Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Mulder, probeer om die geskiedenis te herskryf deur voor te gee dat die setlaars en kolonialiste Suid-Afrika as "'n huis te huur" aangetref het, het die Jong Kommunisteliga van SA Sondag gesê.
"Die feit is dat die land gewelddadig en met bloedvergieting afgeneem is, en uiteindelik gewetstaaf is in 1913, wat die Afrika-inboorlinge met geen ander keuse gelaat het as om hulleself aan loonuitbuiting in die mynbedryf te onderwerp nie," het die YCLSA se sekretaris, Buti Manamela, in 'n verklaring tydens hulle lekgotla gesê.
"Sulke uitlatings is niks anders as argaïese blanke ontkenningsug nie en sal die werklike proses van grondverdeling en grondrestitusie troef."
Woensdag het Mulder in die Parlement aangevoer dat swart "Bantoe-sprekende" mense geen historiese aanspraak op 40 persent van die land het nie.
"Afrika-inboorlinge het nooit in die verlede in die hele Suid-Afrika gewoon nie," het hy tydens 'n debat oor President Jacob Zuma se staatsrede gesê.
Zuma het Mulder later gewaarsku om lig te loop oor die emosiewekkende vraagstuk van grondhervorming.
Sondag het die YCLSA aangedring op Mulder se bedanking as Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye.
"Ons glo nie dat 'n persoon soos Pieter Mulder in die regering moet dien, veral in sy verantwoordelikheid in Landbou en Bosbou, nie," het Manamela gesê.
"Ons doen 'n beroep vir sy onmiddellike bedanking, siende dat hy nie die algehele doelstelling van die regering steun nie, of vir die president om hom van sy pligte te onthef."
Mulder – in sy hoedanigheid as leier van die Vryheidsfront Plus – het egter later op Sondag gereageer deur te sê die liga het die opmerkings wat hy in die Parlement gemaak het, verdraai.
"Ek het in my toespraak verwys na die geskiedkundige verkryging van grond. Die argument word tans doelbewus op 'n verdraaide manier aangebied."
Hy het gesê dat sy betoog was dat die Koi en die San die eerste inwoners van Suidelike Afrika was. Daarna het groepe van die Noorde en van die Suide inwaarts beweeg en die Koi en die San na droër gebiede uitgedryf.
"Die Noordelike en Suidelike groepe kan nie aanspraak maak op die hele land nie. Ek het bykomend verwys na voedselsekuriteit en die probleme wat emosionele slagspreuke oor grond in die uitvoering van hierdie taak veroorsaak."
In hulle verklaring het die YCLSA gesê dat kommer oor die gebruik van regsprekende instellings vir politieke gewin ook tydens die lekgotla geopper is.
"Ons ondersteun die voorgestelde regulasies vir lede van die regbank om hulle besigheidsbelange en voordele soos alle ander openbare ampsdraers te verklaar," het hulle gesê.
Hulle sal 'n veldtog voer vir grondwetlike byvoegings wat van die regbank sal verwag om onderwerp te word aan populêre en demokratiese verkiesings.
Die lekgotla het ook die dissiplinêre verhoor van die geskorste ANC Jeugliga-leier, Julius Malema en sy uitvoerende bestuur, aangeraak.
"... In die beweging kom en gaan enkelinge, maar die beweging bly behoue ongeag hoe groot ons glo ons in vergelyking met die beweging is," het hulle gesê.
Malema en ander jeugligaleiers is in November daaraan skuldig bevind dat hulle die ANC in oneer gebring en verdeeldheid in die party gesaai het.
Dit was nadat hulle, onder andere, opmerkings gemaak het oor regeringsveranderinge in Botswana.
Hulle is geskors vir tydperke wat strek van 18 maande tot vyf jaar en het onsuksesvol geappelleer teen die sanksies. Hulle bied tans bewyse ter versagting aan. - Sapa
| < Vorige | Volgende > |
|---|





