praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Afrikaanse nuus PRAAG verwelkom Nederlandse steun vir taalstryd

PRAAG verwelkom Nederlandse steun vir taalstryd

E-pos Afdruk PDF

Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG) het die steun van die Nederlandse Partij voor de Vrijheid (PVV) vir die Afrikaanse taalstryd verwelkom. "PRAAG werk reeds lank daaraan om die taalstryd te internasionaliseer en daarom verteenwoordig die PVV se versoek aan die Nederlandse Taalunie vir ons 'n deurbraak," het dr. Dan Roodt, leier van die beweging, gesê.

Lees ook ons vorige berig: Nederlandse Taalunie gevra om vir Afrikaans te veg.

Drie parlementslede van die PVV, M. Bosma; H Beertema en J Driesen, het gister 'n beroep op die Vlaamse minister Pascal Smet en die Nederlandse staatsekretaris Halbe Zijlstra gedoen "om hulself te sterk om Afrikaans te red by die SA universiteite". Bosma, wat 'n skrywer is, is insgelyks voorsitter van die interparlementêre kommissie van die Taalunie. Hy het gevra dat die Taalunie die Suid-Afrikaanse regering "kragtig aanspreek" oor die institusionele agteruitgang van Afrikaans.

Insake die voortdurende polemiek rondom die kreeftegang van Afrikaans as onderrigmedium aan die Universiteit van Stellenbosch, het dr. Dan Roodt hom soos volg uitgelaat: "Ons verwelkom die pogings van oud-studente om 'n mosie van wantroue in die universiteit se taalbeleid in te stel. Nietemin moet die taalprobleme van Suid-Afrika ook as 'n regstreekse gevolg van die doktrine van die nasionale demokratiese revolusie gesien word. Die totalitêre denke onderliggend aan dié doktrine,  wat na die voormalige Sowjetunie terug te voer is, belemmer 'n sinvolle taalbedeling vir die land."

Roodt het ook die Freedom Charter, wat deur die SA regering en opposisie onderskryf word, uitgesonder as 'n dokument "wat kulturele sosiogeniëring as uitgangspunt het".

Sedert sy besoek verlede jaar aan Nederland en Vlaandere waartydens die taalkwessie met die Nederlandse media en parlementariërs bespreek is, het dr. Dan Roodt verskeie onderhoude en meningsartikels in Nederlandse koerante gepubliseer. PRAAG is nou van plan om ook die Europese Unie te nader om sy steun vir taalgelykheid in Suid-Afrika uit te spreek. "Terwyl Europa groot moeite doen om taalgelykheid tuis te erken, moet hy ook die toepaslikheid van hierdie beginsel in Suid-Afrika bevestig."


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: