praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Friday, 10. February 2012

Bygewerk op:05:30:08 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar Gekoring agter die stuurwiel

Gekoring agter die stuurwiel

E-pos Afdruk PDF

Die Wes-Kaapse departement van vervoer het pas die kwessie van dronkbestuur, en die probleme wat dit teweeg bring, onder die aandag gebring. Sover vanjaar is 2 000 mense in dié provinsie vir dronkbestuur gearresteer, waarvan 96 die afgelope naweek. Altesaam 296 mense het dié jaar reeds op die provinsie se paaie die lewe gelaat, terwyl dronkbestuur en snelheid die twee hoofoorsake hiervoor is. Baie van die sterftes is ook die gevolg van dronk voetgangers, wat nie sonder meer voor die motoriste se deur gelê kan word nie.

Die 2 000 arrestasies vanjaar is effens misleidend, aangesien daar die vorige jaar meer as 12 000 dronkebestuurgevalle in die Wes-Kaap was. Met 242 gevalle per 100 000 van die bevolking, is die Wes-Kaap die provinsie wat meeste wetstoepassing op dié terrein doen. Limpopo met 31 per 100 000 is die provinsie wat die minste doen, terwyl die land se gemiddeld op 115 per 100 000 staan.

Uit aanvullende syfers soos padongelukke en die moordsyfers – wat immers ook dikwels drankverwant is – is dit duidelik dat dronkbestuur nie so ‘n unieke Wes-Kaapse verskynsel is nie, maar wel die vlakke van wetstoepassing.

Die Wes-Kaap se 242 per 100 000 is byvoorbeeld dubbel die Gautengse syfer.

Volgens die nie-regeringsorganisasie, Suid-Afrikaners teen dronkbestuur, word juis so baie dronkbestuur omdat daar so maklik mee weggekom word. Die organisasie gaan egter voort en beskuldig die howe van ‘n te sagte benadering, en dat dronkbestuurders veel laer boetes opgelê word as wat die wet voor voorsiening maak.

Ander faktore dra by tot die padsterftesyfer, soos padtoestande en die padwaardigheid van voertuie. Hoe knapper die ekonomie raak, hoe ouer word die gemiddelde ouderdom van voertuie op die pad.

Verskeie internasionale studies toon hoe groter ‘n land se inkomstegaping groei, hoe meer maatskaplike probleemtoestande ontwikkel, en is ‘n newe-effek dat die tronke voller word. Ook hierin speel drankgebruik ‘n rol.

Van die syfers sluit ook bestuur onder die invloed van dwelmmiddels in. Wat die kategorie dwelmverwante misdrywe betref, staan die Wes-Kaap ook hier kop en skouers bo die res van die land uit, met meer as ‘n 1 000 gevalle per 100 000. Ook hier is die syfer vir Limpopo besonder laag, naamlik 63, maar Mpumalanga met 46 per 100 000 is nog laer. Dit klop nie met die aanwesigheid van grensposte en die algemene gebruik van dagga nie.

En ook dié probleem verwoes lewens.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: