praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Afrikaanse nuus Pretoria: Korrupsie vier hoogty

Pretoria: Korrupsie vier hoogty

E-pos Afdruk PDF
"Die onwettige verkoop van grond in die Wallmansthal gebied is 'n gevolg van die heersende behuisingsprobleem in die groter Pretoria gebied. Dit is ook 'n duidelike teken van die Regering se onvermoë om korrupsie en wanbestuur die hok te slaan", sê Philip van Staden, VF Plus streeksleier in Pretoria.

Dit volg nadat dit vorendag gekom het dat 'n geskorste polisieman, Richard Makhene, op 'n onwettige wyse grond aan plakkers in die Wallmansthal-omgewing, verkoop. Duisende mense het die afgelope naweek die grond, naby Ludwig Roses noord van Pretoria, beset.

Makhene is in 2008 uit die SAPD ontslaan weens korrupsie. Volgens berigte is Makhene weer in die gebied besig met ongerymdhede.

"Erwe is die afgelope naweek deur Makhene vir ongeveer R400.00 stuk aan die plakkers verkoop. Hierdie grond behoort nie aan Makhene nie en hy moet in hegtenis geneem word. In 2007 het die voormalige Minister van Grondsake, Lulu Xingwana, die grond tydens 'n amptelik funksie aan inwoners van die gebied oorhandig. Die mense kan egter nog nie daar gaan woon nie. Die sogenaamde "oorhandiging" het nie met die nodige dokumente gepaard gegaan nie en die beloofde water- en sanitasiegeriewe is ook nog nie opgerig nie. As gevolg van die regering se gesloer steel opportuniste soos Makhene grond en geld van regmatige eienaars."

Die Wallmannsthal Communal Property Association (WPCA) wat die wettige inwoners verteenwoordig, dien vandag 'n aansoek by die hooggeregshof in om die verdere besetting te voorkom.

"Die VF Plus in Pretoria dring daarop aan dat die die Minister van Huisvesting, Tokyo Sexwale, by die Wallmansthall gronddebakel ingryp. Hierdie plakkers moet elders gehuisves word. Die regering moet ook sy beloftes nakom. Wanneer behuising en geriewe aan mense belowe word, moet dit uitgevoer word om in die toekoms hierdie chaos te vermy", sê Van Staden.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: