praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Afrikaanse nuus Moordbeskuldigde vrees ET, vra glo polisiehulp

Moordbeskuldigde vrees ET, vra glo polisiehulp

E-pos Afdruk PDF
Chris Mahlangu, wat van die moord op Eugene Terre'Blanche beskuldig word, het die polisie voor die moord om hulp genader, het die rondgaande hooggeregshof op Ventersdorp Woensdag gehoor.

Mahlangu (28) is weggewys omdat nie een van die polisiebeamptes Terre'Blanche wou konfronteer nie.

"Hy het voor die voorval gesê hy het 'n probleem met die oorledene. Hy het gesê hy is al voorheen deur die oorledene geslaan en dat Terre'Blanche hom gewurg en opgetel het," het Kgomotso Tlouane, Mahlangu se regsverteenwoordiger, gesê.

"Hy [Mahlangu] het verder getuig dat hy probeer het om dit by die Ventersdorp-polisiekantoor aan te meld, maar dat polisiebeamptes nooit na hom geluister het nie."

Mahlangu het gehoor hoe polisiebeamptes mekaar vra wie met Terre'Blanche gaan praat. Hy het die indruk gekry dat hulle bang was, omdat niemand die AWB-leier wou konfronteer nie.

Tlouane het gesê Mahlangu sal getuig dat hy een keer geslaan is. Die 28-jarige was "behoeftig, sonder geld en kos en hy was nie 'n geleerde man nie".

Die polisiebeamptes het nooit aan hom verduidelik wat sy opsies is nie. Mahlangu het nie 'n ander keuse gehad as om na die plaas terug te gaan en geslaan te word nie, het die hof gehoor.

Mahlangu het egter nie sigbare merke gehad om vir die polisie te wys nie.

Terre'Blanche is op 3 April verlede jaar op sy plaas aan die buitewyke van Ventersdorp, na bewering tydens 'n loondispuut, vermoor.

Albei beskuldigdes het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, huisbraak en poging tot roof met verswarende omstandighede.

Mahlangu beweer hy het uit selfverdediging opgetree, terwyl die 16-jarige enige betrokkenheid in die moord ontken het.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: