveld, Rooihuiskraal, Zwartkop, Die Hoewes, Faerie Glen, Menlo Park, Groenkloof, Waterkloof Heights, Waterkloofrif, Murrayfield Park, Erasmuskloof, Waverley, Lynnwoodrif, Colbyn en Brummeria.

Die Noodtoestand Bestuurswet maak onder andere daarvoor voorsiening dat die stadsraad fondse, personeel, toerusting en enige ander bronne mag aanwend om 'n krisis aan te spreek.  Dit sluit in die aanstelling van tydelike personeel en aanwending van private instansies.  Dit gee byvoorbeeld die mag aan die stadsraad om die metropolisie en ander noodwerkers tydelik in te roep om die probleem te help oplos.

“Die Noodtoestand Bestuurswet verplig `n munisipaliteit om die nodige stappe te neem ten einde ‘n probleem aan te spreek wanneer `n noodtoestand dreig. Die metroraad is dus verplig om in belang van die inwoners onmiddellik sulke stappe in werking te stel”, het Beyers gesê.

Die VF Plus het gesê dat enige verdere versuim deur die ANC om alternatiewe reëlings vir vullisverwydering te tref tot 'n ramp in die stad kan lei.  "Die feit dat die ANC passief toekyk hoe die probleem vererger, het veroorsaak dat 'n probleem wat op 'n baie vroeër stadium opgelos kon word tot 'n ernstige krisis gelei het.”


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: