praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Friday, 10. February 2012

Bygewerk op:05:30:08 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar Meer godsdiensvryheid vir Turkse Christene se politieke impak

Meer godsdiensvryheid vir Turkse Christene se politieke impak

E-pos Afdruk PDF

Amptelik is Turkye ‘n sekulêre staat, maar vele diskriminerende maatreëls teen Christene het dié beeld geknou.

Turkye was eens die bakermat van die Christendom. Nie net was Bisantium, later Konstantinopel, lank die hoofstad van die Oos-Romeinse Ryk en bakermat van die Oos-Ortodokse en ander kerke nie, maar val Tarsus, die geboortestad van Paulus ook in dié land.

Die eerste groot Christensinode, wat deur Keiser Constantyn byeengeroep is, is in die vierde eeu na Christus in die stad Nissea gehou.

Met die Turkse oorname van die land het sake egter baie verander, en na die Jong Turke die bewind vroeg in die vorige eeu oorgeneem en ‘n sekulêre staat uitgeroep het, het die Christen-Armeense volksmoord plaasgevind. Amptelik ontken die Turkse regering dit steeds, en selfs Turke wat in die buiteland, soos in Nederland gaan woon het, verseg om dié stuk geskiedenis te glo.

In 2007 is Turkye 35ste geplaas as land waar Christene die ergste vervolg word.

Nogtans het die aantal Christene geleidelik vermeerder, tot ‘n geraamde sowat 100 000, of sowat 0,3 persent van die bevolking.

Turkye wil graag deel van die Europese Unie word, en is reeds lid van Navo. Om lid van die EU te word, moet Turkye eers ‘n verbintenis tot norme toon wat met die handves van die EU versoenbaar is. Hieronder tel ‘n voorwaarde dat nie teen minderhede gediskrimineer mag word nie, en die Koerde – ook Moslems – wie se taal selfs lank verbied is, geniet nou meer vryhede.

Veral die Duitse regerende Christen-Demokratiese Unie het hom lank reeds sterk geïdentifiseer met die lot van Christene in Turkye, en reik gereeld mediaverklarings hieroor uit. Daarin is ook ongewoon baie reguit, vir tussenstaatlike taal, kaalkop die waarheid vertel.

Die jongste mediaverklaring lui egter ‘n effens ander deuntjie. Hierin word die Turkse religieuse leier,  Ali Bardakoglu, geluk gewens met sy versoek dat die St Peterskerk in Tarsus weer as plek vir Christelike aanbidding benut word. Dit is nou ‘n museum.

Ali het die eerste keer dié oproep gedoen toe die Turkse regering ‘n eendag-mis toegelaat het by die antieke klooster teen die Swart See, Duisende Christene uit lande soos die VSA en Rusland het hiervoor opgedaag. Ali, wat by die verrigtinge betrokke as, het toe verklaar dat Moslems onthuts is oor minarette wat in Westerse lande verbied word, maar nie insien dat Christene onthuts kan wees oor historiese kerke wat as museums ingerig is nie.

Die CDU het sy oproep as ‘n beduidende stap vir godsdiensvryheid genoem, en hoewel die hervormings van die laaste paar jaar geloof is, is ook gemeld dat nog baie gedoen moet word.

Dit is ‘n delikate situasie, en niemand kik byvoorbeeld oor die moontlikheid dat die antieke St Sofia-katedraal in Istanbul, wat vir bykans 500 jaar as moskee aangewend is voor dit ook ‘n museum geword het, weer as plek van aanbidding vir Christene herstel word nie.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: