'n Boer van Groblersdal, Limpopo, Piet Swart (57), is in hegtenis geneem op aanklag van die moord op 'n 14-jarige swart seun.
Hy sal vandag in die landdroshof op Groblersdal verskyn op aanklag van moord en poging tot moord.
Nog 'n 17-jarige is gewond in die voorval wat Dinsdag in die Krokodilbrug-gebied plaasgevind het.
Lt.kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê Swart het Dinsdagmiddag laat die vier seuns - tussen 14 en 17 jaar oud - op sy plaas betrap waar hulle sonder toestemming visgevang het.
Hulle woon op 'n buurplaas, waar hul ouers arbeiders is.
Volgens die polisie het Swart glo met 'n haelgeweer op die groep tieners losgetrek en die 14-jarige noodlottig in die kop getref. 'n Ander is in die linkerhand getref. Die res het op vlug geslaan.
Swart het die twee gewonde seuns na 'n hospitaal in Groblersdal geneem waar die jonger een by aankoms dood verklaar is.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





