praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Motors Motornuus

Dis ’n Benz, en ja, dit is Kuns

E-pos Afdruk PDF

Benz Cabriolet

Vertoef ‘n oomblik om saam met my die hoed te lig vir een van die twintigste eeu se uitstaande kunstenaars – Paul Bracq. Dis Bracq, nie Braque nie. Ek het onlangs weereens die uitsonderlike vreugde gehad om een van sy kunswerke vir ‘n paar kosbare oomblikke te sien. Dit was in die Noordelike pelse-en-pondevoorstede van Johannesburg, ná ‘n halfdag se rondry, akuut verveeld om net nóg ‘n Lamborghini, net nóg ‘n 911 Porsche, net nóg ‘n Audi R8 te sien, om van BMW M5’e, Range Rover Malemas en allerlei rooi Ferrari's nie te praat nie. En daar was dit, statig swewend uit ‘n systraat: ‘n Mercedes Benz W112-koepee, ivoorkleurig. So grasieus en solied soos Roger Federer se agterbaanspel en so elegant soos... ûh soos Roger Federer. Of soos Hugh Grant.

Dié, as stylbewuste pierewaaier, het een gery in The Diary of Bridget Jones. Dit was nie die W112 se enigste filmerkenning nie. Justin Bartha se karakter het een geleen by sy aanstaande skoonpa in die onlangse ribkrakerkomedie, The Hangover. Die motor was die onbetwiste ster van die rolprent.

“Benze word gery deur dokters en slagters,” word daar in Beiere gespot. (Hou net in gedagte dat die “B” in BMW vir “Beierse” staan.) Mercedes-Benz het ongetwyfeld, en het vir talle dekades nou al, die reputasie dat dit goedontwerpte en wonderlik vervaardigde motors is – maar dat dit bietjie tekort skiet in die panache-afdeling. Wat ‘n gruwelike wanvoorstelling van die feite! Mercedes-Benz het nog altyd die vermoë gehad om die wêreld se asem weg te slaan met flambojante nuwe aanbiedinge, soos die legendariese meeuvlerkkoepee van die 50s of enige van die SL-modelle. Dis net Benz wat ‘n SLK-karretjie se enjin ruim sal volstop met ‘n knoorse V8 soos hulle befaamde 6,3-liter. En sê wat jy wil van 2005 se CLS “vierdeurkoepee” – dis baanbrekend en sal oor vyftien jaar nog net so vars en uitspattig as tans vertoon. Panache! Ga! Ja! En debonair en suave en elke ander Franse uitdrukkings vir hierjy! waaraan jy kan dink.

Die Daimler-Benz-manne het boonop die vermoë gehad om nie net iets vars uit niks te maak nie, maar om ‘n bestaande motor met ‘n paar vlugtige hale van potlood en gradeboog in iets nuuts en besonders te verander. Die tweedeur-W111/2 het geensins nuwe tegnologie na die vertoonkamer gebring nie. In 1959 het die Stuttgarters ‘n groot outomotiewe sprong met die W111- en W112-sedanmotors gegee. Hierdie motors was wonderlik geskape, in die beste Benz-tradisie, maar hulle was ook heel vernuwend, met ‘n eenheidsbakontwerp met frommelstroke en versterkte passasiersruimtes vir ongeëwenaarde veiligheid, en die laespilpuntswaai-as vir die agterste suspensie wat hulle by die legendariese SL300 geleen het. Die uitstaande uiterlike ontwerpselement was die twee kattebakvinne wat die vlerkies was in die sogenaamde vlerkies-Benz.

Die gewigtige denkers in Daimler-Benz se agterkamers het teen hierdie tyd die agterkant van hulle potlode gekou oor ‘n vroeëre verskynsel. Hulle het opgemerk dat een manier om ʼn Mercedes-Benz meer begeerlik te maak, is om twee van die deure weg te vat. Dié taak is oorgedra aan ʼn jong nuwe ontwerper wat Citroen in 1957 vir Benz verlaat het: Dieselfde Paul Bracq waarvoor ek so flussies my hoofdeksel verwyder het. Hy was vir die vlerkies-Benz wat Edward Scissorhands vir ‘n struik was en het begin deur die vlerkies van die Benz te verwyder. Wat oorgebly het, is ‘n lang, slanke horisontale staaf, ‘n motor van sulke onderbeklemtoonde swierigheid, sulke eenvoudige sierstyl, jy moet kyk, en weer kyk, om die suiwer elegansie daarvan in te neem. In koepeegestalte is die motor sjarmant; as cabriolet is dit verruklik.

Spoed was nooit ‘n oorweging nie en hierdie tweedeurkoetse is aanvanklik rustig aanbeweeg deur ‘n onderpresterende 2,2-liter wat 100 kilowatt vir die 220SE W111 ontwikkel het, en ‘n drieliter-, 134-kilowatt- reguitses vir die 300SE W112 (wat ook met lugsuspensie gepronk het). Die 220SE het later die 250SE geword en toe die 280SE wat een van die beroemdste enjins van alle tye, Mercedes-Benz se klassieke 2,8-liter, enkelbonokas, bevat het. ‘n 3,5-liter-V8 is later bygevoeg en dié variante is raaiselagtig genoeg die 280SE 3.5 genoem.

Selfs met die tweederdedosyn onder die vel, was die W111/2’s nooit blitsmotors nie. Maar die rygenot, en meer nog, die ferm knusheid waarmee jy daarin ontvang is, was prima gehalte. Dit het die diep duursame genot van ‘n hereklub verskaf, die skimp van duur whiskey en duurder sigare, van gedempte klassieke musiek en onverganklike letterkunde. Dit bring ‘n vertroue in die soliditeit daarvan, ‘n verwondering oor die duursaamheid en ‘n onaantasbare gevoel dat jy betyds sal wees vir al die belangrike afsprake van jou lewe, al haas jy jou nie.

Daar is ‘n presiesheid aan die groot motors, en ‘n verbasende gewillige ratsheid. Wys hom waar om te gaan, en hy gaan. Ek het die buitengewone vreugde gehad om een ‘n bietjie swaarvoet te gee oor Ou Kaapse Weg met die M3 langs in De Waal-weg in tot in die middedorp van Kaapstad. Dis ‘n swaar voertuig maar het baie asem en as hy eers op spoed is, verslind sy die pad in ‘n moeitelose vaart. Daar is geen sug en sak deur die draaie nie; die kinkels word eerder met ‘n soort minagting uitgestryk. Die vierspoed- outomatiese ratkas kliek nie geruisloos soos Chrysler se Torqueflite van dieselfde jare oor nie, maar met ‘n netjiese, presiese knik. En wanneer jy die hokaai inskop, gryp die uitstekende remme vas en die groot motor stop met ‘n verstommende gedienstigheid op die daad.

As ‘n mens mag droom, laat ons hieroor droom: In die tydvak van die W112 was die klein V8 wat hulle gebruik het nie die enigste een in Benz se pakstoor nie. Hulle het ‘n monsterenjin, die 6,3-liter wat in hulle 600-limousine gebruik is, tot hulle beskikking gehad. ‘n Betreklik kranksinnige eksperimenterende ingenieur, Erich Waxenburger van D-B, het een daarvan in ‘n W109, wat nie veel van die W112 verskil het  nie, ingeknars. Dié motor was bekend as die 300 SEL 6,3 en was die vinnigste sedan van sy tyd wat die 100 km/u-kerfie in net oor die sewe sekondes kon afransel. Daar is natuurlik kenne gevryf en gepeins of hulle dieselfde guns vir die W112-koepee sou doen. Maar daar is daarteen besluit. Netnou vang ‘n Benz-eienaar iets so onbesonne aan as om ‘n Jaguar E-type daarmee op ‘n knop te jaag en dit sou net te vulgêr gewees het. Maar ai...

Niks se ge-ai nie. Die  motor het dit nie nodig nie. Met ‘n groter enjin sal jy jou bestemming gouer bereik. En gegewe die rygenot van die W112-tweedeur, wat is die sin dáárvan?

Prost, Herr Bracq! En dankie vir die vreugde!

Laas Opdateer op Vrydag, 09 Maart 2012 09:22

Jeep Compass 2.0 Limited

E-pos Afdruk PDF

Die Compass is die kleinste in die Jeep-stal en word aangedryf deur ‘n 2-literpetrolenjin met voorwielaandrywing. Wag ‘n bietjie, ‘n Jeep wat tweewielaangedrewe is, ja, dit klink snaaks, maar dit is hoe die tye verander het.

In die Limited-baadjie is die Compass nogal goed toegerus: Swart leerbekleedsel regdeur die motor met ‘n goeie gehalte plastiek vir die deurinsetsels en die voorpaneel laat die Compass duursaam vertoon.

Daar is chroominsetsels op die ratkierie en luginlate. Die Compass se vyfspoedhandratkas help om die klein Jeepie ‘n puik brandstofverbruiksyfer van 8,9/100km te gee. Kraglewering is 115 Kw en daar is 190 Nm wringkrag beskikbaar.

Binnelangs is die Compass redelik gerieflik met elektries verstelbare sitplekke wat kan warm word, leer, outomatiese hoofligte en reënveërs. Daar is meer as genoeg bagasieruimte vir ‘n gesin van vier. Die klein Jeepie lyk van voor af ook op ‘n druppel na die groot Grand Cherokee, wat een van ons gunstelingveldvoertuie is.

Rygerief en kraglewering is puik. En kyk ‘n mens na die prys, dan is dit ook uitstekend teen R275 000. Mededingers is hoofsaaklik die Hyundai iX35 2.0 4x2 en die Kia Sportage 2.0 4x2. Ons gee die Jeep Compass 2.0 Limited 4 uit 5.

Laas Opdateer op Dinsdag, 21 Februarie 2012 22:08

Motor-van-die-jaar 2012

E-pos Afdruk PDF

Die tien finaliste in 2012 se Motor-van-die-jaar-wedstryd is so pas bekendgemaak. Die motors is:

  • Alfa Romeo Giulietta 1.4 125 kW MultiAir Distinctive
  • Audi A6 3.0 T TDI Quattro S tronic
  • Citroen DS4 THP 200 Sport
  • Ford Focus 2.0 TDCI Trend Sedan Powershift
  • Hyundai Elantra 1.8 GLS
  • Kia Picanto 1.2 EX
  • Mercedes Benz SLK 350 BlueEFFICIENCY
  • Peugeot 5008 2.0 HDi Active Man
  • Suzuki Kizashi 2.4 SDLX Man
  • VW Jetta 1.4 TSI 118 kW Highline

Die Gilde van motorjoernaliste sal in Februartie 2012 twee toetsdae hou om die koring van die kaf te skei.

Intreevlakoorlog!

E-pos Afdruk PDF

Suid-Afrikaners is baie lief vir luikrugmotortjies en daar was nog nooit vantevore so ‘n groot verskeidenheid van juis dié tipe rygoed soos tans nie. Ons het ‘n paar van die klein motortjies onder hande geneem. Alhoewel die vier motortjies waarmee ons rondgerits het weliswaar nie direkte teenstaanders is nie, dink ons tog die publiek kyk met hulle beursie na wat beskikbaar is. Vervaardigerslojaliteit is ondergeskik aan die waarde en kwaliteit wat die publiek in ‘n spesifieke motor kry.

Ons vier motors is die Toyota Yaris Zen 1 5-deur, Nissan Micra 1,5 Tekna, Suzuki Swift GLS en die Renault Sandero 1,6 Dynamique.

Toyota Yaris

Toyota Yaris Zen 1 5-deur

Met die koms van nuwegenerasie- intreemotortjies, hoofsaaklik uit Korea en Sjina, moes die Japannese iets doen om die Yaris meer bekostigbaar te maak. Daar is natuurlik ook die VW Polo Vivo en Chevy Spark Lite, asook die Ford Figo wat almal vorigegenerasiemodelle is. Met die koms van Toyota se eie Aygo was daar ruimte om die bestaande Yaris=reeks goedkoper te maak, bietjie anders te verpak met ‘n nuwe enjin en bakklere en siedaar, Toyota speel saam! Die Yaris Zen is beskikbaar in twee bakvorms, die luikrug en die 4-deursedanweergawe. Die luikrug is dan ook verder beskikbaar in óf ‘n 3-deur- of ‘n 5-deurmodel. Die Zen 1, wat as die intreemodel bemark word, is toegerus met 3 deure en ‘n baie kranige 1000cc- 3-silinderenjin met 12 kleppe wat 51 Kw en 93 Nm se wringkrag ontwikkel. Daar is brandstofinspuiting en wat veiligheidskenmerke betref, is die Zen 1 met dubbele lugsakke en ABS-remme toegerus, tesame met elektroniese remverspreiding sodat die karretjie darem met al vier wiele gelyk ewe hard rem. Toerustingvlakke is maar aan die skaars kant: daar is wel ‘n radio met vier luidsprekers, die kantruite word met ‘n slinger opgedraai en die syspieëltjies met die hand verstel. Ons toetsmotor was met die opsionele lugversorger, asook silwer metaalverf toegerus. Die vellings is staal met moderne plastiekwieldoppe. Die Yaris is maar ‘n klein motortjie. Hoewel daar plek is vir 5 insittendes, sal dit sal nie vir baie ver moet wees nie. Wat die rygerief aanbetref, was ons nie baie beïndruk met die kraglewering nie. Die motor haal gemaklik enige wettige spoed wat binne dorpsgrense gery mag word. Selfs ‘n togspoed van 120km/u word gemaklik behaal wanneer daar slegs ‘n bestuurder in die motor is. Dit is die manier hoe die motor op spoed kom of dan die gebrek daaraan wat baie ongemaklik is. Dan kom ons by die prys van R128 800 vir die Yaris 3-deur-Zen 1. Ons toetsmotor was die 5-deur-Zen 1 met lugversorging en radio. Toyota kon my nie ‘n prys vir die spesifieke model gee nie, maar ons skat dit moet êrens tussen R128 800 en R140 000 wees waar die Zen 3 met sy 4-silinderenjin op die prysleer staan. Selfs teen R128 800 dink ons die Yaris is te duur vir wat jy in die motor kry. Die feit bly staan dat jy ‘n VW Polo Vivo 1.4, 3-deur met radio en lugversorging kan aanskaf vir R104 000 of die 5-deur-Polo Vivo teen R116 000, asook die Ford Figo 1.4 Ambiente insgelyks met ‘n radio en lugversorging en dit is reeds ‘n 5-deur teen R117 500. Dit is bykans R11 000 goedkoper as die Yaris Zen 1. Ons gee die Yaris ‘n 2-uit-5-telling.

Renault Sandero 1,6 Dynamique

Renault Sandero 1,6 Dynamique

Renault se Sandero-reeks is baie gewild, juis oor die waarde wat die voertuig bied. Die Sandero word ook plaaslik in Pretoria vervaardig. Die motor is ‘n kompakte model, maar daar is heelwat meer spasie in die karretjie as in enige van die ander waarmee ons rondgery het. Bougehalte is goed en ek kon amper nie glo hoeveel waarde die motor bied nie. Die verskil tussen die Renault Sandero en die ander motors hier is so duidelik soos daglig. Renault het duidelik ook geprobeer om die prys so laag moontlik te hou deur onnodige toerusting weg te laat, maar dit verteenwoordig nog steeds ooglopend meer waarde vir geld as enige van die ander motors hier. Ons toetsmotor was toegerus met elektriese vensters voor, lugversorging en radio, sentrale sluiting vir die deure, 15-duimallooivellings en ‘n veel moderner afwerkingsgevoel binne as die Yaris. Die Sandero het ook ‘n 320-literbegasieruim wat letterlik drie keer so groot soos die Yaris s'n is. Daar is ‘n aanboordritrekenaar wat jou inlig omtrent brandstofverbruik en buitetemperature, ‘n USB-sok om jou geheuestokkie in te sit vir musiek, wegvoubare gesplete agterbank om die begasieruim te vergroot, kinderslotte agter en selfs ‘n plekkie om jou Ipod  by die radio in te skakel. Ons toetsmotor was ook toegerus met ‘n 1,6-literenjin wat 64 Kw en 128 Nm se wringkrag lewer. Heelwat meer motor teen slegs R124 900. Rygerief is ook uitstekend en ek het nie eenkeer gevoel ek benodig meer krag om die motor tot op 60km/u  te kry nie. Die Renault Sandero 1,6 Dynamique is werklik goeie waarde vir geld met hope ruimte, in so mate dat dit as die gesin se enigste motor gebruik kan word. Ons gee die Sandero ‘n 3-uit-5-telling.

Nissan Micra 1,5 Tekna

Nissan Micra 1,5 Tekna

Nissan se splinternuwe Micra is baie meer konserwatief as sy voorganger. Die jongstegenerasie-Micra trek baie op die oorspronklike Micra van die laat negentigerjare. Die lelike ronde goggakarretjie het plek gemaak vir ‘n baie meer volwasse konvensionele voorkoms. Die Micra is nou so konvensioneel dat hy sommer maklik misgekyk word in ‘n parkade vol motors. Soos in die geval van al Nissan se klein motortjies het die Micra ook baie meer ruimte binne as wat dit van buite af lyk. Die binneruim is werklik ruim en gemaklik. 'n Mens kan amper sien dat die Micra en die Sandero neefs is as dit by binneruimspasie kom. Die Micra is beskikbaar in vyf verskillende afwerkings, almal met dieselfde bakvorm, ‘n 5-deurluikrug. Ons toetsmotor was die luuksste 1,5-petrol- Tekna-weergawe. Die motor bied elektriese ruite, spieëls en outomatiese lugversorger tesame met ‘n radiokompakskyfspeler wat óor 'n USB-sok beskik. Misligte voor en agter, asook reënsensors vir die voorruit, bakkleurverf op die spieëls en buffers kan genoem word. Die prentjie word voltooi deur outomatiese hoofligte en ’n string veiligheidskenmerke, onder andere dubbele voorste lugsakke en kantluggordyn, tesame met ABS-remme met remverspreiding en remdrukbeheer, asook slim sitplekgordels wat jou stywer in die sitplek intrek milliesekondes voor ‘n botsing plaasvind. Die Micra bestuur baie gemaklik en daar is oorgenoeg woema van die 1,5-literenjin wat 73 KW en 134 NM se wringkrag ontwikkel. Die motor is werklik gemaklik om te bestuur en die klein vyftienhonderdenjintjie loop stil en glad. Teen R143 400 is die Micra ‘n baie goeie kopie veral gemeet aan sy mededingers in die segment: die VW Polo 1,4 Trendline verkoop teen R149 400 en bied 10Kw minder, geen radio, slegs elektriese ruite voor, staalvellings en swart kantspieëls; die Chevy Aveo 1,6 LS verkoop teen R149 800 en bied 4 Kw meer as die Micra en standaardtoerusting is dieselfde as die Micra. Peugeot se 207 Popart is die ander mededinger wat baie naby aan die Micra kom met ‘n pryskaartjie van R142 900. Die klein leeutjie bied ook ‘n volhuis van toerusting en ‘n 1,4-literenjin wat 54 Kw en 118 Nm se wringkrag lewer. Ons gee die Nissan Micra 1,5 Tekna 4 uit 5.

Suzuki Swift GLS

Suzuki Swift GLS

Al ooit gehoor van ‘n groot motor in ‘n klein bakwerk? Wel hierdie is seker die beste klein motortjie in Suid-Afrika. Die hele gevoel binne en buite die motor is prima. Kyk, Suzuki was nog nooit ‘n primavervaardiger nie; hulle spesialiseer juis in klein bekostigbare, betroubare voertuie. Die Swift voel net strate beter en groter as enige iets anders onder R200 000. Ons wil selfs sê motors tot by R250 000 gaan sukkel om by dié klein juweeltjie kers vas te hou. Die binneruim is klein, of sal ons sê kompak, ruim genoeg vir 5 insittendes, maar glad nie gebou vir lang ritte en baie begasie nie; hierdie is ‘n stadsmotortjie. Ons moet bieg, die Suzuki Swift het homself oor baie lang afstande bewys; dit was nou in die hande van ‘n kollega by ‘n sekere motorprogram op die televisie toe hulle ‘n hele 6000km in ‘n Swift afgelê het om van Perth aan die weskus van Australië tot by Cairns aan die ooskus te ry sonder enige probleme. Die verpakking van die motor is net eenvoudig ongelooflik. Die enjingeraas of sal ons sê, die gebrek aan enjingeraas, is baie opvallend; die manier hoe die deure oop en toe maak, die geluid waarmee die deure oop en toe maak, alles is uit die boonste rakke. Die Swift GLS is die middelste model in die Swift-reeks, daar is ‘n GL-spesifikasie wat bietjie minder bied en dan die GLS outomaties wat met ‘n outomatiese ratkas toegerus is. Teen R169 900 is die GLS nie goedkoop nie, maar gemeet teen mededingers soos die VW Polo 1,4 Comfortline teen R171 700 of die Peugeut 207 1,4 VTi teen R169 000, die Hyundai i20 GLS teen R169 900 en die Mazda 2 1,5 Dynamic teen R192 690 vaar die Swft besonders goed, veral as die bougehalte en toerustingvlakke in ag geneem word. Ons toetsmotor se 1, 4-literenjin ontwikkel 70 Kw en 136 Nm se wringkrag. Dit is egter die pakket in sy geheel wat so indrukwekkend is en ons glo iemand wat in die mark is vir ‘n klein dog luukse ryding sal ‘n groot fout begaan om by die Suzuki-handelaar verby te ry. Ons gee die Swift GLS 5 uit 5.

Ons plaas dus die motors soos volg:

  1. Suzuki Swift GLS
  2. Nissan Micra 1,5 Tekna
  3. Renault Sandero 1,6 Dynamique
  4. Toyota Yaris Zen 1 luikrug 5-deur
Laas Opdateer op Woensdag, 24 Augustus 2011 14:11

Lexus betree die Premium C-segment met die nuwe CT200h

E-pos Afdruk PDF

Die Lexus CT200h van voorMet motors wat deesdae net soveel soos huise kos, is die splinternuwe Lexus CT200h baie meer groen as wat jy dink.

Daar is ander vervaardigers wat groen motors bou, maar almal het dit eintlik maar net afgekyk by Toyota. Die Toyota Prius is die oorspronklike groen motor met sy spontane krag wat van sowel ‘n klein elektriese motor as ‘n klein petrolenjin afkomstig is.

Lexus is deel van Toyota en tegnologiese ontwikkeling word uiteraard met Toyota gedeel. Die splinternuwe Lexus CT200h is ‘n vars bries in die premium-C-segment vir luikrugte. Dit is nou motors soos die Audi A3 en BMW 1-reeks waarmee Lexus hoop om mee te ding. Daar is net een vangplek: beide die Duitsers is gewone motors wat óf deur ‘n hoogtegnologiese  petrolenjin óf ‘n nog meer indrukwekkende dieselenjin aangedryf word. Lexus het met die CT200h die skoner, sagter, gladder petrolweg, gekombineer met ‘n redelike sterk elektriese motor, gevolg. Hierdie is ‘n luikrug en dan ook die enigste premiumluikrug in die land wat van hibriede krag gebruik maak. In egte Lexus-tradisie is die nuwe CT200h baie goed aanmekaar gesit met gehaltestowwe wat oral in die binneruim waarneembaar is. Al die paslyne is soos ons gewoond geraak het aan Lexus so te sê volmaak. Daar is ook, soos dit van ‘n motor in dié klas verwag word, byna alles wat elektronies oop en toe maak.

Modelle

Die nuwe CT200h is beskikbaar in twee weergawes, CT200h S en die CT200h F-Sport. Beide modelle is toegerus met ‘n outomatiese ratkas en word deur die voorwiele aangedryf. Die enjins is ook identies met ‘n 1,8-literpetroleenheid wat 73 Kw by 5200 omwentelinge ontwikkel plus dan die fris elektriese motor wat sowat 60 Kw en 207 NM se wringkrag byvoeg. Die gesamentlike totale kraglewering van die motor is 100Kw met  349 Nm se wringkrag. Die feit dat daar sowat 33 KW in die hele proses van die sinergie tussen die petrol- en die elektriese motor verlore gaan, is toe te skryf aan die verskillende komponente wat krag van beide enjins af benodig om basiese funksies te behartig. Daar is ‘n draaiknop in die middelkonsole waarmee die bestuurder kan kies of hy in sport, ekonomie of normaal wil ry. Daar kan ook met die druk van ‘n ander knop selfs net op elektriese krag met die CT200h gery word. Die hele stelsel is heltemal geïntegreer en die motor sal jou toelaat om in druk verkeer slegs met die elektriese motor te ry solank die spoed net onder 45km/u bly. Lexus gee dan ook die brandstofverbruik aan as 4,1 l/100km in die gekombineerde siklus. Die F-Sport-modelle het ‘n paar klein kenmerke anders as die gewone S-model. Daar is byvoorbeeld F-Sport-kentekens, groter bande en ander sierwiele, groen bamboesluidsprekers en -versterker. Die F-Sport se instrumentepaneel verander van ‘n kragmeter na ‘n toereteller as hy in die sportmodus bestuur word. Die hele motor hurk baie laag met ‘n aggressiewe houding wat dit sommer baie sportief laat vertoon.

Die Lexus CT200h van agter

Ruimte

Vir ‘n luikrug is die Lexus CT200h baie ruim al is hy slegs 4,3 meter lank. Vyf volwassenes kan gemaklik in die die motor pas. Die bagasieruim word aangegee as 375 liter wanneer die sitplekke regop is en 985 liter wanneer die agterste sitplek plat gevou is.

Verrigting

Met die sowat 100Kw se krag versnel die CT200h tot by 100km/u in slegs 10,3 sekondes en word beperk tot ‘n maksimum snelheid van 180km/u. Uitlaatgasse is slegs 94g/km wat onder die 100 g/km van die wet is. So daar is in dié geval geen belasting op uitlaatgasse betaalbaar nie.

Pryse

Lexus gee die pryse by die bekendstelling aan as R343 300 vir die intree-S-model en R398 500 vir die F-Sportmodel.

Laas Opdateer op Sondag, 14 Augustus 2011 12:32

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL