praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Motors Padtoetse Nog meer van dieselfde asseblief!

Nog meer van dieselfde asseblief!

E-pos Afdruk PDF
Die nuwe Audi A4
Binneruim van die A4
  • Vorige
  • 1 of 2
  • Volgende

Ons het onlangs die geleentheid gekry om die Audi A4 2.0 TFSi Quattro onder hande te neem. Nou as jy al enigsins enige van VWSA of Audi SA se voertuie gery het, sal jy sommer dadelik tuis voel. Dit is ‘n baie goeie ding, maar aan die ander kant hou ‘n ou soos ek van iets spesiaals. Veral as dit by ‘n Audi kom. Ek het self so 'n paar jaar gelede ‘n Audi A4 1.8 T besit, en hy was anders as ander motors, solied en met ‘n spesiale gehalte aanmekaar gesit. Moenie my verkeerd verstaan nie: die nuwegeslag-Audi's is baie goed aanmekaar gesit en ook van ‘n uitstaande kwaliteit, maar dit voel vir my of hulle die “spesiale” gevoel wat ‘n Audi anders maak as ‘n Volkswagen laat vervaag het. Dit is nou amper of al die VW en Audi produkte van die dieselfde material en vakmanskap gebruik maak. Weereens, dit kan ‘n baie goeie ding vir VW wees, maar aan die ander kant kan dit juis die Audi's bietjie soos ‘n VW laat voel.

As ‘n mens na die soveelste generasie Corolla kyk, is dit ook ‘n baie goeie motor wat baie goed verkoop en alles gaan altyd reg, maar hy is nou al vir amper 20 jaar nie meer opwindend of spesiaal nie. Dit is net ‘n kwaliteitryding wat betroubaar is. Die Audi's van vandag begin vir my daardie gevoel aanneem.

Enjin

Net soos die materiale wat gebruik word in die Audi en die Golf en die Polo word van die enjins ook in omtrent al die modelreekse ingespan. Die enjin in die Audi 2.0TFSi is so te sê dieselde as wat in die Golf GTi en die VW Scirocco en die VW Passat ingespan word. In sekere ander wêrelddele word die enjin selfs in die grote VW Pheaton en die Seat Leon asook die Tiguan en die Touran ingespan; die TT en die A5 het ook die gebruik van dieselfde enjin.  Dit is nie net meer ‘n Audi- of ‘n GTi-enjin nie. Die 2.0-liter-eenheid is ‘n baie goeie enjin met 155 Kw en 350Nm wringkrag. Dit is baie spiere en veral in die motor voel die krag besonder bruikbaar. Ons toetsmotor was natuurlik met Quattro-aandrywing toegerus wat beteken dat hy met al vier wiele trek. Sy versneltyd van rus tot by 100km/u is dan ook net so oor die 7 sekondes waar die VWGolf GTi met dieselde enjin net so onder die 7 sekondes is. Natiuurlik is dit die massaverskil tussen die twee, die Quattro-aandrywing weeg nogal ‘n lotjie. Kraglewering is sonder moeite en glad en die 7-spoedratkas verplaas die krag soomloos na die teerpad.

Hantering is soos verwag is omdat dié ‘n Quattro is - ongeëwenaard in die klas, maar ons kon nie ophou wonder hoekom ‘n mens nou eintlik vierwielaandrywing vir ‘n gesinsmotor wat 99,9% van die tyd op mooi voorstedelike teerpaaie gaan rondry nodig het nie. Ons kan in elk geval nie die perke van dié of enige ander motor op ‘n openbare pad toets nie, dus hoekom daarvoor betaal? Uitlaatgasse is mos deesdae een van die belangrikste syfers op die voornemende koper se lysie en hier stel die Audi ook nie teleur nie. Hy is nou wel amper 60 g/km oor die staat se groen perk, maar vir ‘n motor met die verrigting en van dié grootte is die 172g/km uitstekend. Brandstofverbruik word aangegee as 7.4L/100km maar ons het ietwat meer, 8.2L/100km, gehandhaaf. Audi gee sy maksimumsnelheid aan as 245km/h en dié het ons ook getoets as 242km/h, ‘n heel onwettige syfer.

Binneruim

Alles binne die Audi A4 lyk en pas goed. Die sitplekke is baie gemaklik en ondersteunend en die instrumentpaneel is logies soos net die Duitsers dit kan doen maar tog duidelik en klassiek uitgelê. Wanneer jy in die motor inklim, gaan sit jy baie laag en dit voel knus en reg wanneer jy sit, maar probeer uitklim veral as jy oor die ses voet is. Die deure maak groot en wyd oop en is ook nie swaar nie. Vergelyk die A4 se binneruim met dié van die 3-reeks-BMW of die C-klas-Mercedes, dan voel die Audi net te knus vir waarvoor hy gebou is. Dit is asof Audi alles om die bestuurder ontwerp het, wat nie sleg is nie, en so bietjie van die passasiers vergeet het, maar hierdie bly ‘n vierdeurgesinsmotor wat gemaklike plek vir die gesin moet bied. Die reusebegasiebak maak darem op vir die res van die spasie wat na ons mening nog kan verbeter. Soos ‘n mens verwag van ‘n primavervaardiger, is die motor gelaai met die luukshede en alles van leersitplekke tot verhitte sitplekke en ingeboude navigasiestelsel pronk hier. Mens moet net baie vesigtig wees wanneer jy enige Audi bestel, soos met die ander twee Duitse luuksevervaardigers betaal jy ekstra vir meeste van die tegnologie. En daar is net soos in die ander twee heelwat hiervan, enige iets is beskikbaar, van radartogbeheer wat die spoed aanpas soos die verkeer voor jou stadiger of vinniger beweeg, tot by 'n stelsel wat jou waarsku wanneer jy oor die witlyne ry of uit jou baan uit dryf op die snelweg. Daar is al die gewone veiligheidstoerusting soos ABS en lugsakke aan die kante en voor wat standaard is, maar al die ekstra tegnologie gaan jou 'n klomp geld kos as jy nie noukeurig kies nie.

Opsomming

Teen R440 000 vir die standaard-Audi A4 2.0 TFSi Quattro sonder al die tegnologiese veiligheidstelsels soos genoem en lekker goedjies soos ‘n Bang en Olufsen-klankstelsel, elektriese vestelling vir die sitplekke, ens., is die Audi nie goedkoop nie. Dit bly ‘n baie goeie motor wat baie goed aanmekaar gesit is en duidelik heelwat kopers lok. Sou ons in die segment met ons eie geld ‘n motor moes koop, sou die VW Jetta 2.0TSi met dieselfde enjin en 147Kw dalk meer sin gemaak het teen meer as R100 000 goedkoper. Volvo se splinternuwe S60 2.0T teen R360 000 is ook beter toegerus en stink nog van nuutgeit. En Volvo is lankal nie  meer die stiefbroer van oor die see nie. Die Sweed kan nou al drie die Duitsers in die hoofligte kyk wat tegnologie, bougehalte en rygerief aanbetref. Die Audi is ‘n baie goeie motor wat sy man ordentlik kan staan in hierdie geselskap, maar daardie iets spesiaals wat ‘n Audi altyd gebied het, is weg. Dit is asof die nuwegeslag-Audi's ‘n kopié van ‘n baie goeie ding is; die eiesoortige karakter van die verskillende modelle ontbreek.

Syfers

Audi A4

Model: 2.0T FSI Quattro S tronic

Prys voor ekstras: R 436 000

Enjinkapasiteit: 4 sil/1984cc

Krag: 155Kw

Wringkrag: 350Nm

Ratte: 7

Versnelling 0 to 100 km/u: 7,2 sek

Maks. spoed: 242 km/u

Brandstoverbruik/100km: 8.2l/100km

Tenkinhoud: 65L


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: