praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Afrikaanse nuus PRAAG verwelkom Nederlandse besluit oor Afrikaans
PRAAG verwelkom Nederlandse besluit oor Afrikaans PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur praag   
Woensdag, 21 Desember 2011 10:42
PRAAG het die besluit van die Nederlandse regering verwelkom dat dié land se ambassade in Pretoria voortaan 'n rol by "die stimulering van Afrikaans" sal speel. Volgens dr. Dan Roodt, leier van PRAAG, is hy "baie opgewonde oor die toenemende Nederlands-Afrikaanse samewerking om die toekoms van Afrikaans as deel van die groter Nederlandstalige erfenis te verseker".

Gisteraand het die Nederlandse minister van buitelandse sake, mnr. Uri Rosenthal, in die Tweede Kamer 'n voorstel van die PVV-lid Martin Bosma aanvaar dat daar gereelde maandelikse vergaderings met pro-Afrikaanse organisasies by die Nederlandse ambassade in Pretoria moet plaasvind. Sulke vergaderings sal gehou word "binne die kader van die Nederlandse Taalunie waarmee Suid-Afrika 'n voorneme om saam te werk gesluit het".

"Sedert my besoek verlede jaar in Mei toe ons met Nederlandse parlementariërs en joernaliste gesels het, het ons die dialoog met Nederland op dreef gehou deur meningsartikels in koerante en heelwat informele korrespondensie met lede van die Tweede Kamer, skrywers en ander kultuurmense," sê dr. Dan Roodt. "Dit is jammer dat Nederland nie ook standpunt teen naamsveranderings ingeneem het nie, maar ons begryp dat dit vir Afrikaners is om self teenstand teen naamsveranderings te bied, soos minister Rosenthal dan ook gesê het."

PRAAG het die Partij voor de Vrijheid, asook Tweedekamerlid Martin Bosma vir hul inisiatief bedank. Terwyl Nederland soos die res van Europa tans 'n besuinigingsbeleid volg, het Bosma aan die minister gesê dat die vergaderings by die Nederlandse ambassade "niks hoef te kos nie, behalwe 'n koppie koffie, maar dat dit as 'n riem onder die hart (in die Afrikaanse taalstryd) ervaar sal word".

Bosma het voorts verklaar: "Voorsitter, ons land het 'n spesiale verantwoordelikheid teenoor Afrikaans en haar sprekers in Suid-Afrika. Afrikaans is nou met ons taal verwant. Daarom verkry Elisabeth Eybers ons PC Hooftprys. Vele plekname herinner aan die Nederlanders en hul nasate. Die huidige ANC-regering keer hul rug op ons sustertaal. Dit lyk selfs daarop uit om alle spore van Afrikaans uit die landskap te wis. Honderde dorpe, stede en strate is die afgelope vyftien jaar herdoop. So verdwyn pragtige name soos Vryheid, Afguns, Warmbad, Bosbokrand, Hoedspruit, Potgietersrust en Duiwelskloof. Dit lyk asof die regering vas van plan is om Afrikaans uit te wis."

Volgens Bosma is die (grense van) "die voormalige Boererepublieke Transvaal en die Oranje Vrystaat - waar Nederlands die amptelike taal was - reeds van die kaart gevee. Sonder enige steun van die bevolking is Vrystaatse stede soos Bloemfontein, Kroonstad en Winburg herdoop".

PRAAG het 'n beroep op alle Afrikaanse organisasies gedoen om spoedig te vergader en 'n aantal kundige verteenwoordigers aan te wys wat die taalgemeenskap teenoor Nederland kan verteenwoordig. "Dit moet nie maar net simboliese gespreksgeleenthede wees nie maar daadwerklike werksessies waar die haglike toestand waarin Afrikaans hom tans bevind, verbeter kan word," meen dr. Dan Roodt. "Nederland is 'n invloedryke land in Europa, 'n voorkeurvennoot van Duitsland, asook die vyfde grootste ekonomie in die Europese Unie. Om 'n vriend soos Nederland te hê, kan Afrikaners en Afrikaans net ten goede strek."


blog comments powered by Disqus
 


Verwante artikels: