PRAAG loods met die aanvang van 2012 ‘n splinternuwe projek genaamd digiTAAL. “Afrikaans het ‘n staatlose taal geword, maar kan in digitale vorm oorleef,” sê dr. Dan Roodt, direkteur van PRAAG. By sy jaarvergadering in Februarie verlede jaar, het die organisasie ‘n hele aantal planne bedink wat binnekort tot uitvoering gebring gaan word.
Een daarvan is ‘n Afrikaanse kultuursentrum in Gauteng van waar ‘n oplewing of “Afrikaanse renaissance” kan plaasvind. “Ons het nog nooit die idee van ‘n Afrika-renaissance ernstig opgeneem nie, selfs op die stadium to die Suid-Afrikaanse media dit opgehemel het. Maar daar is wel ruimte vir ‘n Afrikaanse hergeboorte indien dit met die nodige ywer en visie aangepak word,” meen dr. Dan Roodt. “Ons soek steeds na ‘n geskikte perseel vir die Afrikaanse kultuursentrum, waar PRAAG se nuwe hoofkantoor insgelyks gevestig gaan word. Dis nodig dat die volle skeppende krag van die Afrikanervolk weer gemonster word en ons glo dat so ‘n kultuursentrum dit sal stimuleer en fokus.”
‘n Groot deel van PRAAG se aktiwiteit sal egter op die digitalisering van die Afrikaanse kultuur toegespits word. Volgens dr. Roodt sien PRAAG hom as ‘n soort ATKV vir die een-en-twintigste eeu, ‘n tegnologiese antwoord op die tradisionele tipe Afrikaanse kultuurorganisasie wat nie meer die aspirasies van Afrikaners te midde die huidige revolusionêre klimaat kan bevredig nie. “Ons beleef ten minste twee ingrypende omwentelinge: ‘n politieke revolusie van links in Suid-Afrika wat ons land in ‘n stereotipe Engelstalige, Afrososialistiese staat wil transformeer, asook ‘n tegnologiese revolusie wat besig is om die aard van kultuur, taal en media ingrypend te verander,” sê Roodt. “Sedert die ontstaan van PRAAG in Februarie 2000, wou ons tegnologie en internetkommunikasie aanwend om die Afrikaner van oorheersing te bevry, daar waar tradisionele politiek en verraad hom op sy knieë gebring het.”
Vandaar die digiTAAL-projek wat die mees ambisieuse program is wat PRAAG nog aangepak het. Dit gaan daarom om die totaliteit van die Afrikaanse kultuur, kreatiwiteit en identiteit in digitale vorm te ontsluit. “Ons glo dat ‘n mens vuur met vuur moet beveg. Daarom is ons antwoord op die tegnologiese en politieke omwentelings ‘n revolusie van ons eie: om Afrikaans op ‘n radikale manier te vernuwe ten einde ons volk weer sterk en onwoorwinlik te maak. Op alle gebiede: kultureel, taalkundig, polities, sielkundig,” sê Roodt.
Terwyl PRAAG nog nooit van politiek of ideologiese kommentaar weggeskram het nie, glo die organisasie dat politiek in sy engste sin via politieke partye bedryf moet word. Politiek kan nie deur middel van hofsake of van die kantlyn af gevoer word nie. “Ons glo dat die digiTAAL-projek ons ook sal help om op ons kernbesigheid te fokus, naamlik die uitbou van Afrikaans en die Afrikaneridentiteit. Nietemin moedig ons politieke betrokkenheid deur ons lede en medewerkers aan, want sonder grondwetlike en staatkundige verandering in ons land, is sowel Afrikaans as die Afrikaner tot uitsterwing gedoem,” meen dr. Dan Roodt.
digiTAAL sal van multimedia gebruik maak, maar ook weer ‘n sterk Afrikaanse leeskultuur vestig. “Ons het gesien hoe radio en televisie oor die afgelope tyd gebruik is as ‘n propagandamedium om ‘n bepaalde Afrikanervyandige boodskap te versprei, asook akkulturasie by die staatsideologie te bevorder. Deur ‘n soort Sewendelaankultuur van oppervlakkige vermaak, is ons mense verdom, verwar en verswak. Die Afrikaner is van sy trots, sy waardigheid en sy selfrespek gestroop en het ‘n kruipende wurm, ‘n provinsialistiese half-Engelse snob en ‘n jabroer geword. Ons mense lees nie, is nie ingelig nie en verstaan die meeste van die tyd nie eens hoe op aarde hulle in die huidige dwingelandy en geweld beland het nie. Daarom is dit so belangrik om die totale Afrikaanse geskrewe tradisie van die afgelope 150 jaar en selfs daarvoor volledig in digitale vorm beskikbaar te stel, by wyse van e-boeke, webwerwe, foto’s, internetvideo en dergelike meer,” sê Roodt.
Die Afrikaanse geskiedenis en letterkunde sal, sodra dit vrylik vir almal toeganklik is, die Afrikaner weer soos ‘n feniks uit die as laat verrys. Slegs vryheid in ‘n eie vaderland kan die fisieke en kulturele voortbestaan van die Afrikaner op sy vasteland waarborg. Geen grondwet van ‘n vreemde land soos die nuwe Suid-Afrika is daartoe in staat nie.
PRAAG sal voortaan verskeie klasse van lidmaatskap aanbied. Gewone lidmaatskap van PRAAG sal voortgaan, dog elke betalende lid sal in die nabye toekoms veel meer voordele ontvang in die vorm van tegnologiese hulpmiddels en toegang tot waardevolle media. “Ons kyk selfs daarna om vir elke PRAAG-lid ‘n gratis e-leser ter waarde van R2 500 te verskaf waarmee hy of sy oral op aarde toegang tot ‘n magdom Afrikaanse boeke in digitale vorm sal hê,” sê dr. Dan Roodt. “Vir nie-betalende deelnemers, sal ons webwerf praag.co.za steeds gratis wees, maar toegang tot e-boeke en ander waardevolle items sal by wyse van registrasie plaasvind. PRAAG ondersteun die beginsel van die internet as ‘n wesentlik gratis medium wat deur samewerking tussen gelykdenkendes bedryf word. ‘Gratis’ is ‘n sogenaamd ‘radikale prys’, maar dis ‘n prys wat ons wil handhaaf. Daarom sal ons webwerf altyd oop en gratis bly, met vryspraak en -debat wat in ons kommentaarafdeling aangemoedig word.”
PRAAG sien sosiale media ook as ‘n tussentydse manier vir die Afrikaanse identiteit om in ‘n verengelste Suid-Afrika te oorleef. “As ek by my voordeur uitstap, is alles Engels: die tekens, die produkte, die reklameborde, die name. Maar op Facebook, Twitter en natuurlik praag.co.za is ek geen interne immigrant, geen vreemdeling in my geboorteland meer nie, maar ‘n Afrikaner tussen ander Afrikaners,” sê dr. Dan Roodt.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





