Vanjaar bied die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) dit aan en is dit vir ons 'n besondere eer en voorreg om dit te kan doen.
Min mense besef die rol wat die Taalstryders van die Paarl gespeel het in die oorwinning by Majuba.
Ds SJ du Toit, stigter van die Genootskap van Regte Afrikaner (GRA) het in Die Patriot wat ook in die Vrystaat en Transvaal versprei is die Boere aangemoedig om die Engelse die stryd aan te sê.
PD van der Walt skryf in sy boekie SJ du Tiot: "Die gewildheid van die blad het grootliks toegeneem weens die onbewimpelde nasionale beleid daarvan, soos veral sedert 1877 geblyk het na die anneksasie van Transvaal deur Brittanje. Die koerant het reeds vroeër die kandidatuur van SJP Kruger gesteun, maar na Shepstone se anneksasie word die blad nou die raadgewer van die Transvaalse Boere. Eers het die redaksie die Transvalers tot leidelike verset gemaan, maar toe alle onderhandelingspogings met Engeland misluk om Transvaal sy vryheid te laat terugkry, was die boodskap van Die Patriot: "Lydelike verset is ydelike verset." Die Transvaalse leiers het die implikasie verstaan, sodat genl. Nicholaas Smit na die lees daarvan sou gesê het: "Burgers, maak skoon jul roers." "
Al die wins van die Majubafees gaan na die Majuba Boerevolk Trust wat dit aanwend vir die instandhouding van dié historiese erfenisterrein. Die Majuba Trust kry geen geld van die staat nie en weier uit beginsel om geld van die Lotto te vra. Daarby word Marie en Thys de Beer (wat op die terrein woon), 'n klein horarium van R3 000 elk maandeliks betaal vir hulle onbaatsugtige diens. Hulle bakkie (enigste ryding) se knormoer het ingegee en die enjin begin te kook wanneer hy die steiltes na die berg aandurf.
Die nood is werklik hoog. Daar is dringende instandhouding en opknapwerk nodig voordat die Majubafees op 24 - 26 Februarie 'n aanvang neem. Vandale het die koperpype en krane by die een ablusieblok afgesteel. Danksy die Verkenners wat elders geld ingesamel het, sal dit herstel kan word.
Die swartwattelbome(pes) het deur die jare van die kampeerruimtes oorgeneem. Van die bome het omgeval en lê die plek vol. Ek neem hierdie naweek 'n klompie vrywilligers saam om hieraan aandag te gee.
Die GHA wil graag van die Majubafees 'n groot sukses maak en hoe meer mense dit bywoon, hoe groter kan die inkomste wees wat die las van die Majuba Trust kan verlig.
PROGRAM
Behalwe van die Cantus (vir volwassenes) en die Cantile (vir skoliere) bied ons die Vrydagaand (vir die eerste keer!) 'n Boeredans aan. Die Vlakfontein Boereorkes met Dries Laas kom daar optree (gratis). Die Boeredans vereniging neem hier die leiding wat ook 'n vertoning gaan lewer van tradisionele danse.
Verder sal ons na die vlaghysing, feesrede en vlagvoorstelling deur die Perdekommando die berg uitklim. Die GHA gaan aan die eerste 500 persone (voorwaardes) wat die kruin bereik 'n medalje gee. Ook 'n eerste.
Majubafees 24 – 26 Februarie 2012
André Alkema, Voorsitter
| < Vorige | Volgende > |
|---|





