praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Afrikaanse nuus Gronddebat moet oor feite handel

Gronddebat moet oor feite handel

E-pos Afdruk PDF
Dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, verwerp die stelling dat witmense al die grond wat hulle besit, gesteel het. Sulke stellings moedig volgens hom plaasmoorde aan.

Hy verskil ook van die departement van Landelike Ontwikkeling en Grondsake se syfer dat nog slegs 8% grond aan swartmense oorgedra is.

"Hoe bereken die departement hierdie 8% as daar geen finale grondoudit bestaan nie?" het dr. Mulder tydens sy toespraak in die Parlement na president Zuma se staatsrede gevra.

"Daar word aanvaar dat die staat ongeveer 25% van die landoppervlakte besit. Vyf en twintig persent staatsgrond, wat nie "wit" grond kan wees nie, moet dan by die 8% getel word. Wat van die Ingonyama-trustgronde van 2,8 miljoen hektaar van die Zoeloekoning? Waar word dit en al die ander kommunale grond getel? Mnr. Ramaphosa en minister Tokyo Sexwale het onlangs verskeie plase by wit boere gekoop. Volgens 'n bron in Vryburg het 'n maatskappy van min. Sexwale onlangs 30 plase in daardie omgewing gekoop. Dit moet ook by die 8% getel word? In die Karoo en Kalahari is groot plase beskikbaar. Waarom koop die departement nie van daardie grond aan om vinniger die 30% te bereik nie? Hierdie semi-woestyn gronde word egter by die 87% propaganda persentasie as wit grond getel," het dr. Mulder tydens die debat gesê.

Die probleem met die herverdeling van grond is nie die vrywillige koper en verkoper beginsel nie. Die probleem is die rampspoedige manier waarop grondhervorming toegepas word. Omdat grond 'n baie emosionele saak is moet die nasionale gesprek hieroor met feite en nie met propaganda-feite en emosionele slagspreuke gevoer word nie, volgens Mulder.

Dr. Mulder het ook kennis gegee dat die VF Plus 'n spesiale taaldebat in die Parlement gaan aanvra oor die permanente aanslag teen Afrikaans en die agteruitgang van al die inheemse tale in Suid-Afrika.

Volledige toespraak hieronder:

Repliek op pres. Zuma se Staatsrede van 9 Februarie 2012

Dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier en adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye

15 Februarie 2012

Mnr. die Speaker, agbare President,

Wat het die mense van Suid-Afrika tans nodig? Hulle het hoop vir die toekoms nodig. Op my lessenaar staan die slagspreuk: "The poorest of all persons is not the person without a cent, but the person without a dream."

Die president en die sprekers in hierdie debat het elkeen oor sy/haar drome vir die toekoms gepraat. As net 'n kwart van al daardie planne sou waar word, is daar hoop vir die toekoms.

Sir, "Make no small plans, because they have no magic to stir people's blood."

In die president se toespraak is daar groot planne en groot drome vir 2030.

Die Vryheidsfront Plus verwelkom die infrastruktuur aankondigings. Dit is 'n teken van langtermyn beplanning en gee hoop vir die toekoms.

Wat is die gevaarlikste ding wat 'n regering kan doen? Dit is om verwagtinge by landsburgers te skep wat dan nie realiseer nie. Verwagtinge wat nie realiseer nie is die resep van revolusies.

Werklike leierskap en staatsmanskap is die unieke kombinasie van idealisme gekoppel aan die uiters praktiese.

Hoekom het die wêreldbekerprojekte geslaag? Omdat daar spertye was. Omdat onnodige rompslomp uitgesny is. Omdat die beste mense vir elke projek gekry is. Omdat swart bemagtigingsreëls en arbeidsreëls buigbaar toegepas is.

Is die regering hiertoe bereid? Of gaan ons vasval in die huidige klimaat van korrupsie, selfverryking, onbuigsame arbeidswette, oneffektiwiteit en populistiese debatte oor nasionalisering?

Ek noem twee voorbeelde:

Mynwese en landbou het die potensiaal om duisende werksgeleenthede te skep. Tog het albei swak presteer die afgelope tyd. Hoekom juis hierdie twee sektore? Is dit toevallig dat die oproepe uit ANC geledere om nasionalisering juis gemik is op myne en landbougrond?

Daar word bereken dat Suid-Afrika meer as $2,5 triljoen se onontginde minerale het. Dit is die minerale rykdom van Rusland en Australie saamgevoeg. Tog gaan ons mynsektor agteruit. Suid-Afrika se mynsektor het met 1% gekrimp terwyl die mynsektore in ander lande gemiddeld 5% gegroei het. Behalwe vir ander regeringsfoute speel die nasionaliseringsdebat beslis 'n rol hierin.

Die afgelope week se uitspraak van die president teen die nasionalisering van myne het meer sekerheid gebring. As die ANC se beleidskonferensie in Junie die regte besluite neem, voorspel ek goeie groei in die mynbousektor.

Maar in dieselfde week het die president in sy staatsrede die stelling herhaal dat die vrywillige koper-vrywillige verkoper beginsel nie die beste manier is om die grondverdelingsvraagstuk aan te spreek nie. In gewone taal beteken dit dat die regering in die nasionalisering van landbougrond glo. Waar daar nou meer sekerheid in die mynbousektor is, is daar vandag groter onsekerheid in die landbousektor.

Enigeen wat met die herverdeling van grond te doen het, toon aan dat die problem nie by die vrywillige koper en verkoper beginsel lê nie. Die probleem is die rampspoedige manier waarop grondhervorming toegepas word. Op my lessenaar is talle briewe van wit kommersiële boere wat hulle grond aangebied het vir die departement maar geen reaksie ontvang het nie. Talle briewe van kommersiële boere wat koopkontrakte met die departement gesluit het en na drie jaar bankrot gaan omdat die departement nie die geld uitbetaal nie.

Die president haal in sy toespraak die Department van Landelike Ontwikeling en Grondsake se syfers aan oor grondhervorming. Daarvolgens het witmense 87% van die grond besit, en het die regering slegs 8% van sy teiken van 30% bereik. Ek verskil ernstig van hierdie syfers. So ook van die stelling dat witmense al hulle grond gesteel het.

Grond is 'n baie emosionele saak wat al tot menige oorlog gelei het. Die president vra vir 'n nasionale gesprek oor hierdie sake. So 'n gesprek kan nie met propagandafeite, verdraaide geskiedenis en emosionele slagspreuke gevoer word nie. Volgende week word hierdie boek, "Omstrede land" deur prof Louis Changuion en Bertus Steenkamp bekend gestel. Dit handel oor die grondkwessie in Suid-Afrika van 1600 tot vandag. Daar word beplan om dit ook in Engels uit te gee.

Die ANC praat graag van "Black people in general and Africans in particular." Meneer, "Africans in particular" het nooit in die verlede in die hele Suid-Afrika gewoon nie. Die Bantoesprekendes het van die ewenaar af afbeweeg terwyl die wittes van die Kaap af op beweeg het om mekaar by die Keirivier te ontmoet. Daar is genoeg bewyse dat daar geen Bantoesprekendes in die Wes-Kaap en Noordwes Kaap gewees het nie. Hierdie gedeeltes beslaan 40% van Suid-Afrika se oppervlakte.

Daar is ook meningsverskil oor die invloed van die Difaqane op grondbesit. Lees die Voortrekkers se dagboeke oor wat hulle aangetref het toe hulle die binneland ingetrek het.

Hoe bereken die departement die syfer van 8%? Daar is geen afgehandelde grondoudit waarteen ons hierdie feite kan kontroleer nie.

Wat bedoel die ANC met 30% grond in swart besit? Sluit dit staatsgrond en stedelike grond in? Daar word aanvaar dat die staat ongeveer 25% van die landoppervlakte besit. Staatsgrond tel tog sekerlik nie as wit grond nie? Vyf en twintig persent staatsgrond moet dan by die 8% getel word. Wat van die Ingonyama-trustgronde van 2,8 miljoen hektaar van die Zoeloekoning? Waar word dit en al die ander kommunale grond getel? Mnr. Ramaphosa en minister Tokyo Sexwale het onlangs verskeie plase by wit boere gekoop. My bron in Vryburg sê 'n maatskappy van min Sexwale het onlangs 30 plase in daardie omgewing gekoop. Dit moet ook by die 8% getel word? In die Karoo en Kalahari is groot plase beskikbaar. Waarom koop die departement nie van daardie grond aan om vinniger die 30% te bereik nie? Hierdie semi-woestyn gronde word egter by die 87% propaganda persentasie as wit grond getel.

Die Ontwikkelingsbank het in 2001 bereken dat 44% grond aan wittes behoort, 20% aan swarters, 9% aan bruines en 1% aan Asiërs.

Die wyse waarop die departement die 30% en die 8% syfer bereken skep die indruk dat hulle dit vir hulle self onmoontlik maak om te slaag.

Ek het gesê grond is 'n emosionele saak – maar ek ervaar goedgesindheid en bereidwilligheid by kommersiele boere om die probleme aan te pak. Propaganda syfers en emosionele slagspreuke gaan ons egter nie by antwoorde uitbring nie. Realistiese debatte met werklike syfers wel.

Die hoeveelheid vrugbare grond wat onder landbouproduksie is, het van 1994 tot 2009 met 30% afgeneem. Mislukte grondhervorming, waar 9 uit 10 plase nie suksesvol is nie, het 'n belangrike rol hierin gespeel. Landbouers moet nou op minder grond meer kos produseer vir Suid-Afrika se bevolking van 50 miljoen.

Ek stem saam as minister Mkwinti sê dat dit ons nie help om net die hoeveelheid hektare te jaag nie. As daardie grond nie kos produseer nie, het ons binnekort hongersnood en dan hardloop die mense in die strate soos onlangs in Mosambiek gebeur het toe brood pryse gestyg het vanweë tekorte.

In 2000 het die Zimbabwe boere 2 miljoen ton mielies geproduseer. Verlede jaar, na grondhervorming, slegs 900 duisend ton. In 2000 het Zimbabwe 250 duisend ton koring gehad, verlede jaar slegs 10 duisend ton. Dit is nie 'n droogte se skuld nie. In dieselfde tyd het Zambië gegroei tot waar dit mielies kan begin uitvoer.

Ek wil 'n aanhaling wat ek in die Kabinet Legkotla gebruik het, hier herhaal. Mondli Makhanya skryf in die Sunday Times: (28/2/2010)

"...we are wasting valuable time and energy trying to restore people to their peasant ways.

"Ordinary South Africans either do not want land or just do not have the capacity to work it. They want to go to cities and work in modern economy... Large-scale, highly mechanised commercial farming is now the way of the world. You cannot turn the clock back four decades. That is just the reality. Furthermore, the young people would, as has happened elsewhere, have simply upped and headed for the towns and cities. Yet we continue to nurse the notion that we can reverse the inevitable march to an urban future. We keep wanting to fight the logic of large-scale commercial farming... The money and energy that is spent on getting peasants back into subsistence (farming) would be better used to create a strong class of black commercial farmers who actually do farm for commercial rather than sentimental reasons."

Ek droom van wit en swart kommersiële boere wat nie na Afrika hoef te gaan vir geleenthede nie. Die kinders wat in 1994 gebore is, is vanjaar 18 jaar oud en kan stem. Hulle ken net 'n ANC regering. Daar is geen rede waarom so 'n kind nie 'n plaas moet kan koop of 'n beurs moet kan kry, net omdat hy/sy wit is nie. Tog gebeur dit steeds.

Meneer, ek wil hier reeds kennis gee dat die VF Plus 'n spesiale taaldebat gaan aanvra oor die permanente aanslag teen Afrikaans en die agteruitgang van al die inheemse tale in Suid-Afrika.

In die politiek kry jy klein leiertjies en groot leiers. Klein leiertjies is opportunisties en praat en skinder oor ander mense. Groot leiers praat en droom oor idees en oor die toekoms. As ons in 2030 terugkyk na hierdie debat, sal ons kan bepaal wie was met opportunistiese klein politiek besig en wie is besig met realistiese toekomsplanne in belang van almal. Dit is die VF Plus se drome en waarmee ons besig is.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: