“‘n Volk wat in sy onderwys belê, belê in sy toekoms.”
Hierdie ou waarheid is deur die dekades deur die Afrikaner ter harte geneem. Selfs in tye van bitter nood is gesorg dat die meester en sy lat aan diens is. Van die onderwysers en onderwyseresse het bitter karige salarisse gekry en moes by goedgesinde boeregesinne loseer om plaasskooltjies te beman.
‘n Pioniersgees het geheers om ‘n verslane volk weer te laat blom. Veral mense wat verkies het om nie die effens geriefliker pad van Milnerisme te loop nie, moes met bitter min geld aan die toekoms van hul jeug bou.
Van die leerlinge het so goed presteer dat hulle oorsee kon gaan studeer, en talle het wêreldklas-kwalifikasies by bekende universiteite in Nederland, Duitsland en Brittanje verwerf.
Pas het Newsweek ‘n opname gepubliseer dat Suid-Afrika in die lys van 100 beste lande, die 82ste plek behaal het. Meer kommerwekkend is dat die land die 97ste op die onderwysterrein haal.
Dit is lank reeds bekend dat Suid-Afrika se skoolstelsel nie dieselfde kwaliteit matrikulante oplewer as dié van sy bure nie. Universiteite ondervind veel minder oorbruggingsprobleme met studente uit sommige buurlande, soos Zimbabwe, as wat hulle sukkel om Suid-Afrikaanse studente op standaard te kry.
Die DA, wat die syfers aan die groot klok gehang het, wys ook daarop dat Suid-Afrika baie aan onderwys spandeer, en baie moeite met onderwys doen.
‘n Deel van die probleem is ‘n bestuursprobleem. Dit is ‘n jaarlikse verskynsel dat handboeke slegs met moeite hul weg van die store na die skole, en weer van daar na die leerders vind. Afrikaanse boeke wat verlede jaar met skenkersgeld uit België aangekoop is, het nou nog nie al die skole waarvoor dit bestem is bereik nie, en skynbaar kan niemand lig werp op waar die boeke hulle bevind nie. Uit vrees vir viktimisasie kan nadere besonderhede ongelukkig nie verskaf word nie.
Op die oomblik staak baie onderwysers ook, maar die groter probleem bly een van gesindheid. Terwyl sommige skole selfs onder baie moeilike omstandighede goed presteer, strompel ander van jaar tot jaar voort. Besoek ministers en LUR’e die skole, kom ook heelwat aan die lig – onderswysers, selfs skoolhoofde, en leerlinge wat bitter laat by die skole opdaag. In enkele gevalle was van die leerkragte so geswaai dat daar van onderrig geen sprake kan wees nie.
Leerkragte wat in die gees van meester van ouds baie hard werk en baie moeite doen, selfs opofferings maak, om die kinders wat aan hulle toevertrou is slaggereed vir die wêreld te maak, verdien om goed besoldig te word. Hulle verdien ook medaljes.
Die ander verdien saam met ‘n regering wat met die onderwys brou meester se lat op die bas.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





