Dr. Ruweida Moorad het die wond in detail beskryf en gesê sy glo dit is die eerste wond wat Terre'Blanche in die aanval opgedoen het.
"Dit is my opinie dat die besering aan die kop die eerste besering was, gevolg deur die gesig en toe die borskas en bobene. Dié eerste tipe besering sou die oorledene bewusteloos maak."
Die kapwond het 'n snyplek aan die brein veroorsaak. Terre'Blanche het veelvuldigde breuke aan ondermeer sy skedel en onderkaak opgedoen.
Terre'Blanche het ook kneus- en snyplekke aan verskeie dele van sy lyf, insluitend sy tong en lewer opgedoen. Al die beserings was aan die voorkant van sy liggaam.
Moorad het tydens die lykskouing geen beserings van "tipiese verdediging" gevind nie. Dít dui daarop dat Terre'Blanche nie probeer het om sy aanvallers teë te sit nie.
Sy het saamgestem dat Terre'Blanche se beserings ooreenstem met dié wat met 'n panga toegedien is. Terre'Blanche is dood weens stomp geweld aan die kop, borskas en nek.
"Dalk toe dit (die lyk) in 'n lyksak vervoer is, het dit (die semen) afgevee. Ek weet regtigwaar nie," het dr. Ruweida Moorad in die rondgaande hooggeregshof op Ventersdorp gesê.
Die vog, glo semen, is gesien in foto's wat op die misdaadtoneel van sy lyk geneem is. Die vog was nie sigbaar toe Moorad haar ondersoek uitgevoer het nie.
Moorad het gesê die lyk was gevries. Sy het op 6 April, drie dae ná die moord op Terre'Blanche, 'n lykskouing gedoen.
Dit beteken waarskynlik dat twee belangrike items op die moordtoneel, naamlik die oorledene se onderklere en die beweerde semen, nie forensies getoets is nie.
'n Polisielid, Bobby Sephiphi het Woensdag getuienis oor die dié twee items gelewer wat nie vir ondersoek ingeneem is nie.
Terre'Blanche is op 3 April verlede jaar op sy plaas aan die buitewyke van Ventersdorp, vermoedelik in 'n dispuut oor lone, vermoor.
Albei beskuldigdes het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, huisbraak en poging tot roof met verswarende omstandighede.
Mahlangu beweer hy het uit selfverdediging opgetree, terwyl die 16-jarige enige betrokkenheid in die moord ontken het.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





