praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 23. February 2012

Bygewerk op:06:37:14 PM GMT

Jy is hier: Nuus Afrikaanse nuus 'Baie bloed, beserings' en gesteelde kabels

'Baie bloed, beserings' en gesteelde kabels

E-pos Afdruk PDF
Die AWB-leier Eugene Terre'Blanche het "baie beserings", bloed op sy gesig en 'n panga op sy bors gehad toe hy dood aangetref is, het 'n polisiebeampte Woensdag getuig.

Sers. Jack Ramonyane het in die rondgaande hof op Ventersdorp gesê Terre'Blanche se lyk het in sy plaashuis op 'n bed gelê. Hy is die vyfde getuie wat die twee moordbeskuldigdes uitgewys het.

Hy het gesê die mure en 'n staalpyp was met bloed bevlek.

Die plaashuis was gesluit toe Ramonyane by die moordtoneel opgedaag het. 'n Nooddienswerker van EMS het die deur oopgemaak.

Ramonyane sê hy het nie dadelik ingegaan nie.

"Van Heerden [van EMS] het gevra dat ons wag voor ons ingaan aangesien dit binne die huis donker was. Daar was honde binne en hy het aangedui dat die honde ons kan byt..."

Hy sê Van Heerden het 'n toe flitslig gebruik.

In daardie stadium was die twee beskuldigdes – Chris Mahlangu (28) en 'n minderjarige – in die polisievoertuig wat buite die huis gestaan het.

Ramonyane sê hy het hulle na die huis geneem nadat hulle erken het dat hulle Terre'Blanche doodgemaak het.

Die polisiebeampte was op 3 April 2010 besig om die gebied te patrolleer toe hy op die beskuldigdes naby die plaaslike treinspoor afgekom het.

"... Mahlangu het aan my verduidelik dat hulle met hul werkgewer baklei het; oor twee maande se lone wat nie betaal is nie," het Ramonyane in die hof gesê.

"Ek het hom toe gevra hoe ernstig sy werkgewer beseer is... Mahlangu het gereageer deur te sê: 'Ons het hom doodgemaak'."

"Hy [Mahlangu] het nie soos iemand gelyk wat so iets kon doen nie aangesien hy vry, kalm en nie bang was nie."

Die beskuldigdes het aan Ramonyane gesê dat hulle genoeg gehad het.

Ramonyane sê Mahlangu het aan hom gesê hy het Terre'Blanche se selfoon gehad en wou dit verkoop om te vergoed vir sy agterstallige loon.

Vier ander getuies het reeds getuig dat Mahlangu en die tiener erken het dat hulle die misdaad gepleeg het.

Beide het skuld ontken op aanklag van moord, huisbraak en poging tot roof met verswarende omstandighede.

Mahlangu beweer hy het uit selfverdediging opgetree, terwyl die tiener enige betrokkenheid ontken het.

Ramonyane se getuienis duur voort.

Die verhoor van Eugene Terre'Blanche se vermeende moordenaars is Woensdagoggend weens 'n kragonderbreking vertraag voor Ramonyane se getuienis.

Volgens hofbeamptes is kabels by 'n Eskom-aanleg sowat 20 km buite die dorp, gesteel.

Beamptes het gesê 'n kragopwekker is opgestel om verrigtinge voort te sit.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: