Dié bewering is Dinsdag aan Terre'Blanche se vrou, Martie, genoem tydens haar kruisverhoor in die hooggeregshof in Ventersdorp in die Noordwes.
"Dit is absoluut verregaande," het Martie gereageer.
"Eugene sou nooit in sy hele lewe so iets doen nie."
Kgomotso Tlouane, die prokureur van die moordbeskuldigde Mahlangu, het haar gevra of sy bewus was dat Mahlangu voor en op die dag van die moord gesodomiseer is.
"As ek na sy integriteit en politieke siening kyk, is dit absurd," het sy gesê.
Tlouane het haar oor die lewensomstandighede van die twee beskuldigdes uitgevra, soos die kos wat hulle geëet het en haar oorlede man se salarisooreenkomste.
Martie het gesê Terre'Blanche het sy werknemers nooit op 'n Vrydag betaal nie, aangesien hulle dan al hulle geld oor die naweek sal spandeer.
"Eugene het probeer om hulle [die werkers] te help, want hul geld was binne 'n dag op."
Tlouane het bevestig dat geen salarisse op die dag van Terre'Blanche se moord, 3 April 2010, betaal is nie.
Hy het gesê Mahlangu het beweer dat hy nie ingelig is oor die salarisooreenkoms nie.
Volgens Martie het sy geweet Mahlangu se salaris is minder as die voorgestelde minimumloon en sy het bygevoeg: "Hy was bereid om daarvoor te werk. Dit was sy keuse om die werk te los as hy dit nie wou hê nie."
Mahlangu en 'n jeugdige word daarvan beskuldig dat hulle die voormalige AWB-leier in April 2010 in sy plaashuis in Noordwes vermoor het.
Albei het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, huisbraak en roof met verswarende omstandighede.
Mahlangu beweer dat hy in selfverdediging opgetree het. Die tiener ontken betrokkenheid in die voorval.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





