AfriForum het ʼn beroep op ouers gedoen om hulle kinders in die komende jaar in skole te sit waar hulle in hulle moedertaal onderrig kan word. Ouers word ook deur AfriForum versoek om in ʼn toenemende mate druk op die regering te plaas om moedertaalonderrig te voorsien in gevalle waar dit nie reeds beskikbaar is nie. Waar moedertaalonderrig beskikbaar is, moet ouers volgens AfriForum enige poging van die regering om moedertaalonderring in te perk, sterk teenstaan.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, bevestig die matriekuitslae jaar na jaar dat leerders wat moedertaalonderrig ontvang, beter vaar as diegene wat hulle onderrig in ʼn tweede of derde taal ontvang.
Kriel het daarop gewys dat dit al oor en oor bewys is dat leerders nuwe konsepte en vaardighede die maklikste in hulle moedertaal aanleer, en dat hulle hierdie vaardighede later dan maklik na ʼn tweede taal soos Engels kan oordra. Kriel het aangedui dat die omgekeerde ook waar is, naamlik dat leerders moeilike begrippe nog moeiliker in ’n ander taal vind en dit in baie gevalle selfs nie kan bemeester nie.
Kriel voer aan dat moedertaalonderrig vir so lank as moontlik, selfs tot op nagraadse vlak, verkies behoort te word, omdat dit die leerder of student veral by die “moeilike vakke” soos wiskunde en wetenskap, ’n voorsprong gee. “Daarsonder is ’n loopbaan in ’n groeiende aantal beroepe nie meer moontlik nie.
As die begrippe eers gevestig is, ondervind studente geen probleem om na Engels toe oor te skakel nie. Talle Afrikaanse studente het byvoorbeeld sedert die sestigs net in Afrikaans gestudeer en daarna met groot sukses hulle doktorsgrade aan die beste buitelandse universiteite behaal. Vandag is dit nog makliker omdat kinders met Engels op televisie en op hulle rekenaars grootword,” het Kriel bygevoeg.
Nie-Engelssprekende kinders wat Engelse skole bywoon, betaal volgens Kriel dikwels later die prys. “Ouers wat aan hulle kinders se loopbane en toekomstige verdienvermoë dink, moet daarop aandring dat hulle kinders in hulle moedertaal onderrig word,” het Kriel gesê.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





