praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar Knyptang-breekspul

Knyptang-breekspul

E-pos Afdruk PDF

Twee sake oorheers die afgelope weke die nuus sodat ander nuus soos misdaad effens noustrop trek om die pyp te rook – die landswye staking wat met geweld gepaard gaan, en die regering se aanslag teen vrye meningsuiting en mediavryheid.

In beide sake staan die regering sentraal, veral omdat die grens tussen regering en regerende party deurlopend geërodeer word.

In beide sake kan daar vandag ook wendings kom – die regering wat ‘n verhoogde salarisaanbod gemaak het na eers viervoet vasgeskop is, en SANEF wat hom tot die hof gaan wend omdat die parlement besluit het ‘n deel van die verrigtinge wanneer die SABC vandag op die rooi tapyt verskyn, sal agter geslote deure geskied.

Die huidige nuusstroom staan in skrille kontras met die nuusstroom van kwalik twee maande gelede toe bykans elke koerant rondom die sokkereuforie saamgestel is, en volgens berigte as gevolg daarvan ‘n 20 persent daling in verkope beleef het.

Op die hoogtepunt van die euforie het kenners teen die onvermydelike post-euforiese trauma gewaarsku. Hierdie doemprofete is afgemaak met die verskoning dat die land – veral die gewone mense – dit regtig nodig het om ‘n slag hul longe vol te trek. ‘n Tyd waar die onwaarskynlike kon gebeur waar Julius Malema se mond gesnoer was. Die doemprofete het ook gewaarsku dat die regering besig is om die euforie as skild te benut vir allerlei konkelwerk soos omstrede SEB-transaksies, tenderpreneurskap, die herontplooiing van gediskrediteerde kaders en veel erger.

Dit wat nou beleef word is die teksboek-voorbeeld van post-euforiese trauma. Bykans alles sal te kort en te lank wees. Frustrasies sal oorkook. Dit slaan ook neer in koerante se internet-kommetaar-kolomme en ander internetgedrewe ruimtes waar iedereen sy eiertjies kan kom lê. Die felheid waarmee mense onder mekaar inklim selfs waar die strydendes bykans volkome oor ‘n saak saamstem, is dikwels skokkend.

Die les is gewoon: Daar is nie in ‘n komplekse land soos Suid-Afrika ruimte vir swak en korrupte regering nie. Nog minder vir ‘n proses van donkerwerk wat konkelwerk oplewer, waar die regering statutêr die donkerte in die vorm van mediasensuur skep nie.

Die gevaar is dat, net soos met ‘n euforiese klimaat, uiters belangrike nuus so verswelg kan word dat kiesers werklik oningelig is as hulle die dag hul kruisies moet trek. Tot Agri SA se krediet is dié keer gou gereageer toe daar weer vanuit regeringsgeledere wanvoorstellings oor huidige grondbesit gemaak is, en tot krediet van die media wat Agri SA se reaksie op die fiktiewe syfers in die groenskrif gepubliseer het.

Die land kan gewoon nie bekostig dat wanvoorstellings en politieke retoriek as feite neerslag vind nie.

Maar om dit te voorkom verg ‘n verantwoordelike regering en ‘n vrye, onafhanklike media.

blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: