'n Woordvoerder vir die minister van korrektiewe dienste, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het Sondag benoud vure doodgeslaan omdat Clive Derby-Lewis se parool vir 'n tweede keer geweier is.
'n Anonieme oproeper het die openbare beskermer (OB) intussen versoek om die paroolaansoekproses te ondersoek, luidens 'n berig in Die Burger.
Volgens Sapa het Derby-Lewis se regsverteenwoordigers die minister van "dubbele standaarde" in sy parool-aansoekproses beskuldig.
Die minister se woordvoerder het gesê daar is nog nie 'n aansoek om mediese parool ontvang nie. Dit is glo nie weens "persoonlike gevoelens" teen die veroordeelde Derby-Lewis dat hy nog sit nie.
Derby-Lewis (75) het 18 jaar van sy 25 jaar vonnis uitgedien nadat hy medepligtig aan die moord op die voormalige SAKP-leier, Chris Hani, was.
Sy aansoek om parool is reeds twee keer geweier.
"Die minister het die aansoek om gewone parool geweier, omdat hy sedert die misdaad in 1993 nog geen berou getoon het vir sy daad en die impak wat dit op die land gehad het nie.
"Daar was ook nog geen aanduiding of erkenning van sy kant dat hy bereid is om deel van 'n demokratiese Suid-Afrika te wees nie," het die woordvoerder gesê. Hy het gesê die regering is daarom genoodsaak om by die "wette en beleid" te hou.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





