"Hulle is in die proses om vrygelaat te word, het Zacharia Modise, die DKD se adjunk-hoofkommissaris van korreksies, omstreeks 13:30 Maandagmiddag gesê.
Hy het gesê Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt is tans by korrektiewe dienste se gemeenskapsentrum waar hulle in terme van hul paroolvoorwaardes moet aanmeld.
Korrektiewe dienste het verlede Donderdag, 'n vrylatingsbevel deur die Pretoriase streekshof verontagsaam.
Van Schalkwyk en Tiedt se regspan het Vrydag die eerste dringende hofaansoek gebring om die DKD te dwing om die aanvanklike vrylatingsbevel uit te voer. Dit het geslaag.
Modise se verklaring het gevolg kort voordat 'n tweede dringende aansoek in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria gebring sou word, nadat die DKD steeds geweier het om die twee vry te laat.
Modisi het gesê 'n amptelike verklaring sal binnekort deur die DKD uitgereik word. Hy het steeds aangedring dat die departement nie met die hofbevel saamstem om die twee op parool vry te laat nie.
Van Schalkwyk, Tiedt, Christoff Bekker en Frikkie du Preez is in 2008 vir 12 jaar tronk toe gestuur nadat hulle in 2001 skuldig bevind is aan die moord op 'n hawelose man in Pretoria.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





