Ek, as motorjoernalis, het al baie motors in my loopbaan bestuur. Min van hulle het egter die uitwerking wat die BMW 530d op my gehad het. Die 5-reeks is die besigheidsklassedan van die Beierse vervaardiger. Deur die leeftyd van die 5-reeks is hy al ‘n paar keer as die beste motor van sy tyd benoem. Die vorige generasie 5-reeks was baie goed en die V10 wat in die M5 gebruik word, is ook al as enjin van die jaar aangewys. Die ontwerp was net soos in die geval van die vorige 7-reeks baie omstrede. Dit is nou ‘n sinoniem vir Chris Bangle. Jy het óf van die motor gehou óf dit met ‘n passie gehaat. Die feit bly staan, dit maak nie saak wat jou mening oor die buitelyne van die 5- of die 7-reeks was nie, die Duitse rygoed is net op ‘n ander vlak van tegnologiese ontwikkeling as die res van die motorwêreld. Tegnologies is dit ongelooflik hoeveel die manne in die wit jasse in een motor kon inbou.
Ontwerp
Die nuwe 5-reeks se kodenaam is die M10, en as jy voorheen ‘n BMW-aanhanger was en van die lyne van die 5-reeks gehou het, sal die nuwe 5-reeks jou werklik betower. Selfs nou nadat ek die 530d wat ons vir 7 dae gehad het terugbesorg het aan BMW SA, moet ek stilstaan om die mooi lyne van die motor in te neem wanneer daar een verby my ry. Dit is asof die ontwerpers, nie meer Chris Bangle nie, dit net mooi reggekry het om ‘n perfekte balans tussen funksionaliteit, sportiwiteit, effektiwiteit en sommer net skoonheid te vind. Die nuwe 5-reeks kan van enige hoek af bekyk word; jy sal moeilik ‘n afwyking van die bogenoemde ontwerp opdrag vind. Alles is so te sê perfek. Die rondings sit op die regte plekke, die oorhange voor en veral agter is net reg, die ligte kon nie beter gevorm word nie en die daklyn en selfs die aanhangsels soos handvatsels en spieëls is ergonomies volmaak. Baie keer in ‘n ontwerp van ‘n motor sien ‘n mens iets raak wat beter kon wees of kleiner of groter of sommer net nie by die res van die motor pas nie, nie hier nie. BMW kon na ons mening niks byvoeg of weglaat nie. Dit is dan ook geen wonder dat die nuwe 5-reeks so pas die gesogte ontwerpprys van die “International Forum Design” in München gewen het nie. Wat so besonders is van die toekenning is dat dit ‘n internasionale ontwerptoekenning is wat nie net op die motorbedryf gemik is nie. Daar was in vanjaar se kompetisie nie minder nie as 2 756 produkte vanuit 1 121 inskrywings uit 43 lande van regoor die wêreld.
Binneruim
Met die langste asafstand in sy klas, bied die 5-reeks meer as genoeg binneruimte. Die een plek waar ek persoonlik nie baie van enige BMW gehou het nie was die binneruim. In die vroeë jare negentig was al BMW se motors om die bestuurder gefokus en alles het net reg gevoel. Toe kom die Bangle-era, ja, dis weer die Bangle-ou en skielik het die hele gevoel van die BMW verander van ‘n persoonlike ryding tot ‘n besigheidsklas-eksklusiewe-sonder-persoonlikheid-koue-plek. Nou is ek bly om te kan sê, die gevoel van die oorspronklike BMW 5 is terug. Dit is nou uitstekend gekombineer met klas en sofistikasie. Ons toetsmotor se binneruim was in pikswart leer uitgedos. Die kwaliteit van die stikwerk en die kombinasie van hout- en leerafwerking om die knus dog luukse gevoel te onderstreep, tref jou vol in die gesig. Daar is nie so ‘n oormaat knoppies soos in die vorige weergawe nie. Dit is hoofsaaklik te danke aan die nuwe iDrive-stelsel wat baie makliker is om baas te raak as enige van die vorige stelsels. Die motor beskik oor ‘n sleutellose toegang, wat jou in staat stel om die motor oop te sluit en aan te sit sonder om die sleutel uit jou broeksak uit te haal. Jy sien, die motor herken die sleutel sodra dit binne ‘n sekere afstand van die slotte af is, lees die kodes en sodra jy wat die sleutel in jou sak het aan die deur vat sluit hy die deur outomaties oop. Daar is dan ook ‘n aansitknop wat jy druk om die enjin aan te skakel. Dieselfde geld hier: die sleutel moet net binne leesafstand van die aansitterslot wees om die hele ketting van gebeure aan die gang te sit. Wat die uitleg van die instrumentpaneel betref, is dit nogal ‘n baie aangename gesig. Alles is duidelik en goed verlig met geen weerkaatsing nie. Inteendeel, die enigste weerkaatsing wat daar is, is die “Head Up Display” soos BMW dit noem. Die stelsel weerkaats die spoed- en sleutelinligting voor die bestuurder teen die voorruit. Die weerkaatsing is baie direk en slegs sigbaar as jy reg agter die bestuurder op dieselfde hoogte as hy na die voorruit sou kyk. Dit is baie subtiel en glad nie steurend vir die bestuurder nie. Hierdie funksie verseker dat die bestuurder nie nodig het om sy oog vir ‘n oomblik van die pad voor hom af te haal nie. Gemak en gerief is die leuse hier en die 530d wat ons onder hande gehad het, was ook toegerus met twee tienduim-DVD-skermpies in die voorste kopstutte. Die skermpies stel die agterste insittendes in staat om elk na individuele DVD’s te kyk of musiek met oorfone te luister. Die agterste klimaat in die motor kan ook individueel verstel word vir links of regs. Dit maak hierdie binneruim ‘n baie gemaklike plek, sou jy dalk om een of ander rede agter in jou 530d moet ry. Daar is ‘n elektroniese sondak en blindings vir die kantruite sowel as die agterruit. Been- en kopruimte voor sowel as agter in die 530d is regtig uitstekend.
Elektronika
Praat ‘n mens van hulpmiddels in ‘n motor dan is daar gewoonlik ‘n paar goed wat in vandag se motorwêreld in Suid-Afrika standaardtoerusting is. Dinge soos klimaatbeheer, elektries verstelbare sitplekke wat verhit en verkoel en ‘n bo-gemiddelde klankstelsel sowel as ingeboude GPS is al ‘n gegewe in die klas. Die 530d is toegerus met ‘n hele paar stelsels wat die bestuurservaring vir al die insittendes baie gemaklik en veilig maak. Ons het klaar berig oor die HUD of “Head-up Display” soos BMW dit noem. Volgens BMW neem dit 28 meter en 1 sekonde om af te kyk na jou spoedmeter of GPS-skerm; dit is teen ‘n baie beskeie 100km/u. Die stelsel verhoed dat jy enigsins hoef af te kyk. Die “Active Cruise Control” is die spoedbeheerstelsel. Die stel pas die motor se spoed by die motors voor hom aan. Al wat jy nodig het om te doen, is om ‘n vooraf gekose spoed te kies en die motor sal jou teen die betrokke spoed hou; sodra daar verkeer voor die motor van spoed verander, pas die BMW self die spoed volgens die verkeer aan en keer dan outomaties terug na die vooraf gekose spoed sodra die omgewing dit toelaat. Die stelsel werk met radar en meet die pad vir sovêr as 200m voor die motor. Ons toetsmotor was toegerus met ‘n rondomkamerastelsel wat baie indrukwekkend is. Die kamera is reg rondom die motor in die voorste en agterste buffers gemonteer. Die voorste kamera wys die twee blindekolle wanneer jy by ‘n T-aansluiting sou staan en nie die aankomende verkeer kan sien nie. Omdat die kameras sowat 2 meter voor die bestuurder in die hoeke van die motor gemonteer is, is dit heelwat makliker om van daar te sien of daar enige verkeer aan die kom is; dit was nogal baie handig om in die oggend uit jou erf uit ry. Die agterste kameras verleen weer bystand wanneer daar agteruit gestoot word. Daar is ook kameras in die kantspieëls wat na die randstene langs die motor kyk. Al hierdie verskillende beelde word terselfdertyd in die paneel voor die bestuurder geprojekteer en kan met behulp van die iDrive-stelsel gekies word of deur middel van die gesplete beelde almal saam vertoon word. Ons motor was ook toegerus met BMW se “Lane Change en Lane Departure”-funksie. Die stelsel waarsku die bestuurder deur die radar sowel as die kameras om die motor in te span om ‘n gevaarlike situasie vinnig op te som en te reageer. Die agterste kamera en radar waarsku die bestuurder wanneer daar ‘n voertuig in sy blindekol in beweeg, ‘n klein oranje driehoekliggie wat aan die onderkant van die kantspieël ingebou is, gaan aan, sou die stelsel ‘n motor in die sone gewaar. Sodra die bestuurder dan in so ‘n situasie sy rigtingaanwyser aanskakel, sal die liggie flikker om die bestuurder te waarsku. Die hele stuurwiel sal ook vibreer om jou te waarsku. Die kersie op die koek vir my was die nagvisie wat die 530d-bestuurder in staat stel om in die pikdonkerte van die nag enige lewende skepsel voor die motor raak te sien. Die stelsel gebruik weereens die kameras wat in infrarooibeeld na die pad voor die motor kyk. Dit is nogal indrukwekkend om die stelsel in werking te sien. Die stelsel kan die pad tot 300 meter voor die motor lees. Sou die stelsel enige gevaar van ‘n botsing met ‘n voetganger of fietsryer bespeur, sal die 530d die bestuurder deur middel van die rooi flikkerende driehoekie met ‘n mannetjie in die middel op die voorruit sowel as in die paneelskerm vertoon. Ons toetsmotor was ook toegerus met ‘n elektroniese bagasiebakdeksel wat baie handig is as jou hande vol tasse of pakkies is en jy moet die kattebak oop maak. Die ligtepakket waarmee ons toetsmotor toegerus was, is ook baie indrukwekkend en veral die klein wit liggies aan die binnekant van die deurhandvatsels lyk imponerend, veral teen die wit motor.
Enjin
Ons toetsmotor was die 530d; hy is toegerus met BMW se bekroonde 3-liter- 6-silinderturbodiesel met inlaatgeometrie. Die enjin ontwikkel 180KW se krag en 540NM se wringkrag. Die maksimum wringkrag is ook beskikbaar by net 1750 o/min. Die turbo-eenheid is gestel op 1,8 bar se druk om die 530d genoeg skop te gee om van rus na 100km/u in slegs 6,3 sekondes te versnel en ‘n maksimumsnelheid wat beperk word tot 250km/u, te haal... En hierdie is ‘n diesel? Ja! dit is ‘n diesel motor dié, en hy versnel soos ‘n GTi. Wat nog meer indrukwekkend is van die enjin, is die uitlaatgasse of die gebrek aan uitlaatgasse. Die 530d is ‘n groot motor met ‘n baie sterk enjin en die eenheid se CO2-gassyfer is slegs 160g/km, baie indrukwekkend. Die 530d word deur sy agterwiele aangedryf en al die krag word deur middel van ‘n 8-spoed- Steptronic-ratkas, ja 8-spoed, gelewer. Waar is die dae van die ou 3-spoedkaste? Die 530d is ook toegerus met BMW se “Active Steering”: die stelsel laat die agterwiele in die teenoorgestelde rigting as die voorwiele draai wanneer daar onder 60km/u gedraai word. Oor 80km/u draai die agterwiele in dieselfde rigting as die voorwiele. Alle 5-reekse is ook toegerus met BMW se “Dynamic Driving Control”; hierdie stelsel verander die ratskakelings tussen “Normal” en “Sport”. Die Sport-verstelling verander die ratte blitsvinnig en hou ook die toere langer sodat die beste verrigting uit die enjin gehaal kan word. Wanneer al die dinge met die ratkas gebeur, word die stuur sowel as die onderstel ook fermer en meet direk. Die stelsel waarvan ek die meeste hou, is BMW se “Dynamic Damping Control”. Hierdie stelsel is soortgelyk aan dié van die Range Rover wat die padoppervlak en beweging van die onderstel en vering monitor en die skokbrekers sowel as die vering by die padoppervlak aanpas. Die stelsel verseker dan die ritgehalte sonder enige insette van die bestuurder; hy doen alles outomaties. Die stelsel werk so: in elke wiel is daar ‘n beheereenheid wat die oppervlakte 400 keer elke sekonde evalueer en aanpassings maak. Daar is ook BMW se “Adaptive Drive”-stelsel wat saam met die DDC-stelsel werk om die bakrol van die motor in draaie te beheer. Die stelsel help ook om die motor stabiel te hou wanneer daar skielike rigtingveranderings of versnelling en rem om ‘n draai plaasvind.
BMW se ingenieurs het ook groen tegnologie in die nuwe 5-reeks ingebou. Een van die stelsels is die “Brake Energy Regeneration” wat die energie wat ontwikkel word tydens ‘n remaksie gebruik om die battery te laai. Sodra die bestuurder sy voet van die versneller afhaal skakel die generator aan en word die kinetiese energie in krag omskep. Sodra die battery vol gelaai is, skakel die generator weer af, dit verlig die lading op die enjin en kan die enjin sy werk meer doeltreffend doen. Hierdie aksie bring ook ‘n brandstofbesparing teweeg.
Wat ons regtig dink
Die nuwe 5-reeks is werklik ‘n wondermotor. Jy bly wonder of daar werklik enige iets anders op die pad is wat by hom kan kers vashou. Jy wonder hoe het die wit jasse dit reggekry om al hierdie stelsels so perfek in een motor vas te vang; jy wonder is alles werklik nodig? En dan wonder jy waar gaan jy R630 000 vir die 530d sonder enige opsionele ekstra toerusting in die hande kry. Ons wonder net wat gaan Mercedes, Audi, Jaguar en Lexus moet doen om hierdie nuwe 5-reeks te troef?
Die 530d is ook een van die finaliste in die 2011 “Motor van die Jaar”-kompetisie. En as motorjoernalis en -entoesias dink ek nie daar kan enige ander wenner wees as juis die Beierse ryding nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





