praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Afrikaanse nuus 'Ek's nou baas...'

'Ek's nou baas...'

E-pos Afdruk PDF
Die plaaswerker Chris Mahlangu en sy minderjarige medebeskuldigde het glo oor die moord op Eugene Terre'Blanche, AWB-leier, "gespog", het die hof Dinsdag gehoor.

Albei getuies wat op 'n buurplaas woon, het in die rondgaande hof op Ventersdorp gesê die twee het kort ná die moord erken dat hulle Terre'Blanche op 3 April verlede jaar vermoor het.

"Die twee mans het by my woonplek aangekom en Mahlangu het gesê 'ek is vandag jou baas... Ek het Terre'Blanche vermoor'," het Enie Matshediso getuig.

Mahlangu wou haar na die moordtoneel neem, maar Matshediso het geweier.

"Hy het toe my kêrel gevra om sy foon te leen om die Potchefstroom-polisie te bel," het sy gesê.

"Ons het geweier en gesê hy moet weggaan. My pa het toe uitgekom en hom weggejaag."

Nóg 'n plaaswerker, Richard Silane, het gesê Mahlangu het dieselfde met hom gedoen.

Silane, wat op 'n buurplaas werk, het die minderjarige in die hof uitgewys as die persoon wat die telefoonoproep gemaak het.

Die hof het gehoor dat Silane nie gesien het watter klere die minderjarige aangehad het nie, maar onthou dat hy bloed op Mahlangu se oorpak gesien het.

Hy het nie alkohol by die twee geruik nie, en het nie die gesprek met die polisie gehoor nie.

Silane het gesê die minderjarige "was in 'n goeie toestand" en het nie bang gelyk nie.

"Toe hulle klaar is, het hulle gesê hulle gaan loop en dat die polisie hulle langs die pad sou kry. Hulle het toe in die rigting van Terre'Blanche se plaas gestap... Ek het hulle nooit weer gesien nie."

Die twee word daarvan beskuldig dat hulle Terre'Blanche op sy plaas verlede jaar in 'n loongeskil vermoor het.

Albei het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, huisbraak en poging tot roof met verswarende omstandighede.

Die verhoor duur voort.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: