‘n Onderwyseres van Ermelo en haar seun is Saterdagmiddag weens ‘n polisiefout met ‘n registrasienommer in hegtenis geneem en ure lank aangehou. Indien ‘n familielid nie tussenbeide getree het en haar vrylating geëis het nie, sou sy verder aangehou gewees het en dalk haar motor kwyt gewees het.
Me. Elna Middel, wat haar motor reeds tien jaar besit, is tussen die tolhek en Middelburg deur twee polisiemotors agtervolg. By die Hendrina-afrit is sy deur die polisie van die pad gedwing en beveel om uit haar motor te klim.
Haar vraag oor waarom sy van die pad gedwing is, is met die teenvraag beantwoord: “Wie se motor is dit dié?” Blykbaar het die polisie aggressief en dreigend teenoor haar opgetree. Op haar versekering dat die motor reeds tien jaar in haar besit is, het die lede van die SAPD geantwoord dat die motor as gesteel in Witbank aangemeld is.
Hierna is sy beveel om in die polisiemotor te klim, met die bykomende dreigement dat haar seun geboei en agter in ‘n ander motor gegooi sou word indien hy sou teenstribbel. Hierdie dreigement is in Zoeloe tussen die twee polisiemanne gemaak, maar omdat haar seun Zoeloe magtig is, kon hy dit verstaan en het beswaar aangeteken. Nadat ma en seun in aparte motors na die Middelburgse polisiestasie vervoer is, blyk dit dat die polisie ‘n fout met die registrasienommer van die gesteelde voertuig gemaak het. Desnieteende het die polisie verseg om haar vry te laat totdat haar motor van “die stelsel” verwyder kon word, iets wat slegs op ‘n werksdag moontlik is.
“Die hele ervaring was vir my erg ontstellend en vernederend. As wetsgehoorsame burger is ek soos ‘n misdadiger behandel,” het me. Middel aan praag.co.za gesê.
Van 15.30 tot 19.00 is sy wederregtelik deur die polisie aangehou totdat sy deur die tussenkoms van ‘n familielid bevry is.
Dog hierna het die polisie steeds volstrek geweier om haar motor terug te gee wat kwansuis op “die stelsel” gelys was. Uiteindelik het die polisie ingestem dat sy haar motor kon terugkry mits sy Maandagoggend die polisie-offisier kontak om dit van “die stelsel” verwyder te kry.
Maandag het ‘n ontstelde me. Elna Middel die offisier van hul fout in kennis gestel, maar van ‘n beloofde besoek van hom om die vergissing reg te stel, het intussen dadels gekom.
Dinsdag is sy na die polisie se eenheid vir gesteelde motors om haar motor van die stelsel te probeer afkry, maar is deur die polisie na die lisensiekantoor toe gestuur om vir hulle die nodige klaringsvorms te gaan haal sodat dit aan die klaringsoffisier teruggestuur kan word.
Teen vandag, Woensdag, is haar motor steeds amptelik "gesteel" en die klaringsoffisier het nog nie sy opwagting gemaak nie.
Volgens me. Middel is sy “‘n onderwyseres met min geld of tyd om aan hierdie burokratiese rompslomp te bestee. Ek moes al hoeveel selfoonoproepe op my eie onkoste maak om die probleem reggestel te kry en voel dis erg onregverdig."
| < Vorige | Volgende > |
|---|





