praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Friday, 10. February 2012

Bygewerk op:09:59:45 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar Groenskrif oor grond

Groenskrif oor grond

E-pos Afdruk PDF

Gevaarligte flikker helder rooi as berigte oor die voorgenome groenskrif oor grondhervorming enigsins in die kol is.

‘n Opsigtelike probleem, luidens ‘n berig in Rapport, is dat die groenskrif steeds van die veronderstelling uitgaan dat slegs 13 % van die grond in swart besit is, en 87 % in wit besit. Dit het blykbaar betrekking op alle grond in privaat besit.

Hoe die regering by so ‘n sommetjie kan kom sonder ‘n grondoudit, wat deur georganiseerde landbou versoek maar volstrek deur die regering geweier word, is onverstaanbaar. Verskeie opnames dui daarop dat die prentjie aansienlik anders daaruit sien.

Die bewoording klink verdag baie na ‘n blaps enkele maande gelede toe die Minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersson, in Rapport geskryf het dat met die aanbreek van die nuwe bedeling, dieselfde persentasies grond in wit aan die een kant, en swart, bruin en Indiër aan die ander kant, se besit was. Sy is in verskeie artikels reggehelp.

Dié syfers is opsigtelik ontleen van die ou persentasies waaruit die tuislande saam 13 % van die oppervlak beslaan het, en die res 87 %. Hierdie syfer kan kwalik as vertrekpunt gebruik word, onder meer oor die ligging van die land se droë dele, die feit dat die meeste natuurparke soos die Kruger Wildtuin en Kalahari-Gemsbokpark  ook in die 87 % geleë is, en dat staatsgrond, soos staatsplase en weermaggronde, dorpsmeente en vele meer kwalik na 1994 by sogenaamde blanke grond gereken kan word.

Om bruin grondbesit by die 13 % in te reken is moedswillig foutief. Bruin landelike gebiede soos die Richtersveld, Mier, Ebenhaeser, die Oppermansgronde en talle kleiner areas soos Thaba Patchoa, Genadendal en sowat 30 ander beslaan saam honderde duisende hektaar. Die groter gebiede is ook in droër gebiede.

Uiteindelik handel dit nie werklik oor ‘n paar persent hier en ‘n paar persent daar nie, dit handel oor die wyse waarop persepsies as feite opgedis word, en sodoende ‘n vraagteken plaas oor ander gegewens wat die beplande groenskrif gebruik. Is dit werklike onkunde – wat moeilik is om te glo nadat meer betroubare feite al soveel kere onder die regering se aandag gebring is – of blote moedswilligheid?

Die probleem is dat as daar eers onversigtig met ‘n stel feitefoute omgegaan word, erodeer dit die vertrouensposisie wat nodig is om die proses enigsins sinvol op die tafel te kan plaas.

Meningsvormers uit die liberale dampkring, soos Max du Preez en dr. Piet Croucamp, stel dit periodiek dat die kommersiële landbou dalk baie tot ‘n ontspanne klimaat oor grondhervorming kan bydra deur nie vir die regering te wag nie, en self in so ‘n program die leiding te neem. Die werklikheid is dat dit al verskeie kere probeer is, en selfs geïmplementeer is, maar by die regering die koue skouer, of hoogstens lippediens gekry het.

‘n Sinvolle beginpunt sou dalk wees om politieke retoriek en propaganda links te laat en met feite te werk.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: