Prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, sê die sogenaamde Reitz-4 gaan voor die einde van die maand in die openbaar verskoning aanteken.
Jansen het Vrydag tydens 'n noenmaal by die Kaapse Persklub op die vraag gereageer of die studente nie berou moes toon voor hulle weer tot die kampus toegelaat word nie.
"Ek dink dit sou ideaal wees as hulle berou toon en om verskoning vra," het Jansen gesê.
"En ek glo dit gaan binne die volgende twee weke gebeur. Jy gaan 'n proses sien wat die land geweldig gaan transformeer."
Hy het gesê die proses het baie min met hom te doen, maar dat hy bevoorreg is om deel daarvan te wees.
Jansen is geloof en gekritiseer toe hy aangekondig het dat die vier studente vergewe is en weer aan die universiteit kon studeer.
Die vier studente, wat inwoners van die Reitz-koshuis was, is geskors nadat hulle 'n satiriese video gemaak het waarin swart skoonmaaksters aan die universiteit kos geëet het waarin daar na bewering geürineer is. Dit het agterna geblyk dat dit aanmaaklemoensap was, maar dié feit is deur sowel plaaslike as buitelandse media geïgnoreer.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





