Vlootadmiraal Anthony Howell skryf in sy boek The Devil in the Detail: How the Arms Deal Changed Everything dat De Klerk,Thabo Mbeki en Chippy Shaik, vlootkontrakte in 'n bepaalde rigting gestuur het.
Paul Holden is medeskrywer van die boek.
Howell en ander militêre offisiere het in 1995 die Spaanse bod aanbeveel en voorleggings aan oudpres. Nelson Mandela en De Klerk, toe adjunkpresident, in dié verband gedoen. De Klerk het glo die Duitse bod teen die vloot se aanbevelings, verkies.
"Die Duitse owerhede het 'n betaling ondersoek van $22 miljoen [van die Duitse konsortium] aan 'n Libiese frontmaatskappy, Mallar Inc., en dié geld het regstreeks na Suid-Afrikaanse amptenare en kabinetslede gevloei ... Die man agter Mallar Inc. was na bewering ene mnr. Tony Georgiades," lui die verwysing in Howell se boek.
"Georgiades het glo sy noue bande met die apartheidsregering gebruik om 'n netwerk te vestig om die oliesanksies teen die apartheidsregime te verbreek.
"Sy noue band met oudpres. FW de Klerk is alombekend.
"De Klerk het in die vroeë 1990's, ten aanskoue van die media, verlief geraak op Georgiades se vrou (Elita) en is later met haar getroud." De Klerk se eerste vrou Marike is daarna op raaiselagtige wyse in haar woonstel vermoor.
Dave Steward, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, het namens De Klerk ontken dat hy by Georgiades se wapentransaksie-handelinge betrokke was.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





