Oor die afgelope ses weke het ‘n magstryd rondom die Pretoria-PEN, die breinkind van dr. Dan Roodt, uitgebreek. Drie skrywers uit die Kaap en Natal, John Miles, Fanie Olivier en Piet Haasbroek, poog naarstiglik om die skrywersvereniging oor te neem, vermoedelik omdat dit vir die Naspersgroep voordelig mag wees. Ook die omstrede digter Breyten Breytenbach het sy stem by hulle s'n gevoeg.
Roodt het in 2004 begin om die skrywersvereniging op die been te bring ten einde Afrikaanse skrywers ‘n stem in die buiteland te gee. PEN Internasionaal is die grootste skrywersorganisasie ter wêreld wat oor ongeveer 15 000 lede in meer as 100 lande beskik. Aanvanklik het die Engels-Suid-Afrikaanse skryfster, Nadine Gordimer, die affiliasie van Pretoria-PEN by die internasionale organisasie teengestaan, dog in 2006 is die Afrikaanse skrywers by die internasionale kongres in Berlyn tot PEN Internasionaal toegelaat.
Hierdie internasionale affiliasie, wat in die praktyk ‘n diplomatieke kanaal vir Afrikaans en Afrikaners na die buiteland geopen het, word nou as te waardevol gesien om in die hande van Roodt, die stigter, en sy geesgenote te laat.
Nadat Miles, Olivier en Haasbroek oor ‘n naweek vir Roodt in kennis gestel het dat hulle en ‘n onbekende groep ander skrywers “voortaan die bestuur sal oorneem”, het Roodt die steun van meer as twintig skrywers en lede van Pretoria-PEN verkry om ‘n nuwe bestuur te verkies. ‘n Jaarvergadering is ook aangekondig wat op 20 en 21 Januarie aanstaande jaar sal plaasvind.
Hierna het Miles, Olivier en Haasbroek aangekondig dat hulle ‘n wegbreekgroep wil stig, dog steeds onder die naam “Pretoria-PEN”. In ‘n verklaring teenoor die nasionale boekeredakteur van die Naspersgroep, Elmari Rautenbach, het Roodt vandeesweek in Beeld gesê hy vind dit vreemd dat Olivier van Pretoria-PEN weggebreek het. “Nie net maak hy homself hiermee belaglik nie, maar eintlik alle Afrikaanse skrywers.” Hy vind dit ook verregaande dat hulle die internasionale PEN betrek by “’n kleingeestige vorm van organisasiepolitiek”.
Hy was tot dusver heel geduldig met Olivier en sy twee vriende, sê hy. Hy en sy nuwe bestuur het selfs aangebied om nogmaals ’n vergadering te reël waar hulle hul saak kan stel en daaroor stem. Daar sal ook tydens hul algemene jaarvergadering op 20 en 21 Januarie geleentheid wees om sodanige kwessies te opper en selfs ’n nuwe bestuur te verkies.
Die huidige bestuur van Pretoria-PEN, wat tydens ‘n buitengewone algemene vergadering op 18 November verkies is, bestaan uit: Roodt (president) Fransi Philips (visepresident), Gustav Venter (tesourier), Christo Pretorius en Karin Roodt (sekretaresse).
Omdat dr. Roodt ontevrede was met die eensydige en onakkurate berigte wat in Die Burger en Beeld verskyn het, het hy ‘n klag by die Persombudsman gelê. Dié klag word tans deur die ombudsman ondersoek.
Teen Vrydag het die polemiek ook na die webwerf LitNet uitgebrei waar ‘n debat daaroor gevoer word. Pretoria-PEN word deur sowel Olivier as Kerneels Breytenbach van Naspers se uitgewerye aangeval. Kerneels Breytenbach en ander werknemers van NB-uitgewerye poog reeds sedert Maart vanjaar om 'n nuwe skrywersvereniging op te rig, onder die naam die Afrikaanse Skrywersunie. Hoewel Breytenbach belowe dat sy vereniging "meer sigbare resultate as Pretoria-PEN sal behaal", beskik dit nog nie oor 'n grondwet of bestuur nie. Ook Fanie Olivier se wegbreekorganisasie, wat fel kritiek teen Pretoria-PEN se grondwet en bestuur lewer, het nog geen stigtingsvergadering gehou nie en het insgelyks geen grondwet of doelstellings nie. Hierteenoor het Pretoria-PEN onlangs sy grondwet hersien en geniet dit uitgebreide kontak met PEN Internasionaal, ander PEN-sentra in die buiteland, asook 'n tiental ambassades in Pretoria waarmee daar oor kulturele uitruilprogramme geskakel word.
"Die feit dat die ANC-regering so min op kulturele en literêre gebied doen om met ander lande te skakel, skep vir ons 'n geleentheid," sê dr. Dan Roodt. "Die meeste buitelandse ambassades en kulturele attachés in ons land is gretig om met Suid-Afrika en selfs Afrikaners projekte en kulturele wisselwerking aan te pak, solank dit deur 'n min of meer erkende internasionale kanaal soos PEN kan geskied." In vele ander lande word takke van PEN deur die tuisregerings befonds en gewoonlik word die internasionale kongresse deur hooggeplaastes van die tuisregerings geopen en bygewoon. PEN is insgelyks by UNESCO, die kulturele liggaam van die Verenigde Nasies as NRO geakkrediteer.
Die geskil tussen skrywers het egter in 'n meer algemene polemiek met politieke ondertone ontaard. Volgens Dan Roodt, wie se presidentskap van die vereniging deur Fanie Olivier, John Miles, Piet Haasbroek en Breyten Breytenbach teengestaan word, "gaan die geveg lankal nie meer oor Pretoria-PEN nie, maar om die wese van die Afrikaanse letterkunde. Dit gaan oor wie mag skryf en wie nie. En laat ons dit maar erken: die moderne Afrikaanse letterkunde het grotendeels misluk, danksy veral Brink en Breytenbach, maar ook Miles wat in hul dampkring verkeer."
Fransi Philips, visepresident van Pretoria-PEN, beaam haar "ongemak met 'n vorige geslag skrywers. Dis 'n snaakse ding, hierdie moraliteit van om teen jouself te moet draai. Ja, regtig, Afrikaans het 'n herlewing lankal nodig."
Philips is die skryfster van "Net 'n lewe" wat vanjaar die Lapa-romanwedstryd gewen het. Sy het voorheen by die Tsjeggiese ambassade in Pretoria gewerk en gee tans Engels in Podolks, ’n 18de-eeuse dorp buite Moskou.
"Ek het in die sewentigerjare al gevoel almal is oud en vervelig en voorspelbaar, en het ontsettende wroegings beleef oor hoe sleg ek daar ingepas het," sê Philips oor haar mede- Afrikaanse skrywers uit dié tyd. Sy voel die pogings om Dan Roodt en die bestuur van Pretoria-PEN verdag te maak, kom op sensuur en stigmatisering neer. "Almal besef daar is 'n groot krisis in die land, op alle gebiede, Dis waar dat daar meer onlangs kritiek uitgespreek is deur skrywers, maar hulle reageer net op die geweld omdat dit so ooglopend is. Oor die res, Afrikaans, die verval van die opvoedingstelsel, korrupsie, ons identiteit wat afgebreek word, daaroor is hulle eenvoudig nie gepla nie. Maar as iemand soos Dan Roodt iets daaroor te sê het, is dit op een of ander manier onaanvaarbaar, omdat hy die goetspa het om oplossings te soek. Daar is 'n ongelooflike sisteem van stigmatisering en sensurering aan die werk, oor 'n baie lang tyd."
Roodt voel ook sterk dat "die begrip verraad in ons letterkunde ondersoek moet word. Ek voel al geruimte tyd lus om 'n boek daaroor te skryf. Brink, Breytenbach et al het nie eintlik versetsliteratuur geskryf nie, dit moet eerder 'verraaiersliteratuur' genoem word. Ek wil Jaap Steyn se roman à clef oor Breytenbach, 'Dagboek van 'n verraaier', herlees. Ek kan onthou hoe Miles, Ampie Coetzee en al die ander selfverklaarde linkses destyds vir Steyn se boek gelag het, ek inkluis, tot my skande. Maar Steyn se kommer destyds oor Afrikanerverraad was byna profeties! Tans sit ons met die gevolge van verraad en al die verkeerde besluite en sienings wat in die verlede aangehang is. Maar wie probeer iets daaraan doen? Die meeste skrywers skitter in hul afwesigheid. Hulle skryf nou speur- of liefdesverhale, ontspanningslektuur. Op sigself is populêre vorme nie te versmaai nie. Maar soms is daar so 'n polities korrekte sous daarby wat dit ook maar na derderangse propaganda laat lyk. My slagspreuk is ook: Terug na die volk! Maar kom ons voed mense op en laat hulle die wonder van kuns smaak, selfs al is dit in die vorm van 'n roman noir, film noir of musiekfilm soos Sean Else se Platteland."
Gustav Venter, 'n derde lid van Pretoria-PEN se dagbestuur, beskryf homself as 'n "veelskrywer". Hy het al draaiboeke, jeugverhale en 'n (ongepubliseerde) roman genaamd Skaapsklere oor 'n charismatiese prediker geskryf, behalwe internetrubrieke en rugbyverslae op Praag wat meer aan Tom Wolfe as die gemiddelde sportverslaggewer herinner. "Eintlik is ons almal veelskrywers. Ek stem egter saam dat die ou Sestigerresep van bruin-man-slaap-by-wit-vrou uitgedien is. Vandag is die werklikheid eerder: swart man verkrag wit vrou. En hoe voel sy daaroor, sonder sensuur? Ras is die nuwe seks. Ons moet dit begin verken."
Roodt is dit hiermee eens. "Dit is waar wat Gustav sê. Die Sestigers het 'n resep gehad. Op 'n manier het hulle bloot Nadine Gordimer en Alan Paton in Afrikaans gedoen. Wat weer op hul beurt Britse en Amerikaanse modelle gehad het. Maar ons het geen resep of model nie. Ons is amper soos literêre Voortrekkers, pioniers wat die onbekende, die gevaarlike, moet aandurf. Daar is 'n storie wat by my spook, dié van 'n Afrikaanse digteres wat deur drie swart mans in 'n motor vekrag is. Uiteraard sal ek nie haar naam noem nie. Die punt is dat sy dit nie as verkragting ervaar het nie, want sy was liberaal en deurtrek van skuldgevoelens. Vir haar was dit meer soos die 'gedwonge seks' waarvan hulle in Soweto praat."
Maar hoe verander 'n mens 'n hele letterkunde? Brink en Breytenbach het al dosyne boeke gepubliseer en is internasionaal gekanoniseer. "Goed en wel," sê Roodt. "Maar 'n groot gebou wat op sand gebou is, verkrummel op 'n stadium en stort in duie. Net vanmôre het ek Sartre gelees oor kwade wil en onwaarheid. In soveel van die Sestigerwerke is daar kwade wil, die gevoel dat hulle dinge rek en trek om 'n bepaalde Britse of Amerikaanse stereotipe van ons werklikheid te pas. En Afrikaans is so klein, ons letterkunde is so klein. Vier, vyf skrywers kan dit verander!"
Volgens Roodt het hy en Venter vandeesweek onder 'n boom oorkant die Militêre museum in Johannesburg gestaan en bespreek hoeveel boeke 'n mens in 'n jaar kan skryf, om 'n nuwe moderne Afrikaanse letterkunde te skep. "Gustav sê toe: 'Barbara Cartland het 722 boeke in haar leeftyd geskryf. As jy gaan uitwerk hoeveel woorde per dag dit verteenwoordig, is dit baie. Sommige mense sê wel sy het dieselfde boek 722 keer oorgeskryf.' En ek vertel hom van Georges Simenon se drie hoofstukke per dag, van Balzac wat voor sy skuldeisers moes bly en 'n kolossale hoeveelheid met 'n gansveerpen geskryf het. En werk uit dat ek so een boek per maand behoort te kan skryf, teen 3 000 woorde per dag. Skryf kan soos fietsry wees, 'n uithouwedren. Jy kan elke dag oefen, in die oggend halfvyf opstaan, 30km gaan fietsry, dan 3 000 woorde skryf en teen elfuur is jy klaar en kan jy gewone dinge ook doen. Die 30-3-beginsel!"
Lees meer oor Pretoria-PEN op die vereniging se tuisblad.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





