praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Afrikaanse nuus 'Ek kan daardie klank steeds hoor'

'Ek kan daardie klank steeds hoor'

E-pos Afdruk PDF
'n Man wat tydens 'n rooftog by 'n supermark geskiet is, het geglo hy sou tereggestel word, het die Hooggeregshof in Pretoria Donderdag gehoor.

"Ek het 'n klik-geluid gehoor, maar geen skoot het afgegaan nie. Ek kan daardie klank steeds hoor," het André Erlank sen., 'n lid van die Mnandi-gemeenskapswag in Centurion, gesê in die verhoor van Mandla Ntuli (26).

Ntuli word daarvan beskuldig dat hy Erlank geskiet het. Hy word ook daarvan aangekla dat hy 'n lid van die gemeenskapswag, Louis Viljoen (39) vermoor het en Erlank se seun met 'n vuurwapen aangerand het. Hy het die Mnandi Spar op 2 Februarie 2009 beroof.

Ntuli pleit onskuldig op al die aanklagte. Sy vermeende medepligtiges, Mzokhona Nene (23) en Sibusiso Sibiya (24), is steeds soek.

Erlank het gesê hy en sy seun het by die supermark aangekom enkele minute voor die rooftog plaasgevind het. Sy seun was binne toe Erlank mense sien instap het.

Nog 'n man het ingestap, 'n vuurwapen by sy broek uitgetrek en dit in die winkel afgevuur.

Erlank het gesê hy het die Gemeenskapswag in kennis gestel, toe Ntuli sy motordeur oopgemaak en hom in die bors geskiet het.

Hy het uit die motor gekruip en is deur twee van die rowers teen die grond vasgepen. Hulle het sy sakke deursoek vir geld en sy selfoon.

Een van hulle het 'n vuurwapen teen sy kop gedruk en die sneller getrek, maar geen skoot het afgegaan nie.

Die rowers het gevlug toe lede van die Gemeenskapswag gearriveer het.

Erlank is deur 'n vriend na die hospitaal geneem. Die rowers het op hulle geskiet soos hulle weggery het.

Die verhoor duur Vrydag voort.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: