Basson is van onprofessionele gedrag beskuldig terwyl hy hoof van Suid-Afrika se chemiese en biologiese oorlogvoeringsprogram was en verskyn voor die Raad vir Gesondheidsberoepe van SA se komitee vir professionele gedrag.
Hy was nie teenwoordig by Donderdag se verhoor nie, maar regsargumente in sy afwesigheid is voortgesit in die hooggeregshof in Pretoria.
Jaap Cilliers SC, wat vir Basson optree, het aangevoer dat daar geen saak gemaak is wat sy kliënt aan onetiese of onprofessionele gedrag skuldig maak nie.
Hy sê Basson het opgetree as 'n soldaat in 'n oorlog en dat sy betrokkenheid in die vorige regering se chemiese en biologiese oorlogvoeringsprogram gemik was op die ontwikkeling van 'n defensiewe vermoë vir die SA Weermag.
Cilliers het aangevoer dat die twee mediese etiekdeskundiges wat getuig het vir die vervolging mekaar weerspreek het, en dat daar geen bewyse bestaan waarop Basson skuldig bevind kan word nie, tensy hy na die getuiebank geroep word en homself inkrimineer.
Aanklaer Salie Joubert het aangevoer dat Basson homself in beide sy pleitverduideliking en in sy getuienis tydens sy kriminele verhoor geïnkrimineer het. Hy is destyds vrygespreek op aanklagte wat wissel van moord tot bedrog.
Joubert het gesê daar was volumes getuienis teen Basson, wat duidelik getoon het dat hy al die kodes wat van toepassing is op die mediese etiek, oortree het.
"Hy het opgetree as 'n verraaier van sy eie soldate toe hy hulle van sianied-kapsules voorsien het. Jy sit net nie een in jou mond en sterf nie. Dis 'n verskriklike manier om dood te gaan," het Joubert gesê.
Hy het aangevoer dat daar genoeg bewyse bestaan om Basson skuldig te bevind op vier van die aanklagte en dat dit onregverdig sou wees om hom op hierdie stadium vry te spreek.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





