praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Vrydag, 12. Maart 2010

Bygewerk op:04:57:57 PM GMT

Jy is hier: Nuus Afrikaanse nuus Viserektor van Kovsies vaar uit teen 'kolonialisme en apartheid'
Facebook Twitter Digg Delicious Stumbleupon Google Bookmarks RSS Feed 
KOMMENTAAR AANGEDRYF DEUR DISQUS
Aantal kere gelees: 1000

Viserektor van Kovsies vaar uit teen 'kolonialisme en apartheid'

E-pos Afdruk PDF

Die ideologiese transformasie van die Universiteit van die Vrystaat het so vinnig plaasgevind dat die viserektor, prof. Teuns Verschoor, hom tot "'n stryd teen die gevolge van kolonialisme en apartheid" verbind het. Verschoor het die pas aangestelde kleurlingrektor, Jonathan Jansen, as 'n "gerespekteerde en geliefde rektor" verwelkom.

Hier volg die volledige teks wat Verschoor aan die media uitgereik het:

"Ek is gevra om iets by die inhuldiging van prof. Jonathan D Jansen omtrent die Universiteit se onlangse verlede te kom sê. Ek het dit ook goedgedink om iets te sê oor die Universiteit se verre verlede om daardeur aan te dui dat die geskiedenis dikwels homself herhaal. Wat volg, is dus iets uit die eerste 20 jaar van die geskiedenis van die UV, en iets van die laaste 20 jaar.

Volgens die eeufeesbundel Van Sink tot Sandsteen tot Graniet het hierdie universiteit se nederige begin as die Grey Universiteitskollege op die warm someroggend van 28 Januarie 1904 plaasgevind, toe die eerste ses studente hulle aangemeld het en geregistreer is vir die enigste kursus wat aangebied is, naamlik die BA-graad. Die ses studente was almal wit mans wat, tot ? mindere of meerdere mate, die hartseer, twyfel en die vernederings van die Anglo-Boereoorlog ervaar het. Hulle was nog nooit vantevore aan enige tersiêre onderrig blootgestel nie. Hulle was meestal plaasseuns wat enkele maande tevore nog in die Anglo-Boereoorlog betrokke was.

In 1909 moes die Grey Universiteitskollege tydelik – vir 'n tydperk van 18 maande – na 'n ander terrein, die sogenaamde Blikkiesdorp toe skuif , waar die Tegniese Hoërskool Louis Botha tans geleë is. Die ongeveer 50 studente en hulle dosente is in hout- en sinkgeboue gehuisves.

Die volgende 11 jaar was uitdagende en moeilike tye vir almal wat by die Grey Universiteitskollege betrokke was. Die jong universiteit was sonder 'n rektor (van 1908 tot 1920 was daar slegs waarnemende rektore), 'n jong universiteit sonder identiteit of tradisies en met geen verlede nie. Aangesien die klasse in Engels aangebied is, het die meeste studente met 'n Nederlands/Afrikaanse agtergrond ook gesukkel om die nuwe lewenswyse en radikale veranderings te bemeester.

Die aanstelling van die tweede rektor van hierdie universiteit op 1 Oktober 1920, ds. J.D. Kestell, moet beskou word in die lig van die posisie waarin die Grey Universiteitskollege homself in daardie stadium bevind het: arm, sukkelend, en sonder 'n rektor om orde, gladde bestuur en, in die besonder, groei te bewerkstellig. Sedert sy totstandkoming in 1903 het die studentegetalle laag gebly, en in 1920 was daar maar nog net ongeveer 130 studente. Met so 'n klein studentekontingent het selfs die lojaalste Vrystaters gehuiwer om hulle kinders na die Grey Universiteitskollege te stuur vir hulle tersiêre opleiding.

In die oë van die besluitnemers, die Kollegeraad, was die tyd ryp vir 'n gerespekteerde, geliefde, maar bowenal, bekwame rektor. Hy sou die beeld van die GUK moes weerspieël sodat die instelling 'n volwaardige universiteit kom word, met studentegetalle wat vinnig toeneem en finansies wat 'n gesonde groei toon.

Sowat 85-90 jaar na sy stigting is die eerste swart voorgraadse studente toegelaat om by die Universiteit van die Vrystaat te registreer. Hulle was ook nog nooit vantevore blootgestel aan enige tersiêre onderrig nie. Hulle was hoofsaaklik jongmense uit die townships wat getuies was van die lelike kant van die struggle, tonele van polisiebrutaliteit en die halssnoermoorde van impimpi’s.

Aangesien die klasse in Afrikaans aangebied is, het die meeste studente met Engelsmedium as taal van skoolonderrig gesukkel om die nuwe lewenstyl en radikale veranderinge te bemeester. Die instel van parallelmediumonderrig het tot 'n mate verligting vir hierdie probleme gebring, maar op talle ander wyses, veral wat betref die integrasie van die koshuise, was die Universiteit naïef en het hy baie foute begaan. Hierdie was 'n uitdagende en moeilike tyd vir almal wat by die Universiteit van die Vrystaat betrokke was, waarvan die Reitz-kwessie deeglike bewys is dat ons nie suksesvol die moeilikhede en uitdagings gehanteer het om die verdeeldheid en onregte van die verlede te herstel nie – dat ons in 'n sekere sin ons studente gefaal het deur hulle nie toereikend te onderrig ten opsigte van menslike empatie en respek vir die waardigheid van hulle medemens nie.

Die aanstelling van prof. Jonathan Jansen as die dertiende Rektor en Vise-Kanselier van die Universiteit dui 'n nuwe begin aan. Vir die grootste deel van sy geskiedenis het hierdie universiteit krities die oorheersende politieke agendas van die dag nagevolg. Met sy onstaan onder Britse koloniale bewind het die universiteit slegs in Engels gefunksioneer en is baie persone op grond van hulle ras sowel as hulle taal uitgesluit. Vervolgens het die universiteit 'n proses van verandering van Engels en Nederlands na Afrikaans ondergaan. Gedurende hierdie era het die Universiteit van die Vrystaat nie alleen die beleid van apartheid nagevolg nie, maar ook aktief bevorder. Dit is betreurenswaardig dat die universiteit, selfs tot vandag toe, nog nooit 'n kritiese en onafhanklike identiteit kon verwerf nie.

Ons transformasieproses is gevolglik 'n stryd om die gevolge van kolonialisme en apartheid, spesifiek die uitsluiting en die skeiding van ons mense van mekaar aan te spreek. In die onlangse verlede was alle lede van die universiteit betrokke by 'n kampuswye dialoog genaamd die Sosiale Kontrakproses. Lede van die universiteitsgemeenskap het saamgestem dat ons almal ons verlede moet begrawe en 'n nuwe toekoms vir al ons mense te bou.

Tydens die laaste vergadering van ons Universiteitsraad het alle lede van die Universiteitsraad egter eenparig saamgestem dat ons verlede agter ons lê en dat die toekoms aan ons almal behoort. Vandag doen ons 'n beroep op alle sektore van ons gemeenskap om by ons aan te sluit wanneer ons hierdie toekoms vir al ons mense in hulle diversiteit skep.

Die aanstelling van die dertiende Rektor en Visekanselier van die Universiteit moet gesien word in die lig van die posisie waarin die Universiteit van die Vrystaat homself op hierdie stadium bevind: 'n universiteit met meer as 27 000 studente, met eilande van uitnemendheid, maar ook 'n Universiteit sonder 'n rektor, wat sukkel met integrasie, met 'n onaanvaarbare lae deurvloeisyfer en met 'n openbare beeld wat tot so 'n mate geskaad is dat selfs die lojaalste Vrystaters huiwer om hulle kinders na die Universiteit van die Vrystaat vir hulle verdere opleiding te stuur.

In die oë van die besluitnemers, die Universiteitsraad, is die tyd ryp vir 'n gerespekteerde en geliefde Rektor, maar bowenal 'n Rektor wat bekwaam genoeg is om die uitdagings waarvoor die Universiteit te staan gekom het te hanteer. Soos in die geval van ds. J.D. Kestell, sal prof. J.D. Jansen tot so 'n mate die beeld van die UV in ons tyd moet weerspieël dat hierdie instelling internasionaal erken kan raak, met 'n bewese vermoë om diversiteit suksesvol aan te spreek, en om by sy studente 'n menslikheid en respek vir die waardigheid van ander te kweek, asook 'n instelling met 'n stygende deurvloeikoers en met navorsingsuitsette wat uitnemendheid op internasionale vlak vertoon.

Ons dink ons het die persoon gevind.

Ek dank u."




Verwante artikels:


KOMMENTAAR AANGEDRYF DEUR DISQUS