Die Vryheidsfront Plus het gesê dat inwoners van Pretoria geregtig is om hulle geld vir vullisverwydering terug te eis nadat vullisverwydering in die Tshwane-metrogebied vir die vyfde keer vanjaar nie plaasvind nie.
Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid, is die metroraad wetlik verplig om die dienste te lewer waarvoor inwoners betaal.
“Daar is oorgenoeg gronde vir inwoners om ‘n amptelike dispuut op groot skaal met die metroraad te verklaar, waarin daar geëis word dat korting gegee moet word vir dienste wat nie gelewer is nie. Dit help egter nie dat slegs enkelinge dit doen nie – dit moet regoor die stad gekoördineerd wees. Voorsitters van inwonersverenigings, tesame met ander belanghebbendes, moet in Januarie bymekaar kom om gekoördineerde aksie te beplan,” het Beyers gesê.
Die VF Plus het gesê dat dit jammer is dat die probleme rakende vullisverwydering aanhou herhaal, nadat die party reeds verlede jaar gewaarsku het dat voorkomende maatreëls getref moet word om die onderliggende probleme op te los.
Die VF Plus het gesê dat enige verdere versuim deur die ANC om alternatiewe reëlings vir vullisverwydering te tref tot 'n ramp in die stad kan lei. "Die feit dat die ANC passief toekyk hoe die probleem vererger, het veroorsaak dat 'n probleem wat op 'n baie vroeër stadium opgelos kon word tot 'n ernstige krisis gelei het. Hierdie is die swakste stadsadministrasie in Pretoria se geskiedenis."
| < Vorige | Volgende > |
|---|





