praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Afrikaanse nuus 'Wit' stem verblyf op Tafelberg geweier

'Wit' stem verblyf op Tafelberg geweier

E-pos Afdruk PDF

Die burgerregte inisiatief AfriForum het pas ʼn klag van rassediskriminasie namens twee studente – Etienne en Stiaan Terblanche – by die Menseregtekommissie (MRK) teen die Tafelberg Nasionale Park ingedien, nadat dié twee studente verblyf by die People’s Trail Hut geweier is omdat hulle wit is. AfriForum sal ook die saak na die Gelykheidshof neem, sou die MRK nie die saak met die nodige erns hanteer nie.

Die studente, wat tydens ʼn staptog op Tafelberg op die People’s Trail Hut afgekom het, het die telefoonnommer wat op die hut se deur staan, geskakel om te verneem of hulle die hut vir ʼn nag kon bespreek. Hulle is toe telefonies meegedeel dat die hut slegs deur “swartmense” gebruik mag word en nie vir “witmense” is nie. Die student wat geskakel het, se stem is as maatstaf gebruik om hom telefonies as “wit” te klassifiseer. Die People’s Trail Hut word teen ʼn daaglikse tarief van R30 per persoon beskikbaar gestel, terwyl ander oornagfasiliteite op die berg R800 per persoon kos.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit kommerwekkend dat die staat se rasbeheptheid nou selfs uiting begin vind in studenteverblyf by ʼn nasionale bate soos Tafelberg, wat veronderstel is om aan almal in die land te behoort. “Jongmense, wat eers tydens die nuwe bedeling met hulle skoolloopbane begin het, word in effek nou selfs op Tafelberg weens hulle velkleur soos tweederangse burgers behandel,” het Kriel bygevoeg.

Kriel het daarop gewys dat dit ʼn mistasting sou wees om die rassediskriminasie teen “wit” studente te probeer regverdig deur die geykte argument dat dit ʼn poging is om ongelykhede uit te wis en Tafelberg se toeganklikheid vir almal te verhoog. “Geen ongelykhede word met die rasvoorskrifte op Tafelberg uitgewis nie, aangesien ʼn “swart” miljoenêr se kinders nou van die studenteverblyf gebruik kan maak, terwyl behoeftige studente uit ander gemeenskappe geweier word,” het Kriel gesê. “Die uitwissing van ongelykhede het volgens Kriel ongelukkig nou ʼn dekmantel geword om ʼn rasse-ideologie te bevorder.”

AfriForum wil toesien dat Tafelberg werklik toeganklik vir almal word en doen daarom aan die hand dat inkomstevlak ʼn beter maatstaf as ras is om te bepaal wie vir goedkoper verblyf op Tafelberg moet kwalifiseer. ʼn Groot deel van die mense wat dan voordeel trek, sal waarskynlik steeds “swart” wees, maar volgens Kriel sal hulle voordeel trek op grond van behoefte en nie hulle ras nie, terwyl armes uit ander gemeenskappe nie uitgesluit sal word nie.

 


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: