Tydens ons onlangse toer van Krugersdorp na Kgalagadi het ons drie viertrekvoertuie getoets, voorwaar 'n besondere voorreg. Hier volg ons ry-indrukke van die viertrekveldtemmers.
Jeep Grand Cherokee 3.6 V6 Overland
Die Jeep het hom goed gedra; ons was drie mense in die voertuig met ‘n kampeeryskas, 45-literkoelkas, herwinningstoerusting, twee kratte kos, 20 liter drinkwater, klere, asook kampeertoerusting en -stoele. Die Amerikaanse veldvoertuig was tot teen die dak gelaai met net genoeg oop sitplek vir my, Sonya en Monet. Ons het 134 liter petrol gebruik en dit was net eenkeer nodig om die Jeep in laestrek te ry en dit was by Vanzylsrus teen die duin uit. Ooppadverrigting is uitstekend en selfs met die Grand vol gelaai het ek nooit gevoel die 3,6 liter V6 Pentastar-enjin werk nou hard nie. Ons toerkonvooi het nooit meer as 110 km/u gery nie en die togbeheer waarmee die Jeep toegerus is, het die rit baie gemaklik gemaak. Die Overland-spesifikasie waarmee ons toetsvoertuig toegerus was, het verhitte sitplekke met ‘n verkoelingsfunksie as standaardtoerusting ingesluit. Die verkoelingsfunksie was nogal handig in die Kalahari, want die kwik het vir so twee dae ver oor die 30 grade getrek en dit was juis die verkoelde sitplekke wat my in die diep sand laat kophou het. Die Jeep se bougehalte is puik en selfs ná 500 kilometer in die stof het ek glad nie stof in die Jeep se kajuit geruik nie. Daar was geen noemenswaardige geratel ná al die grondpaaie wat ons gery het nie en selfs nie eens ‘n pap band ná al die bospaadjies waar ons gekampeer het nie.
Wat my gepla het van die Jeep
Die toetsmotor was pikswart. Nou weet ons almal dat dit 'n mite is dat swart motors warmer as ander kleur motors is, maar die swart het my baie laat lyk soos een van die ampsdraers van die plaaslike regering en daarvan het ek nie baie gehou nie. Die swart het ook baie gouer al die Kalahari-stof gewys. Ons toetsvoertuig was toegerus met die standaard 20 duim 265/50 R20 BSW 3-werksverrigtingbande wat die sandryery baie moeilik gemaak het. Die opsionele “Off–Road Adventure II”-pakket wat 18 duim 265/60 R18 BSW All terrain-bande insluit sou hierdie Jeep in ‘n heel ander klas op dié tipe paaie geplaas het. Die pakket sluit ook skaafplate vir die onderkant van die voertuig in wat die gras ook sommer uit die dryfasstelsel sou uithou. Ons toetsvoertuig se kompas was ook die hele tyd verkeerd; hy het nooit die regte rigting aangedui nie. Nou moet ek bieg dat dit my skuld kon gewees het, want ek het nooit voor die tyd seker gemaak dat die kompas reg gekalibreer is nie. Aan die ander kant: die GPS-stelsel het 100% gewerk en ek kon nie verstaan dat die kompas en die GPS nie wou saamwerk nie.
Wat my beïndruk het van die Jeep
Die Jeep het vir seker die meeste pakplek van die drie motors gehad; die sitplekke wat plat vou en die lengte van die laairuim is regtig indrukwekkend. Die rygerief was uit die boonste rakke en dan die toerusting wat ingesluit is by die prys van R582 000 is net verstommend. Leer- en houtafwerking, verhitting/verkoeling vir die sitplekke en stuurwiel, lugvering, panoramiese glasdak, 210 Kw se krag, lugfiltreringstelsel vir die kajuit, “Smart Beam”- slim hoofligte wat aankomende verkeer in ag neem met die sterkte van die hoofligte... Die lys gaan net aan. Die Jeep is bykans R70 000 goedkoper as die Nissan Pathfinder en slegs R30 000 duurder as die Pajero GLX wat nie naastenby so goed as die Jeep toegerus is nie.
Nissan Pathfinder 3,0 dCi V6 V9X LE
Mike het alleen in die Pathfinder gery met al die sitplekke plat gevou sodat die kampeertoerusting, plus van die kos en ‘n 45-literkoelkas sowel as 'n seil-gazebo van 6x4 meter en water kon inpas.
Wat my gepla het van die Nissan
Ek weet nie of dit net hierdie spesifieke voertuig is nie en of dit 'n eienskap van die Pathfinder is nie, maar die voertuig se stert het kwaai gehang. Hy was vol gelaai maar nie veel swaarder as wat sewe insittendes met bagasie sou wees nie. Ons het ook die swaarste goed in die middel van die voertuig probeer pak sodat daar juis nie baie gewig op die agterwiele moes wees nie. Die Pathfinder het op heelparty plekke sy stert op die sand gesleep, veral in die diep sand van die kaplyn. Ons het eers gedink dit is die noodwiel wat onder die bak gemonteer is , maar agtergekom dit is die agterste ewenaar wat laer as die wiel hang. Mike besit self ‘n 1998 Nissan SANI-stasiewa en die Pathfinder is inderdaad kleiner binne as die SANI. Op sy hengeluitstappies slaap Mike gereeld agter in die SANI as die sitplekke plat gevou is. In die Pathfinder kon Mike wat nie eers ses voet lank is nie, nie plat lê met al die sitplekke plat gevou nie. Ek was ook seker bederf met die puik bougehalte van die Jeep, maar die Pathfinder het heelwat meer virbrasies op die grondpaaie as die Jeep gehad en jy kon duidelik die stof ruik wat heel agter aan die linkerkant by ‘n klein luginlaat in die kajuit ingesuig is. Die Pathfinder was ook met standaard- padbande en nie All Terrain-bande toegerus nie, wat waarskynlik die sandry bietjie makliker sou maak.
Wat my beïndruk het van die Nissan
Wel, die klankbaan van die Pathfinder se 3,0 liter V6-turbodiesel met nie minder nie as 170 Kw, is werklik iets besonders. Die Pathfinder is toegerus met leersitplekke wat elektronies verstel, ‘n navigasiestelsel met ‘n geheue vir musiek, ensovoort, asook 'n werklike baie gebruikersvriendelike elektroniese vierwielstelsel wat maklik met die draai van 'n knop die voertuig vir van die moeilikste paaie gereed het. Sonder die trekkrag van 550 Nm wat die Pathfinder sonder enige inspanning ontwikkel, sou ons vir seker baie moeiliker in die sand gery het, juis omdat die stert so laag gehang het. Mike het 136 liter diesel in die Nissan gebruik.
Mitsubishi Pajero GLX LWB
Wilma en Tersia was die meeste van die tyd in die Pajero. Hulle het ook die agterste sitplekke plat gevou om plek te maak vir twee tasse, ‘n vyfmankoepelseiltent met spanseil, kos, water en ‘n 45-literkoelkas. En vroumense kan ‘n klomp goed saamry!
Wat my gepla het van die Pajero
Om die waarheid te sê, was daar bitter min wat gepla het. Die voertuig het presies gedoen waarvoor hy ontwerp is. As ek nou regtig krities moet wees, sou ek sê die dik plastiekbakskorte wat aan die onderkant van die deure aangebring is en by die buffers aansluit het heelwat krappies in die bosse opgedoen. Die feit dat die Pajero ook hoë agterhoeke het, het ook die bosryery bemoeilik. Waar die ander twee voertuie maklik onder deur ‘n bos kon gaan, het dit mooi ry gekos om nie die Pajero te krap nie. Daar is dan ook ‘n paar fyn haarkrapmerkies veral op die agterste boonste hoeke opgedoen.
Wat my beïndruk het van die Pajero
Die Pajero se bakwerkkleur was werklik die mees sindelike kleur. Die blougrys metaalkleur het die minste stof gewys en ons het van die mooiste foto’s van die Pajero in die Botswana-son kon kry. Die Pajero was ook die enigste een van die drie wat met All Terrain-bande toegerus was en dit het werklik ‘n groot verskil op die sandpaaie van die kaplyn gemaak. Die navigasiestelsel van die Pajero was ook vir my die indrukwekkendste met die hoogte bo seespieël en kompasrigting wat duidelik aangedui is. Die laestrekratte wat met ‘n tweede hefboom geskakel kan word, was ook meer ou-skool wat nie so gebruikersvriendelik soos die Jeep en die Nissan was nie, maar meer vertroue as die twee nuwer voertuie ingeboesem het. Ons het 135 liter diesel in die Pajero gebruik.
Gevolgtrekking
Teen R544 588 is die Mitsubishi Pajero 3,2 Di-D GLX LWB outomaties die goedkoopste van ons drie toetsmotors. Hy het nou wel ‘n nuwe 140-Kw-turbodieselenjin, maar die res van die Pajero voel oud, nie heeltemal tegnologies in die klas van die ander twee nie. Met Dakar-ondervinding en verkope beter as dié van die Pathfinder gee die kopers seker nie te veel hieroor om nie. Die Pajero was die beste toegerus vir die omstandighede waaronder ons getoer het met die All terrain-bande maar hy was ook die enigste voertuig wat oral gras onder die bakwerk bymekaar gemaak het. Daar is ‘n dwarsstaaf ter versterking van die onderstel wat kort-kort gras versamel het. Alhoewel dit nie naby die uitlaatstelsel of dryfstelsel was nie, kan dit sonder ‘n skaafplaat dalk ‘n probleem veroorsaak. Die Pajero is ook die enigste voertuig waar ons twee saadnette nodig gehad het omdat daar onder baie laag naby aan die pad ook ‘n verkoelerinlaat sit wat ten spyte van die net nog steeds gras bymekaar gemaak het. Die Nissan Pathfinder 3,0 V6 dCi 4x4 outomaties klink mooi as jy hom bietjie vet gee, hy het die tweede meeste krag vir ‘n diesel in die klas naas die Disco 4, maar met die agterste ewenaar en noodwiel wat onder die voertuig in die sand sleep, dink ons die Pathfinder sal beter vaar waar die paaie meer gelyk is. Dink nou net as ons 'n wiel moes vervang, dan moes ons die noodwiel eers uit die sand uit grawe om dit van die voertuig af te kry en dan die voertuig nog hoër oplig om die ou band weer onder die voertuig in te kry. Die Nissan Pathfinder is ook heeltemal te duur vir wat die voertuig bied. Teen R652 000 is hy selfs duurder as die Nissan Murano of Z370 Roadster. Hy is bykans R107 000 duurder as die Pajero en R2 000 duurder as die Toyota Prado VX Diesel, selfs R28 000 duurder as die Land Rover Discovery 4 TD SE wat sonder twyfel die leier in die segment is. Wat die Jeep Grand Cherokee 3,6L Overland betref is hy die enigste een van die drie wat petrolaangedrewe is. Dit op sigself is ‘n terugslag op die huidige oomblik. Alhoewel ons geen probleem met die beskikbaarheid van petrol in Botswana gehad het nie, kan dit ‘n probleem raak in die res van Afrika. Die Jeep is wat rygerief en toerusting aanbetref in ‘n ander klas, na my mening die naaste aan die segmentleier-Discovery 4 van al drie die voertuie. Teen R582 000 vir die Overland soos ons toetsvoertuig, is dit net die 5,7 V8 Overland wat nog meer krag bied in die Jeep-stal en selfs hy teen R631 000 is goedkoper as die Pathfinder. Die Jeep is meer gesofistikeerd en verfynd as ooit tevore, luukser as ooit tevore en met die Quadra-Trac II- en Quadra-Drive II-vierwielstelsel en geslote lugvering wat sy eie lug aanboord in ‘n silinder berg, is dit werklik net die luukste HSE Disco 4 wat die Jeep troef. Met bykans identiese brandstofverbruiksyfers as die ander twee dieselvoertuie kan ons nie wag vir die turbodieselmodel wat dalk later in 2011 plaaslik beskikbaar sal wees nie. Dus vir ons Kalaharitoer 2011 plaas ons die drie voertuie soos volg vir algemene werkverrigting, brandstofverbruik en gebruikersvriendelikheid.
1. Jeep Grand Cherokee 3,6L Overland (13,58 L/100km vir ons toer)
2. Mitsubishi Pajero 3,2 Di-D GLX Lwb AT (13,38 L/100 km vir ons toer)
3. Nissan Pathfinder 3,0 dCi 4x4 AT (13,48 L/100 km vir ons toer)
Dankie aan Chrysler SA vir die Jeep, Nissan SA vir die Pathfinder en Mitsubishi SA vir die Pajero.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





