Die VF Plus het gesê dat die party amptelik eis dat die Tshwane-metroraad korting ter waarde van drie maande se belasting vir vullisverwydering aan inwoners toestaan. Dit volg nadat nog ‘n onderbreking in vullisverwydering hierdie week ondervind word vanweë ‘n staking.
Die VF Plus in Pretoria gaan hom na gesprek met die Pretoria-belastingb etalersverenigin g (PBV) by ‘n amptelike dispuut voeg wat tans voorberei word. In die dispuut word die eis vir die korting gemaak vanweë die nie-lewering van dienste waarvoor belastingbetalers betaal het.
In 2009 was daar minstens vyf ernstige probleme met met vullisverwydering in die Tshwane-metroraadsg ebied, waarvan die laaste oor rondom Kersfees plaasgevind het. Die jaar 2010 is nie eens ‘n week oud nie en daar is reeds nuwe probleme met vullisverwydering.
Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid, bewys die nuwe staking dat die ANC-beheerde metroraad geen plan, strategie of idee het oor hoe om die probleem hok te slaan nie.
“Tydens die laaste ses onderbrekings in vullisverwydering het die ANC ses verskillende verskonings vir die probleem aangebied. Hierdie keer handel dit blykbaar oor arbeidsmakelaars. Die talle verskonings raak nou absurd en dit het tyd geraak dat belanghebbende organisasies en inwoners die saak op ‘n gekoordineerde wyse begin aanspreek”, het Beyers gesê.
Die VF Plus het gesê dat die party hoop dat talle organisasies en belanghebbendes hulle by die dispuut sal voeg sodra dit amptelik verklaar word. “Ons wil eers die pad van gesprek, bemiddeling en arbitrasie met die metroraad volg om ons eise en klagtes deur te gee. Indien daar egter nie resultate is nie sal meer ingrypende aksie rakende die korting op belastinggelde oorweeg word”.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





