In Suid-Afrika is daar tans werklik baie verskillende tipes motors en net soveel verskillende modelle. Sou jy 'n jong student of wyse ma of skoonma mobiel wil hou, is daar die Segment A-motortjies waaronder die Hyundai i10, Chevy Spark en Toyota Aygo. Soek jy iets vir die jong gesin, kan daar maklik na die Nissan Lavina of Toyota Verso gekyk word. Is jy 'n middelklassalaristrekker met 'n laerskoolgesin sou die VW Jetta of miskien die Toyota Corolla jou geval. Vir die meer statusbewuste ou wat baie waarde vir geld soek, sal die Hyundai Sonata of VW Passat presies aan jou behoeftes voldoen. Werk jy as 'n professionele persoon met kinders in die hoërskool, mag die Mercedes C-klas of BMW 5-reeks jou beste opsie wees. Doen jy al die bogenoemde, beskik oor jou eie sakeonderneming en is suksevol, sal jy waarskynlik in die Audi A8, Jaguar XJ of dalk 'n Range Rover belangstel.
Ons het deur die jaar 'n paar motors in byna al hierdie sektore bestuur en wil graag 'n paar punte uitlig oor waarvan ons gehou het. En dan is daar natuurlik ook die aspekte waarvan ons nie so baie gehou het nie. Ons indrukke begin by van die klein stadsmotortjies vir die nuwe intreders in die kopersmark. Alhoewel daar baie verskillende modelle van byna al die vervaardigers in hierdie segment beskikbaar is, het ons slegs enkeles onderhande gehad.

Toyota Aygo Wild
R122 500
Daar is twee modelle beskikbaar, die Fresh en die Wild in óf 'n 3-deur- óf 'n 5-deurweergawe. Wat enjins betref, word die Aygo aangedryf deur 'n 1.0 liter, 3-silinderenjin. Kraglewering is 50KW met 93 Nm se wringkrag. Daar is regtig nie veel pakplek nie en daar kan liefs vier pleks van vyf insittendes met gemak in die motortjie rondrits. Ons toetsmotor het die hoër Wild-spesifikasievlak gehad; dit sluit standaardtoerusting soos elektries beheerde ruite en lugversorging in. ABS-remme en lugsakke is insgelyks standaardtoerusting. Sover dit rygerief aangaan, is die motortjie verbasend gewillig op die gelyk paaie, maar bulte is 'n ander storie. Die motortjie voel nie so modern soos sy mededingers nie. Dit is waarskynlik toe te skryf aan die ontwerp wat al 'n hele paar jaar oud is. Die Peugeot 107 en Citroen C1 verteenwoordig presies dieselfde motor met ander kentekens, die resultaat van 'n samewerkingsooreenkoms tussen Toyota en PSA. Ons gee die Aygo Wild 3 uit 5.

Renault Sandero 1.4 Ambiance
R104 900
Die Sandero is 'n eg Suid-Afrikaanse motor, want hy word plaaslik vervaardig. Die motor lyk nou wel nie heeltemal so modern soos die Chevy Sparks of Kia Picanto's nie, maar wat ruimte en waarde vir geld betref, is daar byna niks wat by hom kan kers vashou nie. Ons was nogal beïndruk met die bougehalte en ons toetsmotor se 1.4-literenjin het ook heel skaflike verrigting gehad. Daar is lugversorging, 'n radio-en-cd-speler, kragstuur, ABS-remme en lugsakke. Die kantruite moet egter met slingers oop- en toegedraai word. My indruk was dat hierdie 'n eerlike motor is. Mens voel nie dat jy te veel vir hom betaal nie, hy doen presies wat hy moet en daar is hope ruimte. Die Sandero 1.4 Ambiance is die intreevlak van die reeks, maar as 'n Renault-eienaar gee die motor vir my 'n egte Ranault-gevoel, al is hy in Oos-Europa ontwerp en ontwikkel. Die Sandero se direkte mededingers is die Ford Figo 1.4 Ambiente, Chery J1 1.3 TE en die Geely MK2 1.5 GL. Ná 'n week agter die stuur, is die Sandero in hierdie gesleskap 'n 4 uit 5!

Citroen C4 Grand Picasso
R254 900
Citroens was nog altyd een van daardie snaakse vervaardigers, mense hou of baie van hulle of glad nie van hulle nie. Dit is nie die tiepe voertuig wat jy as 'n alternatief vir iets anders koop nie. As jy 'n Citroen ry dan wou jy regtig van die begin af 'n Citroen gehad het. As 'n Renault Scenic eienaar was ek nogal opgewonde om die Citroen Grand Picasso te bestuur. Kan Citroen veeldoel gesinswaentjies bou soos Renault? Ek was baie verras met die Grand Picasso. Die motor doen alles baie goed, baie sag en regtig inoveerend. Groot glas oppervlaktes, baie bere plekkies en alles is prakties uiteen gelê. Boukwaliteit is besonders goed in ag genome die stories wat ons almal van Franse motors hoor. Die ander ding wat erg teen die Franse tel was die naverkope diens en pryse van onderdele. Plaaslik glo verbruikers daar is net Toyotas of enige iets wat van Dutsland af kom. As jy in die mark is vir 'n ryding gaan kyk ernstig na die Grand Picasso. Daar is sewe sitplekke, hope veiligheids toerusting, n baie maklike navigasiestelsel en dan die andersheids waarvoor Citroen bekend is. Die sonskerms bo die voorruit kan byvoorbeeld agtertoe skuif om die glas oppervlak te vergroot. Die funksie is eenvoudig, maar dra by tot die ruim oop gevoel van die voertuig. Ons toets motor, die 1.6 Vti 120 het net 88Kw, maar dit is meer as genoeg om jou gemaklik in die stad en op die ooppad te laat toer. Hierdie is beslis die slimste van die drie susters. Ons gee hom 4 uit 5.

Nissan Qashqai 1.6 Acenta n-Tec
R260 000
Nissan het so 'n paar jaar gelede 'n herlewing ondergaan met die reeks motors wat as wêreldmotors bekend staan. Die Qashqai is volgens Nissan iets tussen 'n kompakte luikrug wat met die VW Golf en Opel Astra meeding en 'n kompakte veldnutsvoertuig soos die Hyundai iX35. Ons dink hy ding vierkantig mee met voertuie soos Daihatsu se Terios, Mahindra se Scorpio-waentjie en Toyota se Avanza. In hierdie gesleskap is die Qashqai beslis ons keuse. Hy is modern, sag op die oog en jy sit so 'n aks hoër as in 'n Golf. Bougehalte is uitstekend en daar is ook geen tekort aan veiligheidskenmerke nie. Ons toetsmotor was die 1.6 Acenta n-Tec weergawe. Nissan het die Qashqai bietjie opgekikker met mooi wiele en spesiale leer. Die 1.6 enjin het so bietjie lig in die broek gevoel met slegs 81Kw en 154Nm se wringkrag aan boord. Die motor is groter as wat hy lyk en die gewig kon gevoel word. Die rygerief op 'n gelyk pad is uitstekend en daar kan gemaklik teen 130km/u gery word solank jy geen begasie of passiers hoef saam te ry nie. Ons gee die Qashqai 3 uit 5.

Peugeot 5008 1.6 THB Allure
R318 860
Nog een van die drie susters: hierdie keer is dit die mooi suster, Peugeot se 5008. Ons toetsmotor was die vlagskipmodel, die 1.6 THP Allure met outomatiese ratkas. Die motor is verbasend ruim met plek vir sewe insittendes en genoeg pakplek om alles waaraan jy kan dink saam te neem. Daar is alles van sonskerms in die kantruite tot twee 10-duim-DVD-skerms in die voorste kopstutte. Die hele binneruim is in swart leer uitgedos en daar is selfs 'n skermpie voor die bestuurder wat die spoed en brandstofverbruik in die voorruit projekteer. Al die innoverende kenmerke wat die Picasso bied, plus 'n turboaanjaer gekoppel aan 'n 6-gang- outomatiese ratkas. Die groot glasdak wat oor die hele lengte van die motor strek, maak die binneruim ook baie lig. Met 115 Kw en 240Nm se wringkrag kan die 5008 baie onwettige snelhede haal en die feit dat jy ses passasiers en begasie saamry maak nie regtig 'n verskil aan hoe die leeuwyfie haarself op die oop pad gedra nie. Vir seker een die die beste gesinswaentjies op die pad en die prys is ook heel aantreklik! Ons gee die 5008 5 uit 5!

Toyota Verso 2.0 D-4D TX
R317 900
Soos met die Franse vervaardigers wat die minigesinswaentjies uitgedink het, is die Toyota Verso ook geskoei op die betroubare sedan in hulle modelreeks, die Corolla. Ons het die 2.0 D-4D-weergawe bestuur en soos ons almal weet, is Toyota se bougehalte en uitleg soos altyd onkreukbaar. Ongelukkig is die Verso net soos die Corolla baie gewoon, daar is geen avontuur of waagstukke nie. Alles werk goed, lyk goed, voel goed om aan te raak en werk. Vergeleke met wat jy vir dieselfde geld in die 5008 kry, kan ons nie verhelp om te voel dat ons te veel vir die Verso moet uithaal vir wat hy bied nie. Kyk, die Toyota-aanhangers sal die Verso as 'n wonderlike, veilige keuse kies. Maar soek jy 'n motor wat alles goed doen en nog goed lyk en jou nie laat wonder oor die pryskaartjie nie, is die Verso beslis nie jou ryding nie. Ons gee die Verso 3 uit 5!

Nissan Grand Lavina 1.6 Acenta
R194 400
Nissan se baie onderspeelde Grand Lavina is een van die voertuie wat my laat wonder het of Nissan nie dalk die prys verkeerd het nie. Die motor voel duursaam, stewig en ek het 'n paar keer gaan seker maak oor die prys. Daar is soos in die Tiida, waarop die Lavina geskoei is, hope ruimte en die Grand Lavina beskik oor sewe sitplekke. Die motor is net soos sy Japannese neef die Verso nie baie waaghaalsig nie, maar anders as met die Verso voel die Lavina se waarde-vir-geldfaktor net meer in verhouding. Ons toetsmotor was wit en dan lyk die motor nog minder waaghalsig; ons sou hom in 'n donkergroen verkies het. Rygerief is besonders en die motor skep 'n ligte indruk op sy wiele, dus die 80KW van die 1.6-literenjin voel baie meer gewillg as wat hy behoort te wees. Teen die prys is die Lavina beslis 'n wenner! Ons gee hom 4 uit 5!

Toyota Corolla 2.0 D-4D Exclusive
R290 900
Waar is die dae toe die Corolla bekostigbaar was? Ons toetsmotor was die vlagskip in die Corolla-reeks, die 2.0 D-4D. In die Exclusive-pakket bied die motor leer, navigasie en alles wat elektries oop en toe maak, maar dit bly 'n Corolla en nie 'n Camry nie. Bougehalte is baie goed, rygerief is aanvaarbaar en hy is toegerus met al die veiligheidskenmerke wat in die segment verwag word, maar ai tog Toyota, die prys! Die motor ontwikkel 93 Kw en 300 Nm se wringkrag, goeie brandstofverbruik en 'n ruim begasiebak. Ons gee die motor 3 uit 5.

Volvo C30 D2 ELITE
R264 300
Die kleinste Volvo in die reeks is die C30, die motor is slegs beskikbaar in 3-deurgewaad. Volvo is net soos Citroen glad nie 'n alternatief nie: jy is óf 'n Volvo-persoon óf nie. Kwaliteit en bougehalte, asook rygerief en dan Volvo se troefkaart - veiligheid - is alles deel van Volvo se mondering. Ons het die C30 D2 bestuur: die motor is toegerus met die 1.6-turbodieseleenheid wat 84 Kw en 270 Nm se wringkrag lewer. Die Elite-weergawe soos ons toetsmotor was toegerus met wit leersitplekke, nogal iets anders om aan gewoond te raak, maar tog ietsie Sweeds aan die ongewone kleurkeuse. Die motor se enjin luier baie sag en was dit nie vir die D2-kentekens nie sou selfs ek gedink het dit was 'n petrol-Volvo dié. Die maksimum wringkrag is beskibaar vanaf baie lae toere, dus die C30 het baie woema, veral tussen die bulte van Waterkloofrif. Die motor is net te onprakties vir 'n gesinsmotor, maar vir iemand wat alleenlopend en professioneel is en nie van 'n nuwe Mini hou nie, is die Volvo net reg! Die vorm is effens verouderd, maar met die nuwe Volvo-gesig lyk die C30 nog reg vir so 2 of 3 jaar. Ons gee hom 4 uit 5.

Honda Ballade 1.5 VTEC Comfort
R188 600
Die Honda Ballade is terug in Suid Afrika ná 'n afwesigheid van byna vyf jaar. Die nuwe Ballade neem sy plek onder die Civic-reeks in. Honda bly maar die Mercedes van Japan, goeie motors wat ordentlik gebou is en enjins wat tegnologies hoogs spesialiseerd is. Formule 1-ontwikkeling het die Honda-enjins van vandag byna koeëlvas gemaak. Ons toetsmotor was die Ballade 1.5i VTEC Comfort. Kenmerke wat die Comfort van die res onderskei, is die blink sierwiele en kolligte voor. Die hele Ballade-reeks is ten volle met alle veiligheidskenmerke toegerus. Hierdie is werklik 'n klein juweel met 'n reusebegasiebak en genoeg ruimte vir vyf volwassenes. Motors soos die Hyundai Accent en Kia Rio sal dalk na die Ballade ook kyk. Die 1.5-literenjin ontwikkel 88 Kw en omdat die motor so lig is, voel hy baie meer kragtig as dit. Ons gee die Ballade 5 uit 5.

Opel Corsa 1.4 Colour
R183 450
Net soos die Corolla het die Opel Corsa ook baie duurder geword. Die teikenmark - jong eerste kopers wat darem al 'n goeie werk het - behoort die motor te kan koop. Die feit is dat hierdie 'n 1.4-liter-Corsa net 3 deure het. Opel het hom nou wel opgekikker met 'n swart dak en swart sierwiele, juis om die jonger koper se aandag te trek. Die nuwe generasie Opels is goed aanmekaar gesit en die geriefsvlakke is puik, maar ons toetsmotor se aluminiumvoetstukke oor die pedale het sommer afgeval. Ons kon dit nie weer terug kry nie. Die motortjie belowe baie en dan kom jy agter daar is slegs 74 Kw beskikbaar. In perspektief geplaas, kan jy 'n 1.6 Hyundai i20, 'n 1.6 Renault Clio of selfs 'n 1.6 Ford Fiesta aanskaf vir minder as wat Corsa jou gaan kos en dan het jy heelwat meer krag en gerief met 5 deure. Ons gee die Corsa 3 uit 5.

Mercedes C200 CDI BlueEfficiency
R380 000
Mercedes se opgekikkerde C-klas-sedan stem nou meer ooreen met wat die ander twee Duitsers bied. Weg is die oumangevoel! Die binneruim voel ook baie meer modern. Nuwe hoofligte en wielboë, kantspieëls, sierwiele en sierrooster het die C bietjie woema gegee. Alles in die motor werk besonders goed, glad en sag. Ons toetsmotor was die C200 CDI met Mercedes se nuwe "BlueEfficiency"-tegnologie. Die enjins is suiniger met die voggies en lewer meer en skoner krag. Ons toetseenheid het 100 Kw en 360 Nm se wringkrag aan boord. Die enjin loop so sag dat jy mooi moet luister om te hoor dit is 'n diesel. Brandstofverbruik is slegs 4,9 l/100km. Ja, jy het reg gelees, en dit is 'n luukse Mercedes dié hoor! Ons gee die Merc 5 uit 5.

VW Passat 1.8 TSI DSG
R314 900
As jy nie 'n VW-aanhanger is nie moet jy beslis die nuwe Passat gaan bestuur. Die motor het ons totaal en al verras met die waarde vir geld wat jy aantref. Die Passat is 'n groot motor, groter as 'n C-klas, groter as 'n 3-reeks of 'n A4. Jy het al die geriewe wat jy in enige van die drie sal aantref, plus 'n groter begasieruim, meer beenruimte agter en met dieselfde kragbron as sy Audi-neef. Ons toetsmotor, die 1.8 TSI, beskik oor Volkswagen se befaamde DSG-ratkas. Die enjin lewer presies 118 Kw net soos die Audi en het 250 Nm se wringkrag, presies soos die Audi. Die Passat is vinniger van 0-100km/h en is ligter op brandstof as die Audi. Hy is groter binne en, o ja, sommer R37 000 goedkoper!
Ons gee die Passat 5 uit 5!

Chev Captiva 2.4 LT AWD
R346 300
Ons toetsmotor was die vierwielaangedrewe 2.4 Captiva LT. Met die voorwielaangedrewe weergawe wat R42 000 goedkoper as ons toetsmotor is, kwel die volgende my. As die Captiva 'n sogenaamde sagte sportnutsvoertuig is, gaan mense wat hom koop nooit baie ernstige vier-by-viergebied betree nie. Ons weet ook dat die Captiva AWD in elke geval nie sal kan ry waar 'n Freelander of 'n Prado dit sal waag nie. Die motor se grondvryhoogte en invalshoeke is net te klein. Die Captiva is propvol leerafwerking, bêreplekkies en beskik oor 'n nuttige praktiese sitplekuitleg. Daar is plek vir sewe insittendes en die 2.4-liter, 4-silinderenjin ontwikkel 123 Kw en 230 Nm se wringkrag. Ons gee hom 3 uit 5.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





