Die burgerregte-inisiatief AfriForum het aangebied om die volle regskostes van skole met ʼn Christelike etos te dra, sou diegene wat gekant is teen godsdiens in skole hulle dreigement uitvoer om dié skole in die hof te probeer dwing om op te hou om godsdiens op skool te beoefen.
AfriForum se aanbod volg nadat die anti-godsdiens groep, die Afrikaanse Vrydenkersbeweging, pas aangekondig het dat hulle 43 skole landswyd “van nader gaan bekyk” met die oog op ʼn hofsaak om die skole se godsdiensbeleid te takel.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, vind sy organisasie dit onaanvaarbaar dat anti-godsdienstige fundamentaliste nou skole viktimiseer in ʼn poging om ouergemeenskappe te ontneem van hulle basiese reg om te besluit oor skole se godsdiensbeleid.
Kriel het daarop gewys dat dit ironies is dat die anti-godsdiens fundamentaliste daarop aanspraak maak dat hulle nie kinders onder dwang aan skoolgodsdiens wil blootstel nie, maar nou self hulle anti-godsdienstige siening op alle skole wil afdwing. “Hierdie dwang benadering van die anti-godsdiens fundamentaliste is skerp in teenstelling met die godsdiensbeleid wat skole volg om niemand te dwing om aan skolegodsdiens deel te neem nie,” het Kriel bygevoeg.
Volgens Kriel is hy verbaas om te sien die anti-godsdienstiges voer nou aan dat hulle geteiken word, terwyl dit inderwaarheid húlle is wat venynige aanvalle loods op mense se reg om hulle diepste geloofsoortuigings ook in skole uit te leef.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





