praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar Gatgrawery

Gatgrawery

E-pos Afdruk PDF

Die regering maak steeds groot gewag van wat hy die opwelling van nasietrots gedurende die wêreldbekersokkertoernooi noem, en klop homself hiervoor op die skouer.

Tim du Plessis, redakteur van Beeld, het egter in ‘n radioprogram die skep van die sokkereuforie aan die media toegeskryf, en meen dit is reggekry ondanks, en nie danksy die regering nie. Reg of verkeerd, dit blyk dat die media hiervoor ‘n prys betaal het. In ‘n vroeëre uitgawe van dieselfde program is gemeld dat die media as gevolg van sy sokkerdekking ‘n twintig persent daling in sirkulasie beleef het.

Wat ook al die werklike feite, die punt is skynbaar dat die regering die myle wat dit uit die wêreldwye sokkereuforie kon kry, hopeloos oorskat het.

Die eindfluitjie het skaars geblaas, of die regering skop die media wat minstens ‘n baie belangrike rol in die sokkereuforie gespeel het met allerlei muilbandplanne in die tande. Die media reageer, en kort voor lank het die buitelandse media ook saam in die koor teen die regering begin sing.

Plaasaanvalle, wat periodiek vir Suid-Afrika baie skadelike publisiteit sorg, is na ‘n kort onderbreking voortgesit.

En toe breek die staakseisoen aan, en die regering maak rug styf.

Die werkers wat nou met die rug-styfmakery die spit afbyt, is die werkers wat aan die regering se versoeke gehoor gegee het om nie die sokkertoernooi te gebruik om groot verhogings af te dwing nie. Die stakers wat hulle aan die versoek afgevee het, het min of meer gekry wat hulle deur afpersing vermag het.

Daar is verskeie redes waarom die mense wat nou staak rede het om ongelukkig te wees. Behalwe dat hulle hul staking uitgestel het soos die regering versoek het, en nou daarvoor gepenaliseer word, word van hulle verwag om veel kleiner verhogings te aanvaar as wat die reeds oorbetaalde besluitnemers gekry het. Teen die agtergrond dat die soustreinryers groot verhogings kry, en hulle veel kleiner, is ‘n verwere dat daar nie geld is nie, of dat dit inflasionisties is, water op die eend se rug. ‘n Mens kan immers nie sosialisme predik, en kapitalisties uitvoer nie.

Boonop sien die en lees die stakers dat reeds bemagtigdes oor en oor die lang lootjies van SEB-bevoordeling trek. Fabelagtige bedrae word genoem in ‘n land waar baie mense ver onder die broodlyn leef.

Ook dit haal die buitelandse media, en die regering is tereg bekommerd en onthuts oor die slegte buitelandse publisiteit. Boonop kan die regering dié keer op min simpatie in die buitelandse media staatmaak, aangesien die einste media solidariteit betoon met die media in Suid-Afrika wat ‘n aanslag op mediavryheid in die gesig staar.

Dit is egter ook so dat die buitelandse media die lakens begin uitdeel het voor die huidige staking die elemente van geweld begin toon het. Hef aan in slegte publisiteit lê voor. Die regering is tereg bekommerd oor die geweld wat met die staking gepaard gaan, maar die vraag kan ook gevra word wat die regering eintlik verwag het sou gebeur om so sagkens met die verbale diarree van Julius Malema en ander om te gaan?

Wie distels saai, sal dorings maai.

Ongelukkig gaan almal op die dorings trap.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: