Jy is hier: Motors Padtoetse

Padtoetse

Die kat kom weer

E-pos Afdruk PDF

Jaguar van voorDink ‘n mens aan Jaguars dan sien jy waanbeelde van oumanskarre met lang slap neuse en hangsterte. Jaguar is ook een van die tradisionele vervaardigers wat ‘n eeu oue motorsporttradisie en ouwêreldse sjarme en styl by die hope ronddra.

Ons het onlang die kans gekry om een van die nuwe generasie Jaguars onder hande te neem. Met die eerste oog opslag vat die motor jou na ‘n plek waar jy gedink het net Duitse rygoed die pad ken. Sagte vloeiende lyne met skerp aksente op die sportiewe en ‘n breë forse profiel is alles kenmerke wat meer met Europese motors as Britse rygoed geassosieer word. Die nuwe Jaguar XF lyk soos geen ander Jaguar van voorheen nie; inteendeel, hy lyk soos geen ander motor op die pad nie. Ja daar is hier en daar ‘n Ford-lyn of dalk ‘n Volvo-lyn te bespeur, maar dit vertel maar net ‘n klein deeltjie van waar die Jag vandaan kom.

Die model wat ons gery het is die XF S; hy bevind himself so in die middel van die XF-modelreeks.

Enjin

Die groot kat word aan gedryf deur ‘n seepgladde 3-liter- V6-diesel enjin met twee turboaanjaers. Dit is sommer ‘n klomp goed in een asem wat nie werklik by ‘n Jaguar pas nie. Diesel? Ja, hoe dan nou anders, hierdie dieselenjin word ook gebruik in die Land Rover Discovery 4. Die XF S-weergawe wat ons onder hande gehad het, ontwikkel 202 Kw en wag daarvoor, ‘n enorme 600 Nm se wringkrag. Die eenheid is seepglad en sag. Die krag voel eenvoudig net onophoudelik. Jy sal nie agterkom hierdie is ‘n diesel as jy dit nie weet nie, want daar is geen geluid wat dit verraai nie: hy klink en trek net soos ‘n baie sterk V8. Jaguar het dan ook gebruik gemaak van twee paralelle turbo’s wat die XF S tot by 100km/u in slegs 6,4 sekondes kan laat versnel. Die eintlike rede vir die dieselkragbron is om meer krag teen minder uitlaatgasse en laer verbruik te behaal. Wel, Jaguar kry dit uitstekend reg met die XF S; die kat pomp slegs 179g/km se koolstof die lug in en het ‘n brandstofverbruik van 6,8 l/100km. Hierdie syfers onderstreep Jaguar se strewe na volmaaktheid en bring die hele Jaguar-reeks sommer tot reg langs die drie Duitsers wat die segement vir eklusiewe missiele oorheers.

Binneruim

Die binneruim straal ouwêreldse sjarme uitIn egte Jaguar-tradisie is die binneruim deurspek met stylvolle dog sportiewe fokuspunte. Groot deure wat wyd oop maak en baie leer wat tesame met die allumuniuminsetsels jou binne nooi. Die XF is baie laag en sy daklyn vloei ook kwaai skuins na agter,maar daar is hope spasie binne. Dit is werklik misleidend hoeveel kop- en beenspasie beskikbaar is. Die instrumentpaneel is baie modern met groot maklik leesbare syfers en alles voel of dit net op die regte plek sit. Een van die mees indrukwekkende eienskappe van die XF se binneruim is die luginlate op die voorpaneel wat outomaties oopskuif wanneer die enjin aangeskakel word. Daar is ook nie ‘n rathefboom op die middelste konsole nie, net so ‘n groot ronde knop wat ook outomaties uitskuif uit die konsole uit wanneer die aansitterknop gedruk word. Die Jaguar het dan ook sleutellose toegang wat beteken dat jy net die sleutel in jou sak moet hê om die deure oop te sluit of die motor aan te skakel.

Op die pad

Jaguar spog nou in die XF met hulle “Adaptive Dynamic” stelsel. Hierdie stelsel is uitsluitlik in die S-weergawe van die XF beskikbaar. Lesse is geleer uit die XFR wat natuurlik die warm weergawe van die XF is. Die stelsel is baie gevorderd en verstel die onderstel om volgens die padoppervla optimaal te werk. Die stelsel ontleed die bestuurder se insette asook die beweging van die onderstel 500 keer elke sekonde en pas dan die ritgehalte daarby aan. Dit gebeur alles outomaties, hoor. Die gevolg hiervan is dat jy altyd teen optimale gerief en optimale stabiliteit oor die aarde vlieg. Daar is ook die “Aerodynamic Pack” wat die XF se reeds aggresiewe voorkoms nog meer opkikker. Die voorste gaasdraadsierrooster is nou swart, die voorste lugskorte is  nou laer en daar is ‘n ry klein liguitstralende diodes of “LED”-liggies, soos dit oor die algemeen bekendstaan, gemonteer. Dit laat die reeds aggresiewe voorkoms van die XF nog meer uitstaan. Die ligte werk dan sommer ook as dagryligte. Die pakket sluit ook syskorte aan die onderkant van die deure in wat baie subtiel maar tog ‘n groot verskil aan die voorkoms van die XF S maak. Die gevolg van al die bykomstighede is dat die XF S doelgerig voel. Dis ‘n groot motor wat laag op die pad hurk, maar hy hanteer vlugvoetig en skerp. Die stuurterugvoer is uitstekend en rondomsig, ten spyte van die lae daklyn, is baie goed.

Mededingers

Van agterJaguars was nog altyd motors wat eintlik met hulself meegeding het. Dit het dan ook veroorsaak dat daar in byne 40 jaar slegs vier modelveranderings was. Dink jy aan luukse motors wat tradisionele styl met sportiwiteit en ouwêreldse kwaliteit kombineer, is daar slegs ‘n handjie vol vervaardigers wat daaraan voldoen. Name soos Bentley, Rolls Royce en Maybach rol onwillekeurig voor jou geestesoog, maar oor die afgelope 15 jaar het ander vreemde vervaardigers soos Lexus, Infinity en selfs van die Amerikaanse ouens soos Caddilac ook aanspraak op hierdie titel begin maak. Daar is egter drie Duitse vervaardigers wat die naaste daaraan kon kom, en nou praat ons van Audi, BMW en Mercedes met Volvo wat so amper-amper daar is. So teen wie het Jaguar dan die XF gemik? Wel, ons sou sê die drie Duitsers is beslis die teiken, Mercedes Benz se E-Klas is vir seker die XF se naaste teenstaander en met die nuwe E plaaslik beskikbaar, sien ons ‘n groot kopstamp op die horison. BMW se nuwe 5-reeks is ook strate beter as enige iets voor hom en kan dalk net ‘n ernstige titelaanspraakmaker wees. Die feit bly egter staan dat nie een van die twee Duitsers werklikwaar met die styl van die XF kan kompeteer nie. Teen ‘n verkoopprys van R672 000 vir die Jaguar XF S Premium is die kat dan ook ‘n hele R40 000 duurder as die Mercedes E350 CDI en R42 000 duurder as die BMW 530d, maar dit is ‘n Jaguar, iets anders as die Duitse drie.

Gevolgtrekking

‘n Jaguar bly ‘n Jaguar. Hy het nie ‘n Mercedes of ‘n BMW se gevorderde tegnologie nie. Hy het ook dalk nie dieselfde werkverrigting nie en hy word ook nie in Duitsland vervaardig nie. Wat ‘n Jaguar wel het, is styl, individualisme en baie ouwêreldse sjarme. Mercedes en BMW is nuwe status, nuwe sukses; Jaguar is ou styl, ou status, ou sukses. En, sou jy hom met ‘n Bentley of Rolls vergelyk, wat eintlik die enigste twee ander ouwêreldse vervaardigers is, is hy teen die prys ‘n ware winskoop.

Laas Opdateer op Vrydag, 13 Augustus 2010 17:56

Dit is hoe dit moet wees!

E-pos Afdruk PDF

Mercedes-Benz A-klasDink ’n mens aan Mercedes-Benz, dan sien jy groot lomp karre vir oumense, maar die teendeel is egter in 2010 van die moderne Mercedesse waar.

Daar is werklik ’n rasegte Mercedes vir elke segment of smaak beskikbaar. Die ongelooflike is dat elke Mercedes wat by ’n handelaar se deure uit ry werklik soliede kwaliteitmotors is net soos dit ’n ware Mercedes betaam. Van die heel goedkoopste A180 tot by die duurste SL65 AMG Black Series is die bougehalte dieselfde. Baie keer kom 'n mens teë dat die goedkoper modelle van ’n sekere vervaardiger se boukwaliteit of toerusting veel te wense oorlaat. Ons het die A180  CVT onder hande gehad. Die motor is nou wel die kleinste Mercedes beskikbaar, maar die standaardtoerusting sowel as die gevoel wat die motor bied, is werklik besonders. Baie ander vervaardigers maak motors wat heel kompeterend is en goeie gehalte en ekonomie bied, maar min het nog reggekry waarmee Mercedes met die A-klas geslaag het.

Bakwerk

Die motor is baie slim ontwerp met meer as genoeg spasie waar dit nodig is en met minimum oorhange voor en agter is daar ook nie onnodige bakwerk nie. Die motor is kort; om die waarheid te sê hy is 3,8 meter van stamper tot stamper, ’n hele 2 meter breed van spieël tot spieël en 1,6 meter hoog. Die wiele is reg op die hoeke gemonteer en die daklyn bereik sy hoogste punt waar die voorste windskerm en die dak bymekaarkom. Ons kan nie anders as om hierdie ontwerp as briljant te beskryf nie. Die gevolg is baie spasie binne-in die motor, die voorste sitposisie is hoog, maar nie ongemaklik nie, die agterste passasiers het werklik meer as genoeg been-, skouer- en kopruimte. Vergelyk die spasie in die A-klas met ander motors in sy segment soos die VW Golf  6 wat tans Suid-Afrika se motor van die jaar is en jou mond sal oopval. Dit is nie asof die Golf ongemaklik of klein is nie, maar die Benz doen dit net soveel beter. Die Golf is 4,2 meter lank; tog is die binneruim nie naastenby so ruim soos dié van die A-klas nie. Rondomsig vanuit die bestuurdersitplek is ook puik. Die groot glasoppervlaktes rondom die A-klas maak parkering en veral truparkering baie maklik.

Binneruim en toerusting

In egte Mercedes-styl is daar hope standaardtoerusting en ons toetsmotor was in die “Elegance”-pakket uitgedos. Daar is drie afwerkingspakkette beskikbaar op elke modelreeks in die Mercedes-Benz-stal. “Classic” is die gewone afwerking met niks wat blink of fyn is nie, “Avantgarde” is die sportiewe afwerking met meer sportiewe sierwiele, alluminium en koolstofafwerking en dan die “Elegance” wat ’n meer luukse tydlose afwerking met hout en chroom insluit. Die Elegance sluit ook 16-duim fynspeeksierwiele in wat die motor net nog meer spesiaal laat voorkom. Die binneruim van ons toetsmotor was uitgevat in ’n ligte roomkleur wat die motor nog groter laat voel as wat hy werklik is. Baie goeie gehalte matte en die plastiekinsetsels op die voorste paneel asook die greep op die stuurwiel is alles net soveel anders as in enige ander motor wat ons al bestuur het. Ek het werklik dieselfde gevoel wat jy in ’n E-klas of selfs ’n S-klas ervaar in hierdie motor aangetref en dit vir minder as R300 000 of anders gestel dieselfde as wat jy vir ’n Golf 6 met dieselfde spesifikasie sal betaal.  Die been- en kopruimte vir al die insittendes is uitstekend, deure maak wyd oop en die vloer is relatief laag. Die A-klas is ’n vyfdeurluikrug, met ander woorde die groot agterste deur maak ook hoog en groot oop sodat groter begasie maklik gelaai kan word. Die drumpel vanaf die pad na die begasievloer is nie te hoog soos in sommige ander luikrûe nie. Met die agterste sitplekke wat nog kan platvou ook, het die A-klas hope laairuim vir groot stukke begasie. Die daklyn is hoog, amper in die klas van veel groter motors soos die Renault Scenic of VW  Touran. Sitplekke in ons toetsmotor het meer as genoeg systeun en rug steungebied en dit was ten volle verstelbaar vir reik en hoogte. Al die instrumente is net reg geplaas, alles voel net reg, nie te ver en nie nie te naby nie, nie onder iets weggesteek of agter iets anders gemonteer nie. Met skoon instrumente wat duidelik leesbaar is en met satellietkontroles vir die telefoon en radio op die stuurwiel lyk en voel die baba Benz baie spesiaal.

Padgedrag

Kyk ’n mens na die motor se hoogte en lengte dan lyk hy met die eerste oogopslag effens ongemaklik regop, maar die gewigsverspreiding en die gewigsverplasing van die motor is so te sê perfek. Hy voel en bestuur soos’n groot motor. Min padgeraas , min windgeraas en ’n goeie terugvoer deur die onderstel bied eintlik baie meer as wat ’n mens in ’n motor onder R300 000 verwag. Die stuurwiel se terugvoer is regtig besonders en die motor doen wat jy wil hê hy moet doen. Rondomsigbaarheid is uitstekend en omdat die motor se wiele ver op die hoeke gemonteer is, draai hy regtig kort. In regte Mercedes-tradisie is al die veiligheidskenmerke in die motor ingebou: daar is ABS-remme, EBD-remverspreiding, ASR-glybeheer, lugsakke vir alles en almal. Die verrigting van ons toetsmotor was nou nie dié van ’n Golf Gti nie, maar vir ’n klein motortjie met ’n 1,6-literenjin is dit glad nie sleg nie. Ons kon ’n maksimumsnelheid van 190 km/uur haal en die 100 km/uur-merk het in 11,5 sekondes gekom. Ons toetsmotor is ook toegerus met die 5-spoed outomatiese ratkas wat dinge so effens stadiger doen as die handratmodel. Brandstofverbruik was bietjie teleurstellend vir dié tipe voertuig: ons kon slegs 10,8 l/km behaal en dit was heeltemal te onekonomies na ons mening vir ’n 1,6-liter stadsmotortjie. Weereens, die outomatiese ratkas het die syfer erg beïnvloed, maar aan die ander kant outomaties of nie, hy behoort baie meer ekonomies te wees.

Gevolgtrekking

Sal ons die Mercedes-Benz A180 outomaties met ons eie geld koop? Kyk bietjie rond en vergelyk wat anders kan jy koop wat vir jou dieselfde praktiese benutting kan gee, die VW Golf 6 1,4 TSi Highline?  Ja, hy kos min of meer dieselfde, maar is nie outomaties nie en hy is die “Motor van die Jaar”,  maar hy is kleiner binne en duurder. Jy voel ook nie heeltemal so spesiaal in ’n VW soos in ’n Mercedes nie. Die Audi A3 1,4 Tsi ( R257 000) is nader aan die kol, maar selfs met sy uitstekende boukwaliteit voel nie soos ’n Mercedes nie en hy is nie outomaties nie. Die A-klas het genoeg teenwoordigheid om in enige geselskap tuis te wees; óf jy nou by die golfbaan, skool, kerk óf by die Westcliff is, hy voel en lyk net reg. Teen R239 000 plus R15000 vir die CVT outomatiese ratkas en R10 700 vir die Elegance-pakket kom die A180 CVT Elegance in op R264 000 en die prys sluit Mercedes se MobilioDrive 120-onderhoudsplan ook in.  Die Mercedes A180 is werklik soos dit behoort te wees: kompak, maar ruim, met uitstekende boukwaliteit en die gevoel van ’n groot motor. Die driepuntster op die neus en meer as genoeg aandklere om in enige  geseldkap in te pas, maak 'n wenner daarvan.

Laas Opdateer op Vrydag, 14 Mei 2010 09:36

Japannese middelgewigte!

E-pos Afdruk PDF

Met Suid-Afrika se ekonomiese klimaat is dit moeilik om te verstaan hoekom motors so duur is. Ons motormark is relatief klein in vergelyking met Brittanje of Brazilië s'n, maar ons het amper 1000 verskillende modelle om van te kies. Ongelooflik, sowaar! Sou jy dan in die bevoorregte posisie wees om ’n nuwe ryding te aanskaf is daar verskillende segmente waarna jy kan kyk. Dit hang allesvan jou behoeftes af. Sou jy ’n middelbestuurspos beklee en in die oostelike voorstede van Pretoria of die noordwestelike voorstede van Johannesburg woon met kinders in die laerskool en ’n huisverband van meer as een miljoen rand, sou jy waarskynlik in die Sportnutsvoertuigsegment na ’n ryding kyk.

 

Mitsubishi Outlander

Dit is nou ’n voertuig wat eerstens goed lyk by jou kantoor en al die kinders se skooltasse en goeters kan rondkarwei. Die een naweek in drie maande wat jy wel kan wegbreek, sou jy met gemak kon aanpak en dan nog elke oggend se verkeer tussen Pretoria en Johannesburg so gerieflik moontlik probeer maak voor jou vergaderings met oënskynlik belangrike mense. Ons het nie net een nie, maar twee van presies hierdie tipe voertuie onder hande gehad om uit te vind wat ligte sportnutsvoertuie so spesiaal maak.  Die kandidate is Nissan se X-Trail 2.0 dCi 4x4 TSE en Mitsubishi se Outlander  2.4 GLS 4x4 . Alhoewel die twee voertuie nie direk met mekaar meeding nie is die spesifikasies en pryse so na aan mekaar dat dit in werklikheid wel ’n realistiese keuse tussen die twee sal afgee.

Bakwerk

Nissan X-Trail

Beide die X-Trail en die Outlander is amper ’n baie hoë stasiewa- tipe voertuig met hope spasie vir passasiers en genoeg pakplek vir ’n hele weermag. Slim uittreklaaitjies onder die bagasiebakvloer en genoeg deur- en middelkonsolebêreplekkies om alles wat jy wil saam neem in te pak. Elegante doelgerigte lyne is teenwoordig. Die Outlander se neus wat amper soos ’n haai se snoet effe na onder kurwe het nogal uiteenlopende reaksie van “wow!” tot ”nie so lekker nie” uit gelok.  Die X-Trail het nou weer half ongemaklik voorgekom vir party mense, so asof hy half lomp of “top heavy” is soos ek gehoor het iemand dit uitdruk. Dit maak nou nie saak of jy van die Nissan of die Mitsubishi se lyne hou nie, die feit is dat beide stylvol genoeg is om langs enige primavoertuig by jou kantoor te parkeer. Beide lyk doelgerig genoeg om nie af te steek langs al die ander rygoed by die skool nie. Al twee lyk ook tuis in die verkeer sowel as op Mr. Jones se wildsplaas.

Binneruim

X-Trail se funksionele paneelbord

Die regte elegansie ervaar jy wanneer jy die deure oopmaak en inklim. Beide die voertuie is nie so hoog dat die inklimslag ongemaklik is nie. Die deure is lig en maak wyd oop en daar is regtig meer as genoeg beenspasie in albei se kajuite. Kopspasie in die Outlander het net vir ons ’n aks meer gevoel as in die X-Trail alhoewel die Nissan ’n hoër daklyn het; dit is waarskynlik omdat die Outlander se sitplekke laer gemonteer is. Die Mitsubishi verras met sy grootte. Hy lyk nie so groot nie, maar sit in hom dan voel hy fisies groter as in die X-Trail. Wat luukses aanbetref, is daar glad nie ’n tekort aan enige gemakstoerusting nie, alles is daar. Die Nissan se binneruim het net so effens meer spogerig gevoel as dié van die Outlander. Die Mitsubishi het wel leeroorgetrekte sitplekke gehad wat ontbreek het in die X-Trail, maar baie goeie kwaliteitmateriaal is gebruik om die Nissan uit te dos en dit was veral die voorste paneelbord en insetsels van die X-Trail wat gemaklik onder die hande was.  Standaardtoerusting wat ons beïndruk het, was die AFS (Adaptive Front Lighting ) wat standaard in die Outlander is . Dié stelsel neem die stuurrigting, padoppervlak en gewig wat deur die voertuig gedra word in ag om die ligte op die optimale hoogte te hou. Sodoende is die pad voor die motor altyd baie goed belig. Die stelsel het ook net soos in die Discovery kantliggies wat negentig grade na die kant toe skyn waarheen jy draai.  Baie handig en baie slim. Die Outlander beskik ook standaard oor ’n 710w Rockford Fosgate-klankstelsel met ongelooflike oudiogehalte.

X-Trail stoorplekkies

Outlander se klankstelsel


Agterste beenspasie in die OutlanderEnjins

Nissan se X-Trail 2.0 dCi TSE 4x4 word aangedryf deur ’n 2.0 liter turbo-aangejaagde dieselenjin wat 110 Kw  en ’n allemintige 320 Nm se wringkrag lewer. Die eenheid loop stil en glad en met ’n verbruik van 8,1l/100km is hy nog ekonomies ook. Die X-Trail beskik oor ’n 4x4-stelsel wat of self kan besluit wanneer om al vier wiele in te span of jy kan hom sluit sodat die motor die heeltyd met vier wiele trek. Dit word alles beheer met ’n baie elegante draaiknop net hier voor die rathefboom in die middelkonsole. Daar is ook (HDC) Hill Descent Control wat keer dat die voertuig vinniger as 6,5 km/u teen 'n skerp helling kan afgaan. Die (HSA) Hill Start Assist  werk ook outomaties as daar teen ’n helling weggetrek moet word. Die Outlander word aangedryf deur ’n 2,4 liter petrolenjin en lewer 125 Kw se krag en 226 Nm se wringkrag.  Die 4x4-modusse kan net soos dié van die X-Trail óf tweewielaandrywing óf vierwielaandrywing op 'n gereedheidsgrondslag óf vierwielaandrywing gesluit opdis. Alles natuurlik met die druk van ’n knoppie. Ons kon onderskeidelik ’n maksimumsnelheid van 190km/u vir die Outlander en 183km/u vir die X-Trail haal met ons padtoets, maar albei kan baie gemaklik so op 140km/u met die togbeheer aangeskakel alle bulte kafdraf. Verbruik in die Outlander was ’n respektabele 10l/100km wat nie sleg is vir so ‘n groot motor met vierwielaandrywing nie.

Gevolgtrekking

Teen R377 000 vir die X-Trail en R395 000 vir die Outlander is hierdie nie goedkoop voertuie nie, maar kyk wat sal jy vir ’n Honda CRV 2.4 Petrol Outomaties, R405 400 en R435 400 vir die diesel sal betaal. Hyundai se Santa Fe 4x4 diesel Outomaties kos R409 700 en Kia se Sorento 4x4 outo sal jou R369 995 vir die petrolviersilinder kos terwyl die V6-petrol jou R399 995 uit die sak sal jaag. Nou lyk beide die Nissan en die Mitsubishi glad nie sleg nie. Albei fabrikate is al oor en oor bewys as kwaliteitvoertuie tydens die Dakar-wedren. Kan ’n mens regtig anders as een van dié twee in hierdie segment?

Laas Opdateer op Donderdag, 22 April 2010 10:16

Groot Meneer!

E-pos Afdruk PDF

Daar is ‘n spreekwoord wat sê “Groot gif kom in klein botteltjies”.

Clio Renault SportOns het so pas een van daardie klein botteltjies raak geloop. Renault se Clio Renault Sport of die RS, soos hy bekend staan, het ’n draai by ons gemaak. Anders as die vorige Clio Renault Sport-modelle word hierdie Clio nie deur ’n V6- middelgemonteerde monster aangedryf nie.  Nee, hierdie is ’n baie fyn besnaarde vier silinder wat seer byt. En die wonderlike van die eenheid is dat daar geen turbo is nie; dit is net pure enjintegnologie wat tot op die uiterste toe gespan is. Die Clio RS laat my nogal dink aan ’n kruisboog ; jy weet hy is gevaarlik, maar aan die ander kant is hy mos nie regtig ‘n vuurwapen nie. Maar boeta, skuif bietjie agter daardie stuurwiel in.

SitplekkeVir die gewone ou op straat sal dit ‘n rukkie neem om gewoond te raak aan die harde onderstel, dit is nou nie ’n Gti of OPC dié nie. Dit voel kompleet of jy agter die stuur van ’n renstel (go-cart) sit. Jy sit laag en die rensitplekke vou letterlik hier om jou middel om jou stewig in posisie te hou. Die instrumentepaneel is pure Renault en verskil nie veel van die nuwe Clio s'n nie, so ’n mens voel darem nie heeltemal ontuis agter die stuur nie. Daar is oral subtiele vlekvryestaal-insetsels met Renault Sport-kentekens op wat jou herinner dat jy nie in ‘n gewone Clio is nie. Die kort ratkierie en dikraamleerstuurwiel is ‘n baie subtiele, meer verfynde, amper sagter herinnering daaraan dat hierdie nie die brutale gedierte is wat die vorige Clio V6 RSe was nie. Hierdie motor is meer gerig op die gewone ou, wat soos ‘n renjaer wil voel.

Sportiewe sy aansigVan buite is die Clio RS heelwat anders as sy gewone Clio-stalmaat. Dit is veral die kleur van die motor wat ‘n regte Renault Sport-blou is. Jy sal nie sommer ‘n gewone Clio in dié kleur kry nie. Die RS het dan ook net drie deure wat wyd oop maak en ons was nogal verbaas oor die hoeveelheid bagasieruimte wat die motortjie bied. Die in- en uitklim is maklik al sit jy so effens laer as in ‘n gewone motor; selfs die agterste passasiers kan maklik met die sitplekke wat vorentoe skuif as die ruglening op gelig word, agter in glip. Daar is natuurlik nie baie sitspasie binne die Clio nie, na regte is dié net ’n viersitplekmotor. Kry jou sit en draai die aansitter, ja draai die aansitter, anders as waaraan ons gewoond geraak het met Renaults het die Clio RS wel ‘n sleutel wat jy moet insit en draai soos in die ou dae. Wanneer die tweeliter- viersilinderenjin aan die luier gaan, het nie net een persoon vir my gevra of dié ‘n V6 is nie, maar ’n hele paar. Die enjin klink by luierspoed net soos ’n V6-motor. Miskien is dit omdat die mense geweet het die vorige RS was ’n V6, maar ons vermoed dat dit eerder  die twee aggressiewe uitlaatpype is. Die pype sit net soos die Gordini's  van ouds se pype amper in die middel van die agterste buffer, net aan die binnekant van die twee agterligte, baie imponerend en ‘n duidelike teken van die motor se sportiwiteit.

LeerstuurwielDie Clio RS het ons werklik beïndruk deur sy werkverrigting en veral hantering. Wanneer jy die stuurwiel draai en vet gee, is daar geen weifeling nie, die kar gaan vinnig waar jy wil hê hy moet gaan. Hy is voorwielaangedrewe, so daar is ‘n baie klein bietjie onderstuur, maar dit is werklik so min dat dit amper nie genoem hoef te word nie. Met ons verrigtingstoets het die Clio RS my telkens verras met hoë vinnig en sekuur hy doen wat jy wil hê. Ons het die topspoed van 225km/u maklik gehaal en 100km/u kom sonder enige aarseling binne 6,9 sekondes aan.  Die 2,0 liter petrolenjin lewer 147,5 Kw. se krag en 215 Nm. se wringkrag. Dit is indrukwekkend, veral as ‘n mens dit vergelyk met die 155 Kw. wat die GTi met ’n turbo lewer. Die Clio RS is breër as die gewone Clio, sy asafstand is met 10 mm verleng om meer stabiliteit te gee en die vet tekkies van 17 duim pas mooi vol in die wielboë op elke hoek van die motor. Die remme in die Clio RS is 312 mm Brembo geventileerde skywe, so jy sal stop as dit moet. Daar is ses ratte met ratverhoudings wat korter en meer skuur is as vantevore. Ons het met al hierdie werkverrigting steeds ‘n brandstofverbruiksyfer van 8,5 ℓ/100km aangeteken. Goed vir ’n verrigtingsblitsbuks!

Wat die prys aan betref, vergelyk die Clio RS baie goed met sy mededingers. R258 900 is baie geld vir ’n klein motortjie, maar vergelyk dit met die Opel Corsa OPC se R254 900 wat net ’n 1,6 liter turbo-enjin het en 7 Kw. minder, die Peugeot 207 GTi wat ook net ’n 1,6 liter enjin met 128Kw bied teen R245 000 en die absurde Mini Cooper S wat ’n kragbron met die 207 GTi deel teen R280 000, dan is die Clio ’n goeie koop.

Clio 1.6 Dynamic

Clio 1.6 DynamicAnders as die Clio RS, is die 1.6 Dynamic ’n groot kar, nou nie regtig nie, maar daar is heelwat meer binneruimte en hierdie Renault bied regtig baie vir die geld wat jy uithaal om hom in jou motorhuis te parkeer.

Die motor voel net soveel meer volwasse en verfynd en opgewasse as die vorigegenerasie-Clio. Alle materiale in die binneruim en die manier hoe die hele motor aanmekaar gesit is voel premium kwaliteit. Jy sou maklik die motor met veel duurder en groter motors kon vergelyk. Die lys van standaardtoerusting is regtig indrukwekkend; benewens die gewone elektriese ruite en sleutellose toegang, sluit die Clio 1.6 Dynamic se lys standaardtoerusting ’n geïntegreerde Tom-tom navigasiestelsel met afstandbeheer in. Daar is ook ritbeheer en ’n spoedbeperker wat baie handig in die stad is, outomatiese klimaatbeheer, hoekskynligte wat die rigting waarin die wiele draai verlig, reën- en ligsensors wat die ruitveërs en ligte outomaties aan en af skakel, verhitte buitespieëltjies, Bluetooth-geïntegreerde Mp3-kompakskyfspeler met ’n aparte gaatjie vir jou iPod en ‘n USB-inlaat vir jou geheuestokkie.  Sou ‘n mens na die standaardveiligheidstoerusting kyk, is die prentjie net nog mooier. Daar is ABS-remme, EBD (Electronic Brake-force distribution) wat die remkrag versprei soos dit nodig is, EBA (Emergency Brake Assist) wat binne millisekondes inskop sou jy hard rem om die motor nog vinniger te laat rem en dubbele voorste lugsakke sowel as knieëlugsakke en ‘n skouergordynlugsak voor en agter. Werklik baie indrukwekkend.

BinneruimDie Clio 1.6 Dynamic is ook toegerus met splinter nuwe 16 duim allooi vellings as standaard en kyk jy na die res van die motor dan kan daar duidelik lyne van die nuwe Megane gesien word, veral in die voorste ligte. Die Clio se wiel afstand is nou 41 mm langer as die vorige generasie om sodoende ‘n werklike indrukwekkende 1343mm skouer hoogte en agterste kop ruimte van 886 mm te bied.

Die motor ry ook soos ‘n veel groter motor danksy Renault se elektroniese krag stuur. Die Clio 1.6 Dynamic lewer 83 Kw. en 151Nm se wringkrag wat die motor ‘n topsnelheid van 190 km/u gee. Brandstof verbruik is ook baie indrukwekkend teen 6.6 liter/100km.

Aanboord NavigasiestelselKom ons by die prys van die Clio 1.6 Dynamic het ons aanvanklik gedink die motor is duur, maar kyk na sy mededingers ( Ford Fiësta 1.6 Titanium R195 650, Mazda 3 1.6 Dynamic Sport R225 520 en Peugeot 207 VTi Dynamic R200 000 ), wat almal minder toerusting en veiligheidstoerusting as die Clio het, dan klink die R194 900 na ’n goeie koop. Ingesluit by die prys is ‘n 3-jaar 45 000 km-diensplan en Renault se 100 000 km/ 3 jaar-waarborg.

Gevolgtrekking

Na ons mening is beide die Renault Clio RS en die Clio 1.6 Dynamic uitstekende waarde vir geld. Sou jy ’n blitsbuks soek wat regtig vinnig is en wat hanteer soos ‘n regte renstel is die RS moeilik om mis te kyk. Sou jy in die mark wees vir ’n gesinsmotor is wat goeie toerusting in ’n goeie klein “groot” motortjie soek met uitstekende brandstofverbruik (en dan is hy nog mooi ook), is die Clio 1.6 Dynamic werklik die antwoord.

Laas Opdateer op Vrydag, 19 Maart 2010 09:12

Kleinboet en Ouboet

E-pos Afdruk PDF

Die nuwe en die oue langs mekaar

Ons het vir die afgelope hoeveel dekades saam geleef met een van die legendes van Afrika, die Nissan 1400-bakkie. Hy was so gewild dat mense in Australië en Kanada hom spesiaal uit Suid-Afrika laat invoer het. Die perfekte klein ryding vir die klein sakeman. Plaaslik kan daar nog duisende in verskeie apteke, drankwinkels en veral afleweringsmaatskappye  se vlote gesien word. Dié klein bakkie is waarlik eie aan Suid-Afrika en maklik om in stand te hou. Nissan het die B140, soos die bakkie bekend gestaan het, nou vervang met die NP200.  Dié is eintlik net ’n produk van die samewerking tussen Nissan en Renault. Ja, jy lees reg, die Renault Logan wat met ’n 1,6 liter-enjin toegerus is, is gebruik om ’n bakkie van te maak. En nou moet ons ook mooi dink, want die Logan is eintlik ook nie ’n volbloed-Renault nie, maar ’n Dacia, wat natuurlik deur Renault besit word en ook dan in ander dele van die wêreld as ’n Dacia bemark word. Né die fiasko van die vroeë negentigerjare met goedkoop gemors wat as Dacias verkoop is, het Renault/Dacia/Nissan besluit om die nuwe Dacia-bakkie eerder die Nissan NP200 te noem. Wel, die uit einde van die saak is wel ’n plaaslik vervaardigde bakkie wat  redelik goed aanmekaar gesit is. Sy drakrag en spasie maak die NP200 die leier in hierdie segment en al is hy nou nie regtig ’n Nissan nie, bly hy die legendariese Nissan 1400-bakkie se opvolger.

Die syaansig van die Nissan NP300

Kyk ons na Ouboet dan is dit niks anders as die ou Hardbody wat nou die NP300 genoem word nie. Die Nissan Hardbody-dubbelkajuit was net soos die 1400-bakkie ’n groot verkoper in die plaaslike mark en het dan ook vele gesinne se karavanedeur die jare Suidkus toe gesleep. Kyk oor naweke by enige dam of kampeerplek in die binneland en daar is ’n Hardbody-dubbelkajuit of twee wat daar staan. Weereens ‘n egte Suid-Afrikaanse produk. Nissan se denke agter die NP300 was om ‘n meer bekostigbare dubbelkajuitvoertuig daar te stel in dié al hoe meer mededingende en duur motormark. ’n Meer bekostigbare dubbelkajuit as 't ware. Die NP300 Hardbody het ’n paar nuwe kenmerke bygekry en sy veiligheidstoerustingvlak is effens opgeskerp, maar feitlik of eerder in werklikheid is dit tien jaar terug se tegnologie met ’n hedendaagse prys en n vars naamplaatjie.

Die binneruim van die NP300

Binneruim

Die NP200 is pure Logan aan die binnekant. Materiale is sindelik en van ’n goeie kwaliteit; daar is baie ruimte, meer as wat jy sal kry in die Corsa- of die Bantam-bakkies. Die paneel se uitleg is goed en duidelik; al wat effens gepla het, was die kontroles vir die lugversorger en waaier wat baie laag op die voorste paneel gemonteer is. Die kontrole om die twee syspieëltjies te verstel. is ook onder die handremhefboom weggesteek, bietjie onprakties. Die paneelbord het blink, harde plastiekinsetsels wat nie sleg lyk nie, maar dit kon meer duursaam gewees het. Daar is twee lugsakke, elektriese vensters, lugversorging en ’n radio-CD-speler, alles goedjies wat deesdae standaard op alle motors behoort te wees. Die paneelkassie is heeltemal groot genoeg en daar is ook bêreplekkies in die deure, maar die NP200 se grootse partytjietruuk is die spasie agter die sitplekke. Daar is letterlik hope spasie, 300 liter om presies te wees. Met die sitplek effens vorentoe geskuif kon ek maklik my kleintjie se skooltas agter die sitplek inkry. Die NP300 se binneruim sal party mense sê is luuks, maar weereens alles wat jy in die NP200 kry is hier, die radio-CD-speler is net meer fênsie soos die Ingelsman sê en daar is natuurlik twee ekstra deure want ons model was die dubbelkajuit. Alles is byderhand en gemakliker om by te kom as in Kleinboet. Hierdie is ’n regte Nissan, of sal ek sê ‘n regte ou Nissan, enige een wat al binne-in ’n Hardbody gesit het, sal tuis voel in die NP300. Die binneruim se afwerking  is goed met niks wat skeef is of uitrafel nie, maar in die prysklas het ek meer van die NP300 verwag.

Op die pad

My eerste kennismaking met die NP200 was ‘n effense teleurstelling omdat ek meer verwag het van die ritgehalte en veral die kraglewering van die 1600-bakkie. Dis nie asof die bakkie ongemaklik ry nie; dit is net asof daar nie genoeg krag is nie. Die NP200 deel die kragbron met die Logan, die verskil is net dat die Renault slegs 8 kleppe en ‘n enkele bo-nokas het,  en dan ook 13 KW minder krag lewer, maar tog voel die Logan kragtiger.  Die NP200 se rygerief is ook baie harder as dié van die Opel Corsa Lite of die baie ouer Ford Bantam.  Insittendes van die NP200 is gerieflik met baie spasie en genoeg bêreplekkies; die stuur is direk en gee genoeg terugvoer met ‘n effense onderstuurgevoel as jy bietjie die regtervoet vinnig in ’n draai neersit. In teenstelling met die NP200 is die NP300 se binneruim heelwat meer kompak. Dit is nou wel ‘n dubbelkajuit, maar die agterste passasiers se beenspasie is beperk, veral gemeet aan die ander motors in die klassegment. Die Hardbody stuur maklik, rondomsig is goed. Alles is egter net nie gemaklik genoeg nie. Vergelyk nou maar die Tata Xenon met die Hardbody, en  ja, dit is die kompetisie, nie die Isuzu’s en Toyotas nie, hulle is heelwat meer gevorderd en modern. Nissan se Nivara-reeks ding daar mee. Die Xenon se rygerief is beter, die spasie binne is beter en die toerusting is op dieselfde vlak behalwe vir die afwesigheid van lugsakke in die Xenon. Dit is asof daar ‘n groter verfyndheid by die Xenon is as by die Hardbody. Die hele voertuig voel net oud, selfs oudmodies.

Die oue en die nuwe langs mekaarEnjin

Soos ons vroeër opgemerk het, word die NP200 deur ‘n 1,6 liter-, brandstofingespuite 16-klepenjin aangedryf. Die eenheid lewer 77 Kw. wat nie sleg is nie, vergeleke met die Opel se 79 Kw van 'n 1,8-literenjin en Ford se 70 KW van 'n enkele bo-nokas-1,6-liter in die Bantam, is dit baie goed. Die enjin klink glad en loop stil; hy is gekoppel aan ‘n 5-spoedhandratkas wat sekuur skakel en redelike lang ratverhoudings om natuurlik die 800kg drakrag te hanteer. Beide die Ford en die Opel voel net losser, sterker, al is hulle nie. Wat die Ouboet betref, het Nissan nou die befaamde 2,5 liter “common rail turbo diesel” uit die Nivara in die Hardbody se neus ingedruk.  Dié is ‘n enjin wat op vyftig jaar se ondervinding en ontwikkeling gegrond is. Met ‘n verplasing van 2488cc en net een nokas ontwikkel die NP300 98Kw en 304Nm se wringkrag. Dit is indrukwekkend en vergelyk baie goed met die Xenon se 2,2-liter-dieseleenheid wat 103Kw en 320Nm  se wringkrag uitsit. Die NP300 se YD25 soos Nissan hom noem is naas die Xenon die kragtigste enjin in die klas.

Prys

NP200

Na ons mening is alle motors tans te duur; vergelyk jy ons motors met dié in ander dele van die wêreld sal jy sien dat daar plek-plek ’n ligpunt vir die plaaslike motorbedryf bestaan. Ons weet die ekonomiese krisis het die hele wêreld en veral die motorbedryf geruk. Om ’n bakkie soos die NP200 1,6 SE teen R154 900 te verkoop terwyl die Renault Logan waarop hy geskoei is meer bied en duurder is om te vervaardig jou slegs R119 000 sal kos,  is nie snaaks nie. Die feit dat die Logan 8 kleppe minder het, regverdig nie ’n verskil van bykans R36 000 nie. Maar parkeer nou die NP200 langs sy mededingers, die Opel Corsa Utility 1,8 Sport wat R188 000 kos en die Ford Bantam1,6i XLE wat R163 000 kos, dan lyk die NP200 na winskoop. Neem ook in ag dat al drie hierdie bakkies plaaslik vervaardig word, ai tog.

NP300

Wat Ouboet aanbetref, is dit ook meer van dieselfde. Die NP300 Hardbody word ook plaaslik vervaardig. Ons toetsmodel is die NP300 2,5 TDi HI-RIDER 4x2 en teen R282 500 wonder ons of die Tata Xenon2,2 Dicor 4x2 teen R212 000 nie ’n beter kopie is nie.  Of nog beter, as jy werklik ’n Nissan-dubbelkajuit wil hê, bestee eerder R17 000 meer en koop die Nivara 2.5 dCi 4x2 dubbelkajuit (R299 900); dit is ’n veel beter voertuig as die NP300 teen bykans dieselfde prys.

Laas Opdateer op Donderdag, 04 Maart 2010 08:45

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL